Eintlik is ek maar bly dat ek besluit het om my aansoek vir registrasie by die New Zealand Teachers Council (NZTC) hier te pos, want ek dink maar net hoe ontmoedig ek dalk sou gewees het as ek nog in SA was. Ek sou nie besef het dat daar tog werksmoontlikhede was sonder om geregistreer te wees nie. Dalk het ek besluit om nie te kom nie, veral nie sonder Hendrik nie.
Om alleen saam met Rialeen hierheen te kom, is seker die dapperste ding wat ek nog in my lewe gedoen het. Ek was nog nie eendag spyt daaroor nie. Dit is so 'n verreikende ervaring. Ons het net soveel van onsself geleer in die proses en van die mensdom in die algemeen. Goed wat jy dalk ver agter in jou kop weet, maar waaraan jy opnuut herinner moet word. Dit het my weer vertroue in die mensdom en die toekoms gegee.
Ek wonder elke dag hoekom is ek so gelukkig hier. Dis nie asof ons lewens rose en maanskyn is nie. Ek struggle om genoeg te verdien om ons te onderhou. Ek is nie permanent aangestel nie en doen 'afloswerk'. Baie weke werk ek 40 ure, wat hard is, maar dan verdien ek genoeg om te oorleef, hierdie week was ek siek en het net 11 ure gewerk. So, pay day is 'n nagmerrie.
Ons moet elke dag, maak nie saak reen of sonskyn, 500 meter afstap na die busstop en in die middag teen die bult opstad huis toe. Ons moet alles wat ons koop in sakke teen die bult opdra (wat harde werk is). Ons het besluit om nie 'n kar te koop nie, want dit is net nog 'n verantwoordelikheid en hier moet jou kar elke 6 maande vir 'n padwaardigheidstoets gaan. As hul se jy moet bande vervang, worrie hulle nie of jy dit kan bekostig nie, jy kry net nie jou sertifikaat voordat jy dit geoen het nie. Openbare vervoer is dus ons lot, maar gelukkig is ons by die stasie en die busterminus. Dit kos ons verseker minder as 'n kar en die onderhoud daarvan.
Daar is maar frustrasies verbonde aan openbare vervoer. Die gewag vir 'n bus maak my soms mal. Ek hou op werk op die uur of die halfuur en mis dan die bus wat daardie tyd kom en moet 20 tot 25 minute wag vir die volgende bus by 'n busstop waar daar nie beskutting is nie. Ek het al daar gestaan en papnat gereen. Dis hoekom ek R500 op 'n reenjas spandeer het. Ons moet ook soms as ons Wellington eksploreer oorkllim op ander busse of treine en dit gee ook 'n gewag af wat 'n mens teen die mure kan uitdryf.
Een naweek was ons Masterton toe met die trein (so 100km van Wellingtonstasie). Dit val in die Wellington-distrik en ons kon daar kom met die gewone treindiens van Wellington. Die trein ry net een keer in die oggend (10 uur) en kom dan weer in die middag terug (5 uur) op 'n Saterdag. In die week is dit meer gereeld. Toe ons daar aankom, is daar nie veel te doen nie, dit is koud (gelukkig het dit nie gereen nie) en ons moet onsself die heeldag besighou. Daar is 'n pragtige groot park, die Queen Elizabeth park, 'n skaapskeer museum en 'n kuns en historiese museum. Ons het kos by die supermark gekoop en in die park geeet en na die eende op die water gekyk. Later het ons in 'n cafe gaan sit en 'n glaswyn gedrink, deur klerewinkels geloop en ten einde raad maar stasie toe gestap. Daar is toe 'n vreeslike vriendelike ouerige vrou wat by die kaartjiekantoor werk en sy gesels sommer vinnig die uur om wat ons vir die trein moes wag.
Masterton is die verste wat ons nog uit Wellington was. Finansies is maar die hoofrede en tot nou toe was daar altyd nog 'n plek in Wellinton wat ons wou besoek of iets wat ons wil doen. Ons volgende trip gaan Auckland toe wees met die trein, vir 'n naweek.
Uittog na Masterton
Pappegaai se graf
'n Glassie wyn in Cafe
(Let op: Spyskaart geskryf op 'n swartbord, standaard praktyk in NZ)
Landskapstonele vanuit die trein geneem
Stasie langs die pad
Uitgeput!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking