Die ys was darem gebreek na die eerste halfdag se werkery, maar dit was nogtans stresvol. Randstad bel my 8 uur in die oggend en se waar ek die dag moet gaan werk. Ek moet op die internet soek waar die 'centre' is en hoe om daar te kom met die bus. Daar word van my verwag om teen 9 uur te begin werk. Party dae spring ek vroeg uit die bed, trek aan en wag en dan bel hul nooit. Die betaling wat ek kry, is nie naastenby genoeg vir ons om te oorleef nie.
Een wonderlike oggend lui my foon en dis Justina, die 'manager' van Kindercare Tawa. Hulle het so pas die vorige week geopen. Sy wil eerstens weet hoekom sy nog niks van my gehoor het sedert ons onderhoud nie (die eerste onderhoud waarvoor ek gegaan het in NZ). Daarna vra sy of ek nie as 'n 'reliever' by hul 'centre' wil werk nie. Duh... die volgende dag begin ek daar as 'n 'lunch cover' (nog 'n baie vreemde begrip vir enige Suid-Afrikaner).
Hul kry 'n 'reliever' om in te staan terwyl die onderwysers op ete gaan. Elke onderwyser kry 'n uur onbetaalde, verpligte ete (As jy 8 ure by die werk is, spandeer jy 9 ure by die werk waarvan een uur ete is. Die personeel gaan nie almal op dieselfde tyd op ete nie, maar volg mekaar op. Ek bly dan daar tot almal in die klas klaar op ete was en gaan dan huis toe, dis gewoonlik 3 ure per dag, 11h30 tot 14h30. By die baba's is daar 5 onderwyseresse en hulle ete begin 11uur en eindig 3 uur.
Dis die tyd wat die kinders begin regmaak vir middagete en dan gaan hul slaap, maar die aantal onderwysers tot die aantal kinders mag nooit verminder nie (al slaap hul). Die klas word ook gedurende die tyd skoongemaak. Speelgoed word opgeruim en die kinder se bedjies word uitgesit en na die slaaptyd weer opgeruim. Die tafels, vloere waar die kinders geeet het word gewas asook die kunswasbak en die badkamer word geskrop terwyl die kinders slaap (hier is nie iets soos skoonmakers nie, tot die 'manager' kom met die mop en was die vloere of vat 'n tuinbesem en vee die terrein skoon). Dis 'n baie rustige werk en verg nie baie inisiatief of inspanning nie.
Skielik werk ek amper elke dag, al is dit net vir 'n paar uur. Hul betaal my ook $5 per uur meer as Randstad en ons kan die verskil dadelik agterkom. Ek kan begin asemhaal. Tussenin werk ook nog vir Randstad. Dan besluit Justina, hul wil my nie as 'n 'lunch cover' gebruik nie, maar ek moet instaan as iemand vir die hele dag afwesig is (wat baie gereeld is). Ek werk die eerste en tweede week albei weke 40 ure en uiteindelik 'can we make ends meet'. Daarvandaan gaan dit voor die wind. Randstad bel en bel en ek is permanent by Kindercare. Die klomp by Randstad is redelik geagiteerd met die situasie en ek vra hul om my van hul lys af te haal. Ek is nou wel net 'n 'relief teacher', maar my voet is in die deur.
As jy by een 'centre' werk leer jy hul roetines, gewoontes en reels ken. Jy leer ook die personeel ken met al hul dingetjies en maniertjies. Dit maak sake net soveel makliker vir my. Hul gee ook Vrydagmiddag al vir my die voorlopige tye waarop ek moet werk of Justina bel my Sondagaand. Ek kan dus beter beplan, maar meeste tye bel hul weer as iemand siek word ens. Justina het my al na 10 in die aand gebel of 5h30 terwyl ek nog salig slaap om te vra of ek kan inkom. Natuurlik kan ek altyd inkom, want ek het die geld broodnodig om te oorleef en ek is net te dankbaar om te kan werk!
Ek sal Justina verewig dankbaar wees vir die geleentheid wat sy my gegee het om die rol van 'n 'early childhood educator' in New Zeeland beter te verstaan. Dit kan vir my deure oopmaak as ek eendag geregistreer is. Sy het ook vir my 'n baie positiewe getuigskrif gegee om saam met my aansoek by die Teachers Council in te handig. Weereens voel dit vir my of daar net 'n groter Hand in hierdie gebeure is. Ek het vir presies 2 onderhoude in Wellington gegaan en by albei geleenthede het ek werk gekry en in 3 maande het my situasie radikaal verander. Ons het geld om dinge te doen en te koop wat ons nodig het, ek is deel van 'n groot groep personeel waar ek aanvaar voel en waardeer word. Dit laat my net meer tuis voel in Wellington.
Ek het sulke interessante mense hier ontmoet en soveel geleer van die kultuur in New Zeeland en selfs 'n paar Maori woorde (sukkel nog met die liedjies). 'Morena' wat in sotho 'meneer' beteken, beteken in Maori 'goeie more'. Hier werk 'n student saam met my, haar naam is Tshopu (klink heel African) en die een half Maori-vrou wat ook 'n 'reliever' is se naam is Tshidi (by Filadelfia het daar 2 Tshidi's saam met my gewerk). 'Pakipaki' beteken om hande te klap, 'tamariki' is kinders en 'whanau' verwys na die groter familie wat 'n baie groot rol speel in die Maori-kultuur ens ens.
As ons nie in Johnsonville kom woon het nie, sou ek nie Kindercare Tawa gesien het en Justina ontmoet het nie. Ons lewens kon soveel anders verloop het en ek kon nou nog gesukkel het om werk te kry, want nie een van die ander plekke wat ek my cv na toe gestuur het, het ooit die moeite gedoen om my te antwoord nie of as ek iets gehoor het, was dit negatief.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking