Vrydag 06 Januarie 2012

Auckland: Frederik-hul se eerste tuiste

Frederik huur 'n huis hier in Coatesville aan die North Shore van Auckland (as dit is hoe 'n mens dit beskryf). Soos ek dit verstaan, is dit meer vakansie-akkommodasie en huur hy dit nie op 'n kontrakbasis nie. Hy kan dus enige tyd uittrek wanneer hul iets anders kry. Die plek is ten volle gemeubileerd, krag ingesluit, wi-fi en sky-tv. Hier is slaapplek vir 8 mense (as die bank in die sitkamer oopgeslaan word).  Dit is dus heelwat luukser as wat ek en Rialeen aan gewoond is.


'n Speelparkie vir die toekomstige kleinkinders

 Marnie en Barend se karretjie voor die garage wat in 'n kamer en waskamer omskep is. Ek en Rialeen slaap daar.
Frederik se kar
Barend op die stoep besig om 'n vuur aan die gang te kry.



Die deur na my kamer en die waskamer
Die kamer waar ek slaap
Uitsig deur my kamervenster


Hierdie gemeenskaplike grasperk word deur 'n baie mooi vrou van omtrent my ouderdom gesny. Sy kom met haar truck hier aan en laai self die grassnyer af en sny die grasperk op haar eie (geen hulp nie).
Frederik en Barend se eerste braai op hul nuwe braaier.
Lekker kuier op die stoep

En 'n pragtige sonsondergang halftien in die aand om 'n lang dag af te sluit

Wellington vs Auckland

Lyk my ek is klaar in regte New Zealander. Hier is altyd 'n kompetisie aan oor watter stad die beste plek is om te woon. Almal in Wellington kan die hele tyd vir jou vertel van al die goed waarvan hul nie hou in Auckland of Christchurch nie (niemand hou van aardbewings nie). Daar is 'n kompetisie tussen die Noord en Suid-Eilande, Christchurch en Wellington ens ens. Nou lyk dit my die Aucklanders kan weer alles opnoem wat verkeerd is in Wellington (al was hul nog nooit daar nie). Ek is nou maar 'n Wellingtoner (vir al die Aucklanders wat voel ek het hul stad aangevat).

Wellington is waar my huis nou is, waar my paar vriende is, my werk, my sekuriteit, die bekende. Ek het al honderde kere gesê, Wellington is maar net 'n groot dorp. Alles kom tot 'n stilstand sesuur in die middag behalwe Donderdae. Daar is net drie weke somer in 'n jaar (die eerste drie weke in Februarie). In Wellington waai die wind jou van jou voete af, dit reën dae aanmekaar, die maksimum temperatuur is amper nooit bo 18 grade nie, maar as die son skyn, skyn hy en die hemel is onmiddelik die pragtigste diepblou en ons verbrand bloedrooi.( Vra my, ek pas kinders buite op vir ure aanmekaar op 'n speelterrein elke keer wanneer die son uitkom.) Die Wellingtoners is warm, vriendelike, dorpsmense wat almal aanvaar, maak nie saak van watter kultuur, land, velkleur, taal of geloof jy is nie, of jy 'n partner het, of getroud is, gay is, met 'n chinese of samoan getroud is, toilette skrop of 'n professor is, hul maak geen onderskeid nie. Hul laat jou tuis voel in hulle land en doen alles in hul vermoë om jou te help om hier gevestig te raak.

Ek ken Auckland nie so goed nie en wil nie veel meer oor Auckland sê as wat ek reeds gese het nie. Ek weet net, ek kry verskriklik warm hier, dit is bedompig en die son het amper nog nooit geskyn vandat ek hier aangekom het nie. Dit is asemrowend mooi, baie mooier as Wellington, baie meer modern en gesofistikeerd, maar as ons op die snelweg ry, staan ons elke liewe keer. Hier is nie 'n treindiens soos in Wellington nie en 'n mens is afhanklik van busse (wat gekanselleer word omdat dit 'vakansie' is. Ek dog vakansie is wanneer toeriste 'n mens se stad besoek en hul vervoer moet word.)

Maar as ek hier moet kom woon, sal dit my tuiste word en sal ek aan Auckland se dingetjies en weer gewoond raak, aan die kosmopolitaanse atmosfeer, die baie tale wat op straat gepraat word. 'n Mens sal op die einde seker maar meer in die omgewing rondbeweeg waar jy woon en werk en nie soveel tyd in die middestad spandeer nie. Ons sal die busdiens beter leer ken en verstaan en gewoond raak aan verkeer wat op snelweg staan. Dit sal ons huis en tuiste word. Dit is waar amper 'n derde van die New Zealandse bevolking woon, so, hier moet iets wees wat nie in Wellington of Christchurch is nie. Dit is seker maar waar Hendrik werk sal kry en Rialeen wil nou met alle geweld hier kom woon. Ek moet nou maar net gewoond raak aan die idee.

