Sondag 17 November 2019

Pyn, pyn en nog pyn

Ek het nou die twee weke merk na die operasie verby gesteek en ek besef net meer en meer, hoe my geduld beproef gaan word. Hierdie is nie iets wat oornag gaan gesond word nie. Behalwe dat ek te swak is om uit te gaan, het ek verseker nie lus dat mense my aanstaar nie. Ek kan die wonde op my arm en been onder klere wegsteek, maar 'n geswelde gesig vol steke en pleisters is daar vir almal om na te staar. Die linkerkant van my gesig is gevoeloos en ek het, soos 'n kind, 'n borslap nodig as ek eet. Ek word beter met die etery, maar dit bly 'n morsige besigheid. Ek eet net sagte kos en voer myself met 'n eetlepel of teelepel aan die gesonde kant van my mond. Elke keer nadat ek geëet het, moet ek my mond uitwas om te keer dat  stukkies kos in die wond vassit en septies word.

My lewe draai dus rondom rus of slaap, voorbereiding van kos, eet en higiëne, want om my lyf skoon te hou is net so 'n missie. Sover het ek nog nie gestort nie, Hendrik het my hare oor die bad gewas en ek spons myself af. Stort beteken dat ek 'n plastiese sak moet sit oor die wond op my been, arm en nek. Dit is net teveel moeite! Môre kom 'n verpleegster om my wonde te versorg en ek beplan om te stort voor sy arriveer, want ek weet dan word al die pleisters vervang. 
Elf dae se vordering in die hospitaal 
Ek het geen vrees vir 'n hospitaal nie, want ek weet solank mens daar is, weet jy nie van pyn nie. Die verpleegsters staan gereed met allerlei maniere en middels om pyn te verdoof, stiptelik volgens 'n skedule. Hul maak jou wakker wanneer jy geen pyn het nie, sodat hul jou pynmedikasie kan gee. Hier by die huis is dit 'n ander storie. Ek moet self onthou om die pyn te verdoof en dit gebeur gewoonlik eers wanneer ek bewus word van die pyn. Dan het die medikasie tyd nodig om in te skop. 

Ek het geen pyn in my gesig of mond nie, maar die linkerarm waar die spierweefsel uitgesny is om in my mond in te plant, pyn aanhoudend. My linkerskouer is ook baie seer. Die dokter sê dis as gevolg van die werk wat hul daar gedoen het. As die medikasie uitgwerk is, is die pyn intens. Hoewel my gesig dood voel, kry ek senuwee pyne wat daar deur skiet. 

So dis nie grappies nie! Ek is siek en voel siek, maar omdat ek nie genoeg beweeg nie, het ek weer lae rugpyn. Dit maak dit moeiliker om te beweeg en die een ding lei na die ander. Ek word dus net elke dag meer bewus dat ek na myself moet kyk, fisies en emosioneel om deur hierdie herstel periode te kom. Oor vier weke begin bestraling en dis weer 'n perd van 'n ander kleur.

Gelukkig het ek 'n gesonde eetlus en ek kan 'n verskeidenheid kossoorte eet. Ek 'n voorliefde vir groente en vrugte. Avokado's is in seisoen en ek eet elke dag een of maak 'n smoothie daarmee. Al die eet vat nie die moeg weg nie. Ek slaap baie, maar probeer ligte take in die huis doen en stap in ons klein tuintjie rond. Ons het weer 'n paar sonskyndae gehad. Dit is dus lekker  om buite te kom, maar vir nou is die bank of bed die plek waar ek meeste van my tyd spandeer.

'n Oudkollega, Victoria, wat van Zimbabwe is, het een oggend  kom kuier met haar ses maande oue babatjie. My foon lui aan mekaar, 'n paar keer 'n vriendin of familie wat wil hoor hoe dit gaan, maar meestal om opvolg besoeke te reël vir wondversorging, voorbereiding vir bestraling of om seker te maak dat ek okay is hier by die huis. Ek het absolute bewondering vir die New Zealandse mediese versorging. Ons is daarmee gekonfronteer tydens Hendrik se kolonkanker en nasorg, my episode van depressie en nou weer met my orale kanker. Ons sou ver moes soek om beter versorging te kry. Natuurlik is daar tekortkominge wat deur die media gerapporteer word, maar ons is nog nie met dit gekonfronteer nie.

Geen opmerkings nie: