Ek moes 'n nuwe polisieklaering kry om saam met my aansoek by die New Zealand Teachers Council in te handig. Hulle was nie tevrede met die een wat ons gekry het vir ons residensie nie. Dit was te oud. Ek sit toe mos nou reeds hier in Wellington en het eerstens nie 'n clue hoe om 'n so iets te kry van hier uit die vreemde nie.
Hendrik bel die die polisie hoofkantoor in Pretoria, maar hul is van mening dat ek in Suid-Afrika moet wees om daarvoor aansoek te doen. Theo, Hendrik se broer wat in Holland woon, vertel toe dat hy in Singapoer was toe hul aansoek gedoen het om Holland toe te gaan. Hy het na die ambassade gegaan en hul het sy vingerafdrukke en alles daar gedoen.
Eerstens werk ek op daardie stadium elke dag agt ure (+ een uur verpligte ete). Daar is nie 'n manier dat ek gedurende kantoorure by die konselaat kan uitkom nie, maar ek en Rialeen kyk op die internet vir die adres en telefoonnommer. Ek probeer hul herhaaldelik gedurende my etensuur bel, maar heellaas geen antwoord nie. Een Maandag werk ek nie en ek sit af na die adres wat ons op die internet gekry het.
Daar aangekom, sien ek geen aanduiding dat die Suid-Afrikaanse konselaat in die Vodafone gebou is nie en op die vlak wat hul aangee, is net 'n parkade. Ek sms Rialeen by die universiteit, maar sy is besig en ek moet 'n halfuur wag. Sy google weer vir my en verseker my dat dit moet in daardie gebou wees. Ek gaan op na 'n vlak waar ek sien daar word aangetoon dat daar prokureurs ens is. Die ontvangsdame daar verseker my dat die konselaat nie in daardie gebou is nie.
Rialeen se ek moet wag sy kom help my nadat haar klas verby is. Ek stap maar biblioteek toe en wag daar vir haar. Sy google weer en vind tog 'n tweede adres. Ons twee is op die einde saam daarheen en sien darem die Suid-Afrikaanse vlag voor 'n gebou en is daarin. Heellaas is die kantore daar, maar dit is toe. Ons ruk en pluk aan die deure, maar nee, dit is gesluit. 'n Hele oggend daarmee heen!
Terwyl ons vir die hysbak voor die kantore staan en wag, sien ek iets wat vir my lyk soos 'n interkom. Ek druk die knoppie en wragtig, iemand antwoord aan die anderkant ( hierdie is New Zeeland nie Suid-Afrika nie. Jul hoef nie die deur te sluit nie). Woeps gaan die deur oop en ons kan ingaan. Dankie tog! Nee, se die dametjie agter glasvensters, hul doen nie vingerafdrukke by die konselaat nie. Sy sal vir my die link email waar ek die nodige vorms kan kry en dan kan ek na die polisiekantore gaan om my vingerafdrukke te laat maak.
Jippie! Nou weet ek ten minste wat om te doen. Ek druk die vorms uit en voltooi dit, maar die res van die week spandeer ek weer my nege ure elke dag by die werk en ek kan eers Saterdagoggend na die Johnsonville polisiekantore gaan. Daar aangekom, so in die omgewing van tienuur, sien ek die deure is toe. Ek sien weereens iets wat lyk soos 'n interkom en ek druk die knoppie. Dit begin lui soos wanneer 'n mens 'n nommer op 'n foon sou bel. Iemand antwoord aan die anderkant, konstabel 'somebody' by die Wellington polisiestasie. Ongelukkig is die polisiekantore net tussen nege en vier uur oop, Maandag tot Vrydag. Hhrrrr!! Ek wil slange vang.
Die volgende week werk ek veertig ure en kan nie tussen nege en vier by die polisie 'n draai maak nie. Rialeen google weer en sien dat in Wellington CBD is die polisiestasie 24/7 oop. Sondag na kerk is ons op die bus stad toe. Nee sorry, hul kan dit nie oor die naweek doen nie, hul het nie genoeg personeel aan diens nie. Ek moet in die week kom gedurende kantoorure.
Nou al goed gatvol, drie weke is nou al verby en ek wil my aansoek in kry by die NZTC, vra ek by die werk om Dinsdag so 'n bietjie later in te kom, sodat ek net gou na nege by die polisiekantore in Johnsonville kan gaan om my vingerafdrukke te maak. Maar moenie glo nie, toe ek daaraan kom, moet ek hoor dat ek 'n afspraak moet maak, want daar is net twee personeellede aan diens en hul doen dit net elke tweede Dinsdag. Ek moet dus twee weke wag voordat ek kan kom om dit te laat doen.
Die mense by die werk lag te lekker en se: "Don't worry, you'll get there" (New Zeelanders se manier van se "more is nog 'n dag".) Wel, na twee weke het ek daar ge-get en is my vingerafdrukke gemaak en my vorms is na Hendrik gepos in Pretoria. Hy het dit na 'n week gekry en gaan ingee en ek wag nou nog vir my polisieklaering. Gelukkig het die vrou by die NZTC gese my aansoek sal in Augustus voor die raad kom al is my polisieklaering nie daar nie. Hul sal net nie my sertifikaat uitreik voordat hul nie die polisieklaering ontvang het nie.
Jul moet dus verstaan dat die polisie hier nie baie werk het nie. Klink my daar is ook nie veel polisiemanne nie. Daar is soos stokou tannies wat jou help by die toonbank. By die Johnsonville kantore het die stokou tannie (sekerlik al in die tagtig) vir my gesê sy is net 'n vrywilliger. Toe ek vir haar se ek sal haar seker weer in twee weke sien as ek my vingerafdrukke kom maak, sê sy sy dink nie so nie. Daar sal seker iemand anders daardie dag werk. Ja sure, ek dink sy was nie seker of sy nog 'met ons sal wees' nie.