Kyk en verstaan.
As dit nie mooi is nie, weet ek nie wat mooi is nie!
Wellingtonomgewing






En dis hoe Auckland lyk vandat ek hier aangekom het.
Let daarop dat die son ook skyn, maar geen diepblou hemel nie.



Op die foto wil die blou darem so amper-amper deurkom

Maar nou ja, kom maar tot jul eie gevolgtrekking, dit is net my eie subjektiewe belewenis. Dit bly maar vir 'n Gautenger ander klimaatsomstandighede om by aan te pas. Ek waardeer die feit dat dit nie so warm is as in Pretoria nie, maar ons kry genoeg sonskyn in Wellington (en ekstra uv) dat dit nie vir my morbied is nie.

Donderdag 05 Januarie 2012

Auckland

Ek wou begin deur te vertel van ons kersfees in Auckland, maar daar is net teveel ander dinge in my kop aan die gang. Jul sal dus maar moet wag om te hoor van ons kersfees hier by Frederik en Andries.

Rialeen is verlief op Auckland en wil hierheen trek, maar Wellington is nou maar vir eers my huis. Dit is so dat al die mense wat ek ken uit Suid-Afrika woon hier in Auckland, maar Wellington is waar ek nuwe vriende gemaak het, werk en my voete gevind het in New Zealand. Ek kan nie nou myself ontwortel om weer hier in Auckland 'n nuwe begin te maak nie.

Ek het op die 23ste Desember die tog met die bus onderneem na Auckland om by my swaer, Frederik en sy seun, Andries te kuier. Die idee was om vir 'n week, miskien twee, hier te kuier, maar omdat ek nie betyds vir ons plek terug bespreek het nie, kan ons nou eers die 11de Januarie teruggaan. Al die vliegtuie, bus en trein is vol bespreek. Andries gaan saam met ons terug om vir 'n week in Wellington te kuier. Ons het darem nou plek op die 'scenic' trein wat ook weer 'n dagreis is tussen Auckland en Wellington, maar ons sien baie daarna uit, want ek het gehoor dit is verskriklik mooi. Dit kos ons ook meer as dubbel die prys wat ons twee weke gelede betaal het om hier te kom.

Frederik se dogter, Marnie en haar man, Barend het ook intussen hier aangekom om hul te vestig in New Zealand. Marnie is swanger met hul eerste kind. Dit gaan ook die eerste Kiwi-kleinkind wees onder ons. Frederik huur 'n gemeubileerde huis hier in Coatesville op die North Shore. Dis so entjie uit die stad uit en public transport is nou die so beskikbaar soos in Wellington nie. Hy het 'n kar, maar ek en Rialeen is mos maar gewoond om op ons eie reg te kom. Sy en Andries het ook al die busdiens hier beproef en kom heel goed oor die weg. Ons moet seker so 'n kilometer stap teen bulte en opdraendes en oor 'n groot pad gaan om by die naaste busstop uit te kom, maar ons kan onsself nou al goed help hier in Auckland. Hier is nie 'n treindiens nie en die bussdiens is maar terleurstellend teenoor Wellington veral omdat ons so ver uit die stad woon. Dit lyk of dit baie beter is in die sentrale gedeeltes.



Maar ons doen dit en het dit sover oorleef. Frederik moes ons net vanaand in die stad by die skytower kom oplaai, omdat hul van die busse gekanselleer het en daar geen busse na vyfuur North Shore se hierdie kant toe gekom het nie. Daar het toue mense by die busstop gestaan en mimmireer. Dit is al die 4de Januarie, maar omdat dit nog 'vakansie' is, het hul gedink dit is nie nodig om die express service gedurende spitsure te laat loop nie. Al die mense wat van die werk af gekom het, was dus gestrand (groot stad met klein dorpie mentaliteit). 

Ons bly al amper 'n jaar in Wellington en ons het nog altyd op ons eie by die huis gekom. Die enigste keer wat ons 'n taxi moes vat, was die aand toe Rialeen uit die hospitaal gekom het en ons nege-uur in die aand nog 'n uur moes wag vir 'n bus stad toe en dan 'n trein moes haal na Johnsonville. Ons het net nie lus gehad om daardie tyd van die aand te sukkel nie. Ons het al 100km uit Wellinton gegaan na Masterton en weer terug sonder 'n oomblik se probleme. 

Ek is nou maar eenmaal verlief op Wellington en sal moeilik Auckland toe trek as dit moet. Wellington is net 'n groot dorp met 350 000 mense en Auckland is 'n groot stad met meer as 'n miljoen mense. Dit is ook baie meer kosmopolitaans. 'n Mens sien amper nie 'n tipiese europese mens as jy in die strate loop in die middestad nie. Dit is dus baie meer onpersoonlik en mense maak nie sommer praatjies met 'n mens soos in Wellington nie. Meeste mense wat in groepe van twee of meer is, praat nie Engels met mekaar nie, maar in 'n ander taal. 

In die bus het ons nou die dag Afrikaans gepraat, die mense voor ons het Amerikaanse Engels gepraat. Skuins voor ons het 'n swartman gesit, 'n tipiese Afrikapersoon, agter ons het mense in Frans gesit en praat en langs ons het mense Chinees gepraat. So is dit oral in die strate in die middestad. Gister het daar twee verliefdes saam met ons by die busstop gesit en Duits praat.

Ek is maar 'n bietjie gatvol na ons ervaring met die bus vandag in die middestad. Ons het twee ure daar rondgestaan en nie geweet wat aangaan nie, totdat ons besluit het om maar vir Frederik te bel om ons te kom haal. Wat doen 'n mens as jy nie iemand het om jou te kom oplaai nie? Ons woon amper 20 kilometer uit die middestad. Ek wil nie eers dink wat sou 'n taxi gekos het nie. Dit is belaglik vir so 'n modernde stad!

Nee wat, gee my maar Wellington met sy koue weer, pragtige sonskyndae en vriendelike, warm mense!

Busrit na Auckland

Frederik en Andries se aankoms in Auckland het ons darem van 'n eensame kerstyd gespaar. Soos ek reeds vertel het, het Rialeen so 3 weke gelede Auckland toe gekom om by hulle te kuier. Ek het ook op die 23ste Desember die Intercity bus gehaal en die elf ure tog hierheen onderneem. Ons kon vir dieselfde prys vlieg (wat seker nie langer as 'n uur sou gewees het nie), maar dan sien 'n mens niks van die land nie.

New Zealand is die ongelooflikste mooi plek! Ek kon nie slaap op die bus nie, ek was te bang om iets te mis. Ek het soos gewoonlik 'n klomp foto's deur die venster van die bewegende bus geneem of as ons gestop het om mense op te laai. Omdat dit so naby aan kersfees was, was die bus natuurlik voller as gewoonlik en baie meer mense het op en afgeklim. Elke keer moet die busbestuurder afklim, bagasie aflaai en oplaai. Ons het dus amper twaalf ure gereis en dit is nogal vermoeiend, maar die moeite werd.

Ons beplan om die 11de Januarie weer terug te gaan met die 'scenic train'. Suzanne (die Duitse student wat saam met my gewerk het) het vir my gese dat sy al op verskeie plekke in die wereld sulke 'scenic' treinritte onderneem het en dat hierdie tog tussen Wellington en Auckland die mooiste is wat sy nog ooit gesien het. Hulle werk ongelukkig aan die treinspoor tussen kersfees en nuwe jaar, eintlik tot die 8ste Januarie. Dis hoekom ons eers so laat in Januarie terug sal gaan Wellington toe.

'n Paar foto's van interessanthede langs die pad:






Ek het nog nooit soveel oumense gesien soos hier in New Zealand nie. As jy 'n gebore New Zealander is, het jy 'n goeie kans om 83 jaar of ouer te word. Niks keer hul nie, ons sien hul in die aand by die flieks, op busse en treine, oral in die stad, besig om kruideniersware te koop ens. Hier is 'n ou tannie besig om op die Intercity bus te klim oppad Auckland toe.




'n Huisie langs die grootste meer in New Zealand
en 'n karavaanpark



En soos altyd is die natuur asemrowend mooi. Foto's deur 'n busvenster is nou nie die beste manier op die af te wys nie, maar dit is ongelukkig al wat ek het op hierdie stadium.

New Zealand is net die ongelooflikste groen stuk aarde! Dis soos een groot park van hoek tot kant.

'n Vulkaniese berg by Dessert Road

Die grootste meer in New Zealand







En so gaan dit aan en aan ... ek kan jul verveel met 200 foto's (alles deur 'n busvenster geneem en steeds asemrowend mooi), maar jul kan nou maar jul verbeelding verder gebruik. Hier is die bus waarmee ons gery het en waar ons middagete geeet het.





Iemand maak lekker geld by die eetplek op 'n plaas tussen nêrens en êrens. Al die Intercity busse stop hier vir middagete. Al wat daar is, is 'n klein Cafe en 'n paar tafeltjies soos die op die foto buite en binne. Daar staan toue mense om kos en drinkgoed te koop en nog langer rye by die drie toilette wat daar is. Binne dertig minute moet almal weer terug op die bus wees. Dit gee nogal 'n gejaag af.


Frederik het het my 20h45 by die skytower in die middestad van Auckland gekry. My onmiddelike reaksie was om baie van Auckland te hou, want dit is regtig mooi. Wellington was glad nie aan die begin vir my mooi nie, dit het op my gegroei. Die ander ding is dat dit so warm was toe ek van die bus afklim teenoor Wellington. In Wellington het ons nog amper nie somersklere gedra nie. Dit is baie afwissellend tussen warm sonskyndae (altyd koel in die oggend en aand) en reënerige dae, maar Auckland is soos Durban, drukkend warm. Wellington  het altyd 'n windjie om mens koel te hou. Dit is ook soos 'n groot dorp teenoor Auckland wat regtig 'n stad is. Ek sien baie uit om hierdie groot stad te verken en te leer ken.