Saterdag 09 November 2019

Die ouderdom haal ons in

Nadat die staat al die baie geld gespandeer het om my te opgradeer na 'n gesonder model, voel ek onder verpligting om nog 20 tot 30 jaar op my speedometer te sit. Ek is nie juis iemand wat dink dis cool om stokhoringoud te word nie. Ek sal maar liewer wil gaan terwyl my kop nog intakt is. My ma se ma en my ma het albei Parkinsonse siekte gehad en dit was baie stresvol vir die familie om hul te sien degeneree tot waar hul fisies oorgelewer was in die hande van hul versorgers.

Ek is ook nou soos hulle oorgelewer aan die totale fisiese versorging van die verpleegpersoneel. Ek het skielik herinneringe van hoe ek gesien het as kind, waar my geliefde ouma op dieselfde wyse versorg was. Later was dit my ma se beurt en sy was vreeslik pieperig en het vir alles 'n gil gegee. Dis nie lekker herinneringe nie en ek besef maar net daar is geen waardigheid in die situasie nie. Die beste is om nie teë te sit nie en deur elke oomblik so vinnig moontlik te kom.

Vir sestig jaar het ek myself afgevee nadat ek die toilet gebruik het, maar nou is my onafhanklikheid ingekort deur buise, pype, pompe, monitors, suurstofpype en drips. Iemand anders moet hierdie take vir my doen. Wonder bo wonder doen hul dit op 'n liefdevolle wyse wat my nie verkleineer en inkompotent laat voel nie. Die laaste drie dae het ek 'n manlike verpleër gehad. Hy was so professioneel, geduldig en teer in sy versorging van my, ek kon hom ten volle vertrou met elke taak, hoe groot of klein. Hy het verstaan wanneer om 'n vroulike verpleegstershulp in te roep en wanneer om 'n taak self af te handel.

Ek is baie dankbaar teenoor die New Zealanders wat ons aangeneem het as burgers van hul land en al hierdie voordele tot ons lewens toegevoeg het. Twee kankers in vyf jaar in Suid-Afrika kon ons verplig het, om al die geld wat ons vir ons oudag eenkant gesit het, te gebruik. Daar is soveel ekstras wat die mediese fonds nie dek nie.

Wat my die meeste beïndruk van die gesondheidsdienste hier, is spanwerk en nasorg. Ek onthou toe Hendrik ontslaan is uit die hospitaal,  het 'n verpleegster hom elke dag besoek tot sy seker was, hy was sterk genoeg om na homself te kyk. Vir vyf jaar het hy 'n brief in die pos gekry om te sê vir watse opvolgtoetse hy moet gaan en om sy afsprake by dokters en die verpleegster te reël.  Nou is hy vry van daardie las en staan ek volgende in die ry.

Geen opmerkings nie: