Daar is baie te leer in moeilike tye, nie net van jouself nie, maar van jou familie, vriende, kennisse en vreemdelinge. 'n Mens kan 'n studie doen en mense klassifiseer in groepe in terme van hoe hul reageer as hul gekonfronteer word met mense in my situasie. My situasie is dat ek Kop en Nekkanker het, met opsigtelike operasie wonde wat ek nie kan wegsteek nie, van waar my lip middeldeur gekloof is tot agter my linkeroor. Asof dit nie genoeg is nie, is daar 'n aggressiewe limfklier wat in my nek, naby my oor, groei teen 'n spoed. Dié kan ek ook nie wegsteek nie. As dit nie op my eie gesig was nie, sou ek dit beskryf as grillerig of konfronterent. Ek sou definitief nie daarna wou kyk op iemand anders se gesig nie, want dit is gross. Daarom verstaan ek dat dit vir mense na aan my nie maklik kan wees nie.
Etter loop uit die limfklier wat ontsteek geraak het na die biopsie gedoen is. Daar is geen hoop dat dit sal ophou voordat ek die radioterapie voltooi het nie. Die dreinering veroorsaak baie verleentheid, want dit diskrimineer nie tussen plek en tyd nie, as ek weer voel loop dit in my nek af. Deesdae dra ek 'n strop om my nek om dit in toom te hou.
Maar so moet ek nou maar saamleef daarmee asook met ander se reaksie daarop. Ek is natuurlik van die weghardlopers. As ek met ander se siektes gekonfronteer word, raak my tong dik en my bene lam, ek kan aan niks dink om te sê nie en sal alles doen om die situasie te vermy. Ek het dus begrip vir mense wat verkies om weg te kyk en die eerste geleentheid gebruik om te ontsnap.
Vir baie mans is dit makliker om 'n grappie te maak of iets ligssinnigs te sê. Ek het respek vir dit, want 'n bietjie humor kan enige spanningsvolle situaie ontlont. Party gee drukke en soene en belowe hoe hul sal kom kuier en jy sien hul nooit weer nie. Ander helder jou dae op met onverwagte blomme of besoeke en selfs 'n klein geskenkie. Party stuur vir my inspirerende kaartjies op WhatsApp of Facebook met verwysings na die Bybel en geneesing ander verkies 'n meer ernstige trant en vind trooswoorde direk van uit die Bybel. Hul erken dat hul nie antwoorde het nie, maar God sal vra dat Sy wil geskied. Hul bid ook vir my en my gesin om sterk te staan in die moeilike tyd.
Ander gesels net gereeld met my op WhatsApp oor alledaagse gebeure, vra uit oor wat aangaan met my behandeling en hoe ek voel, haal 'n Bybelvers aan om my te vertroos. In die oggend vroeg is daar weer 'n groet en verwysing na varsgemaakte koffie en wense vir 'n goeie dag. Alles op 'n ligte trant wat ou vriendskappe weer opwarm en by my 'n gevoel van opregte omgee en belangstelling skep.
En dan is daar die wat drie keer op 'n dag stuur: "Hello. Hoe gaan dit daar?" Of jy dadelik antwoord of twee ure later, die reaksie is dieselfde... geen verdere reaksie. Hoe dit gaan, is irrelevant, hul het mos darem gevra. Party leef in ontkenning en wil die hele tyd jou verseker dat alles reg sal eindig, ek moet net vasbyt. Ander besef ten minste dis nie so eenvoudig nie en probeer my troos en moed in praat vir wat ook al vir my voorlê, selfs moontlik die dood,
Ek probeer maar net my kop stil hou, top oor niks, dink aan niks, vertrou op niks. Leef van oomblik tot oomlik, want ek weet nie wat die uitkoms gaan wees nie, God alleen weet. Ek weet wat ek wil hê, natuurlik lewe! Maar soos Aisling, ons vierjarige kleindogter, te reg sê, ons kan nie alles kry waarvoor ons vra nie. My gebede het opgedroog en ek maak staat op ander se gebede namens my, want my kop is leeg. Wat mag ek vra? Mag ek vra om te lewe, terwyl ander om my doodgaan van kanker, jongmense met klein kindertjies? Wie is ek om te dink ek mag nog jare tot my drie-en-sestig voeg?
Ek wil net deur ses weke se chemo en bestraling kom op 'n manier waarop dit vir my kinders verdraagsaam is, sonder om my te sien met my kop oor 'n toiletbak hang of in 'n hospitaal bed omdat ek niks binne kan hou nie. As ek dit kan doen, mag die lewe dalk weer ander betekenis hê en sal ek weet of daar hoop is. Is die nuwe kankeragtige limfklier vernietig deur die behandeling of moet dit nog weer chirurgies verwyder word? Dan is daar die ses weke wag voordat die eerste kankertoetse en skanderings gedoen word om te bepaal of my liggaam vry is van die kanker. Maar daaroor kan ek net droom, dis nog ver in die toekoms.
Vir nou moet ek net Maandag se derde chemo oorleef sonder om te braak, sonder om weer meer as die helfte van die week in 'n hospitaalbed te spandeer en hopelik teen volgende naweek dit weer reg te kry om die wêreld in die oë te kyk. Tien van drie-en-dertig bestralingsessies is reeds afgehandel, vordering is dus goed. Ek het 'n skrale 2.5 kg gewig verloor oor die laaste twee weke, maar die slim mense dink dis teveel. Ek neem nou Ensure om my etes aan te vul. Dit help dat ek meer energie het en meer rondbeweeg in die huis, anders lê ek teveel op die bed. Almal beveel darem aan dat ek soveel moontlik moet rus, maar slaap ontwyk my en angs oorval my as ek so lê en probeer om my kop leeg te hou.
Maak nie saak hoe jy jou omgee wys nie, dit beteken baie vir my. Ek sukkel baie met empatie en weet hoe moeilik dit is om die regte woorde te vind in moeilike situasies soos dié. Selfs sommige van die professionele personeel het 'n natuurlike empatie terwyl ander moeilik kommunikeer en nie weet nie hoe om hul kennis simpatiek oor te dra nie. Van familie, vriende en kennisse vra ek net gebede. Sonder almal se gebede kan ek nie hierdie paadjie suksesvol voltooi nie. As jy iemand is wat nie bid nie, vra ek net positiewe gedagtes vir fisiese krag en emosionele sterkte om die kanker te kan veg vir so lank ek nodig het.
Opstaan uit die bed en stort is 'n stryd, maar ek moet vyf dae van die week by die hospitaal aanmeld vir bestraling en Maandae vir vier ure se chemo. Daar is nie meer iets soos grimering of mooi gekamde hare nie, net stort, los klere, tandeborsel en vingers deur die hare en ek is reg om te ry (tot Hendrik se vreugde😊).