Donderdag 28 Julie 2011

Wellington se weer

Oor die weer kan ek natuurlik boekdele skryf, want almal het ons so bang gepraat. Asof reen en koue die einde van die wereld is. Oral oor die wereld is daar plekke waar dit sneeu of 40 grade word en mense woon nog steeds daar. Maar as jy 'n Transvaler is soos ek wat in Namibie groot geword het, is dit nogal scary.

Wel, ons ondervinding van die weer is baie positief. Dit is nooit so warm soos in Pretoria nie wat vir my 'n baie positiewe punt is. Die uv is baie hoog en die son is superskerp in die somer. Die lang dae in die somer kompenseer vir die kort dae in die winter. Die weer in Wellington verander ook so vinnig dat voordat jy voel jy kan dit nou nie meer vat nie, dan het dit opgehou reen of die son kom uit en die koue verdwyn of die wind gaan le.

Dit is nie langdurige koue of wind of reen nie. In die somer het dit soms vir 3 tot 4 dae gereen en omdat ons nog nie goeie reenjasse gehad het nie, was dit irriterend. Dit is ook koud as dit reen en ons popspeelhuis is nou nie die warmste plek op aarde nie, maar nou het ons 'n verwarmer, mussies, handskoene en reenjasse. Ons verstaan hoe om aan te trek om die weer die beste te verdra. Ons is natuurlik ook meer blootgestel as die meeste ander mense deur dat ons nie 'n kar het nie en elke dag 500 meter moet loop na die busstop en terug, reen, wind of sneeu. Dis so bietjie nie lekker nie, maar ons is nou al fiks en kan die bult met 'n spoed uitstap.

Ons het verwag om ons dood te sukkel om die wasgoed droog te kry en selfs dit was tot nou toe nie so erg nie. As die wind waai, al skyn die son nie, is die wasgoed in 'n japtrap droog. Ons het tot onlangs amper nooit die droeer gebruk nie, nou in die winter is dit meer van 'n probleem omdat die dae so windstil is en ek werk en Rialeen is by die klas. Daar is nie 'n ousie om dit vir ons te doen nie. As ons oor die naweek goed wil doen, is daar nie tyd vir was nie.

Hier het mense 'n 'airer' wat ons 'n druprak sal noem. So, ons was gereeld 'n klein hoeveelheid wasgoed en hang dit op die 'airer' en die volgende dag gaan dit vir 'n klein rukkie in die droeer en sie daar! Ons klere hoef nie eens gestryk te word nie.

Omdat die uv so hoog is, dra die kinders altyd 'n hoed as hul buite speel en ek het ook sommer gou 'n somershoed aangeskaf. Wat baie irriterend is, is my bril wat ek in Suid-Afrika laat maak het kort voor ons daar weg is (op aanbeveling van ander slimmense). Die glasse word donker as jy buiten toe gaan. Glo my, dit werk nie hier nie. My lense is permanent donker, of ek nou binne of buite is. Oral is groot vensters (ook in ons popspeelhuisie) en die uv is so hoog dat my lense nie 'wit' wil word nie. Die mense hier dra ook nie sulke brille nie en dis eintlik 'n verleentheid as jy met mense praat in 'n vertrek en jy het donker lense. Ek probeer dus nou weer oorskakel na kontaklense.

By Specsavers hier kan jy 2 brille vir $280 (R1680) kry en 'n konsultasie kos $40 (R240). Dit is dus glad nie so duur nie. ('n Mens moet nie jou ore uitleen nie.) Almal het ook gese ek moet sorg dat ek my tandarts besoek. Ek het 'n kroon laat vervang en ander werk aan my tande laat doen voordat ons weg is. Die tandarts het drooggemaak, nou sit ek hier en ek kan nie teruggaan na hom om sy brouwerk reg te maak nie. Nou die aand toe ek nog so lekker eet, breek 'n stuk tand af (waar hy gewerk het). Nou moet ek in elkgeval 'n tandarts hier gaan sien.

Dit is wat ons nou maar hier geleer het. Dra die klere wat jy hier koop, want dit pas by die klimaat. Koop beddens hier, want die matrasse het aan die eenkant 'n heerlike skaapwol laag waarop jy in die winter slaap, in die somer draai jy dit weer terug ens ens. Ek is dus baie bly dat ons besluit het om net met 'n tas hier aan te kom. Alles wat ons nou besit, is geskik vir hierdie klam, nat omstandighede of die koue in die winter. Dit het ons R20 000 gekos om alles te koop wat ons nodig gehad het. Dis niks luuks nie en ons sal seker later as ons in 'n groter plek intrek, ons besittings aanvul. Ons het van potte en panne, borde, koppies, stofsuier, wasmasjien, droeer, yskas, mikrogolf, komberse tot 'n sker, 'n klitser, 'n naaldwerkmasjien gekoop. Dit sou ons baie meer gekos het om alles wat ons besit het hierheen te bring.


Geen opmerkings nie: