Uiteindelik het die tyd aangebreek om na Auckland te vertrek vir Kersfees. Ons het baie uitgesien na hierdie besoek aan ons enigste familie in New Zealand. Ek en Rialeen het verlede jaar ook Kersfees saam met Frederik en Andries deurgebring. Kort daarna het Marnie met haar man, Barend, in Auckland aangekom en ons het nog 'n tyd saam in Auckland spandeer voordat ek en Rialeen terug is Wellington toe. Ek het vir Hannetjie amper twee jaar laas gesien, kort voor ons vertrek na New Zealand met Marnie en Barend se troue. Intussen het Hannetjie by Frederik aangesluit hier in Auckland en Marnie het 'n baba gehad, Isaac. Hy is die enigste opregte Kiwi tussen ons klomp. Matthys en sy vrou, Sumari, het ook vroeg in Desember hier aangeland met hul verblyfsreg in die sak. As Rialeen hier was, sou ons elf gewees het.
So, die familie groei aan. Min van my en Hendrik se kant af, maar Rialeen mag dalk die volgende een wees met New Zealandse burgerskap. Sy het nou 'n Kiwi-vriend en die liefde blom tussen die twee. Sy is juis vir Kersfees na sy familie toe. Dis natuurlik 'n storie op sy eie, want nou moet ons Engels praat in die teenwoordigheid van die 'aanstaande skoonseun', Tim.
Ons het mos darem nou 'n karretjie en ek en Hendrik het baie uitgesien om by elke interessante plekkie te stop wat ons vanuit die bus kon sien met ons vorige besoeke aan Frederik. Hier is die spoedgrens honderd kilometer per uur en sodra jy by 'n dorpie kom moet jy spoed verminder na vyftig kilometer. Dit is dus so agture sy ry na Auckland, maar omdat ons beplan het om baie te stop, het ons 'n oornag plek bespreek by Taupo.
Ons het eerste by die cafe gestop in Foxton om 'n koffie te drink. Hendrik wou natuurlik ook 'n stukkie vrugtekoek eet.
Ons het hier buite gesit by die stewige druiweprieël wat ons baie beindruk het.
Oorkant die pad sien ek toe die winkeltjies, waarvan die een 'n 'Dutch Market' is. Ek moes natuurlik daar in (om die draai van ons in Petone is ook 'n 'Dutch Shop' waar ons gereeld kom). 'n Stollen, hollandse kaas en 'n pak koekies later, het my 'n hele paar dollar uit die sak geruk, maar nou ja, dis Kersfees...
Nie ver uit Foxton nie, ry ons die heuningpadstalletjie raak en daar moet natuurlik weer gekoop word. Die winkeltjie fasineer ons met sy byekorf binne in die winkel. Hul verkoop ook 'n verskeidenheid lekkernye gemaak van heuning, heuningwyn, skoonheidsprodukte en roomys. Daar word natuurlik nog 'n paar dollar teveel spandeer.
Die nood druk en ons besluit om by die plaascafe, Flat Hills, te stop waar die bus ook indraai oppad Auckland toe, want daar is genoeg geriewe, 'n winkeltjie, eetplek en oupa en ouma op die stoep. Ek moet natuurlik dadelik pose vir 'n foto :-).
Nie ek of Hendrik was die vorige keer met Flat Hills se kos beindruk nie en ons besluit dus om maar aan te stoot tot by Taihepe. Na ete stap ons die straat af om ons bene te rek en vind ons die oulike geskenkwinkel met 'n hele kamer vol kersbome en versierings.
Taupo is natuurlik die einddoel van ons dagrut. Eers moes ons verby die Desert Road met sy vulkaniese berge ry, maar dit reën so dat ons geen foto's kan neem nie. Verlede jaar het ek die pragtigste foto's van die berge deur die bus se venster geneem. Ek voel regtig teleurgesteld. Gelukkig kompenseer die goeie weer en pragtige meer by Taupo daarvoor.
Kyk hoe plat het my man se pensie geword vandat hy weer hier by sy vrou is om na hom te kyk en al om die blok te jaag elke dag.
Die water van die meer is louwarm en kristalhelder. Bo kan jul my mooi voete in die water sien en onder Hendrik se voete.
En natuurlik moet ek ons karretjie ook eenkeer afneem.
Mamma en pappa swaan met hul kleintjies.
Ons slaap die aand by die Karaka Tree Motel in Taupo oor
en gaan drink 'n dop by die Jolly Good Fellows.
Oppad terug motel toe, loop ons by die begrafplaas verby in die middel van die dorp tussen twee huise (die foto is halfnege in die aand geneem sonder 'n flash).
Ek wil net vir my kinders sê, hul moet my maar liewer veras voordat hul my graf so versier.
Die volgende oggend pak ons vroeg op en boek onsself uit by die motel. Ons parkeer langs die meer en stap ver langs die water. Dis ongelooflik mooi en ons neem tientalle foto's wat ek later sal opsit. By die stalletjie het ons die heerlikste vars perskes en Boysenbessies wat van Hawkes Bay afkom, gekoop.
Moeg gestap en doodhonger ry ons na die dorp en eet ontbyt hier langs die meer
met die pragtigste uitsig oor die water en die vulkaniese berg (tussen die wolke kan mens die sneeubedekte top sien)
Nadat ons die dorpie verder verken het en nog baie foto's geneem het (wat ek later sal opsit), pak ons die langpad aan. Ons stop nog een keer langs die rivier nadat ons deur Hamilton is, by Huntly. Nie lank daarna nie arriveer ons in Auckland.
Die skoonheid van New Zealand slaan nog steeds my asem weg. Dit is soos ek vantevore gesê het 'n park van hoek tot kant. Maak nie saak waar jy gaan nie (behalwe by Desert Road), dis oral groen. Met die kontras van die blou hemel en spierwit wolke is dit asemrowend mooi. Dis skoon, dis veilig en die mense is ontspanne en vriendelik. Tot vandag het nog net een mens in 'n padongeluk gesterf op New Zealand se paaie gedurende die vakansietydperk! Wat wil 'n mens meer hê?