Sondag 13 November 2011

New Zeeland ditjies en datjies

Ek kom altyd so tien minute te vroeg by die werk aan (omdat ek bus ry en my lewe daarvolgens moet beplan). Ek gaan altyd eerste kombuis toe om 'n koppie Rooibos te maak en Pauline te groet. Soms praat ons so lank dat ek 'n minuut of twee te laat in die kamer kom. Toe ek vanoggend inkom sê ek vir Paula, (sy is die centre se supervisor teacher en ek werk op die oomblik saam met haar in Pre-school 3 tot hul 'n permanente onderwyser aangestel het ... ja, hul beplan om 'n man aan te stel) "ek is nie laat nie, ek het net my pasiënt in die kombuis besoek" (ek is mos deur Pauline as die kombuissielkundige aangewys). Paula het gedink dit is skreeusnaaks.

Pauline was weer die week regtig siek met middeloorontsteking en laringitis. Sy het Dinsdag nie kom werk nie en Woensdag was sy in so 'n bad mood dat sy my amper ook die kombuis belet het. Ek moet mos nou deesdae eers klop aan die deur voor ek in die kombuis ingaan dat sy kan weet dit is ek. Sy wil nie so ongeskik met my wees soos met die ander nie ... toe ek nie aan die deur klop nie sê sy ewe ongeskik, 'no one in my kitchen today. I'm in a bad mood', maar toe sy sien dit is ek, verander sy gou haar deuntjie. 'Okay, you can come in. Just knock first.' Toe klop ek maar aan die deur en sy gesels vriendelik met my verder. Vanoggend moes ek net seker maak dit gaan beter met haar voordat ek gaan werk. Sy werk regtig hard en is al 64 jaar oud. Al die kieme van die kinders maak dat ek en sy gedurig siek is. Ek weet dus presies hoe sy voel. Ek het al vier keer my stem verloor, een maal mangelontsteking gehad, middeloorontsteking (my oordrom het spontaan een oggend by die skool geperforeer na ek 'n hele nag nie kon slaap van die pyn nie) en twee keer erge diaree met koors. Dis nie grappies om by 'n kleuterskool te werk nie!

Sy het gesê ek moet Rialeen vir 'n week saam met haar laat werk, dan sal sy haar oplei om as 'n reliever in die kombuis te werk. Op die oomblik het hul nie iemand wat kan instaan as Pauline nie daar is nie en kom sy maar net elke dag werk toe al is sy hoe siek. Dinsdag het die chinese vroutjie, Vivienne, wat 'n student is en ook relief werk doen by Kindercare, in die kombuis gewerk. Pauline het haar al vantevore so bietjie rondgewys en getrain vir ingeval.

Vivienne het êrens op die platteland in China groot geword. Sy het by haar oupa en ouma gewoon terwyl haar ouers probeer het om 'n bestaan te maak in een van die stede. Toe sy twintig was, het sy besluit sy wil nie langer in China bly nie en het op die vliegtuig geklim en New Zealand toe gekom. Sy kon nie 'n woord Engels praat nie, was nog nooit op 'n vliegtuig nie en het geen toepaslike kwalifikasie gehad nie. Sy woon nou al 10 jaar hier, is met 'n Chinese man getroud en het 'n kind, Este, wat vier jaar oud is. Sy is besig om deur afstandonderwys haar BA in Early Childhood Education te doen.

Viviene is 'n ongelooflike harde werker. Jy hoor haar nooit kla nie, maar sy hou baie van praat. Party mense sê sy skinder of praat oor goed wat haar nie aangaan nie. Ek en sy kom goed oor die weg en ek het haar die eerste dag wat ek in New Zeeland gewerk het ontmoet, by ABC se day care centre in Tawa Noord. Sy is altyd vriendelik en luister na my klagtetjies, maar ek het ook al geleer om nie iets oor enige iemand anders by die werk vir haar te sê nie. Dit kom altyd weer met 'n draai by jou uit. Haar dogtertjie gaan na Pre-school 2 die dae wat sy werk en sy is 'n goed opgevoede kind.

Sy sê sy gaan nooit China toe nie, want daar steel hul kinders en dis dus nie veilig vir haar kind nie. Sy sien dus nooit haar ouers nie. Haar skoonouers wat nou afgetree is, gaan wel hier kom woon van volgende jaar af. Hul kan ook nie 'n woord Engels praat nie. Sy is opgewonde daaroor, want dan gaan sy iemand hê om na Este te kyk as sy werk of moet studeer. Ek weet nie hoe 'n mens oorleef in 'n land waar niemand jou kan verstaan nie!

So het elkeen 'n storietjie. As jy met mense begin gesels, kom hy agter hoeveel immigrante hier is. Met party is dit opvallend (soos Vivienne, jy kan sien sy is Asian), maar baie ander kom van die UK en woon al hier vandat hul jong kinders was. Amy, wat by Pre-school 1 werk, se ouers het voor haar geboorte van Holland na New Zeeland gekom. Paula is in Engeland gebore en het hierheen gekom toe sy agt jaar oud was. Haar broer het teruggegaan en woon nou weer in Engeland. Baie van die kinders se ouers kom van ander lande. Ons het 'n dogtertjie, Sophia, by Pre-school 2 wat van Rusland kom, een swart dogtertjie by die baba's. Hul kom van Ghambia. Hul woon ook die kerkdienste by die Salvation Army Johnsonville by. Ek en Rialeen het nie 'n idee gehad waar Ghambia is nie en moes gaan google om uit te vind. Sy is die enigste swart kind by ons centre. Hul woon hier naby ons en haar ma, Viviene, het my al 'n lift gegee huis toe as dit reën. Sy is mal oor biltong en ry ook Petone toe na Ontrays (die SA winkel) om biltong daar te koop.

So kan ek vir ure aangaan, want mense en hul dingetjies en storietjies fasineer my vreeslik. Ek sal dit maar liewer op 'n volgend keer weer doen.

Geen opmerkings nie: