Dinsdag 19 November 2019

Baie stadig, maar seker vorentoe

Ek wens ek kon sê dat ek elke dag beter voel, maar dit sal nie die waarheid wees nie. Terwyl ek in die hospitaal was,  kon ek elke dag vordering sien, maar vandat ek by die huis is, is dit 'n ander storie. Die pyn in my arm en skouer maak my mal. Dit veroorsaak dat ek sleg slaap en ek is verplig om elke ses ure pynmedikasie te neem. Dis nie iets wat ek nog ooit in my lewe nodig gehad het om te doen nie.

Ek het nie pyn in my gesig nie, die medikasie wat ek vir die senuwee pyne neem, is baie effektief. As ek dit nie neem nie, kry ek skietpyne vanaf my nek in die dele wat gevoeloos is, aan die linkerkant van my kop en deur my oor. Die pyn is dus onder beheer in my gesig, maar ek het nog steeds daai stuk rouvleis, wat uit my arm gesny is en in my mond ingeplant is, in my kies. Dit gaan nog vir lank daar wees voordat dit deel gaan word van my mond. Dit is ten minste nie seer nie, net weird.


Vandag het die verpleegster, wat my wonde kom versorg het, foto's geneem terwyl al die pleisters en verbande af is. Die pieperiges moet maar nie kyk nie.




Die letsels waar hul my lip oopgesny het om by die kankerseer in my mond by te kom


Die opening waar die tracheabuis ingeplaas was vir my om deur asem te haal

Die snit wat gemaak is om die kankeragtige limfkliere te verwyder

Die wond op my arm waar hul 'n stuk spierweefsel  met 'n aar uitgesny het. Dit is oorgeplant in my mond om die opening in my mond te vul, nadat die kanker uitgesny is.

Op my bo-been is hierdie stuk vel uitgesny om oor die gat in my arm te werk.


Dit was omtrent 'n slagting. Nou kan jul verstaan hoekom die operasie so lank geduur het. Die chirurg het telkens vir my gesê dat ek baie siek is en moet rus vir die vyf weke voor die bestraling begin, maar dit is asof dit nie ingesink het nie. Ek besef dit nou elke dag as ek soos 'n baie oumens probeer om alledaagse take te verrig en ure lank lê en slaap. 

Soos ek reeds gesê het, het ek gelukkig 'n goeie eetlus. Hendrik was vandag mark toe en het klomp vars groente en vrugte gekoop asook vis. Ek is dus gereed vir die week wat voorlê en sien uit om nuwe smoothie resepte uit te probeer. Ek kan darem nou blokkies sagte brood ook eet. Vanaand het ek van die vars vis gaargemaak en ek kon dit kou. So daar is vordering wat dit betref en snaaks genoeg mis ek nog nie 'n bord gewone kos nie. Die etes wat ek vir myself voorberei is geurig en hou my versadig. Tussen etes drink ek smoothies met groente en vrugte in wat ek met die Nutribullet maak. As ek wil, kan ek 'n blokkie donker sjokolade in my mond smelt en ek kan roomys eet en poedings met 'n vlabasis. Ek ly dus verseker nie honger nie😊 


Ek moet bly gesond eet om te verseker dat ek vinnig genoeg herstel, want fase twee van my behandeling lê om die draai. Ses weke se bestraling gaan sy tol vat aan my lyf en gees. Dit is verseker nie iets waarna ek uitsien nie, maar ek het nie 'n keuse nie, ek moet daardeur gaan🙏

Geen opmerkings nie: