Vanaand, net na ons van die hospitaal gekom het (dis later se storie), het John met sy boemelaarsklere hier aangekom om vir ons die goeie nuus te bring dat sy dogter (wat in New York woon en met die Turkse ambassadeer getroud is) die huis, wat ons by hom huur, Vrydag op die veiling gekoop het. Sy seun het namens sy dogter die veiling bygewoon en gesorg dat hy die hoogste bod insit. John het baie tevrede gelyk, lekker gelag en gesê, hy is nou nie meer die landlord nie maar die caretaker. Vir ons is dit 'n groot verligting na 'n rowwe week. Ten minste hoef ons nou nie te trek nie.
(Dit is sneeu, maar dit is ook later se storie)
Die week se drama het begin toe ek Dinsdag van die werk afkom en my bed bestrooi kry met bebloede watte en pleisterpapiertjies. Ek het sommer dadelik geweet Rialeen het seker haar vinger 'afgesny', want sy was besig met houtjies, klippies, draadjies en 'n NT-cutter vir een van haar werksopdragte. Sy het my dadelik verseker sy het nie haar vinger afgesny nie, net haar linkerhandse duim ernstig gewond (ek kyk nie na wonde nie, as ek wou, sou ek 'n verpleegster geword het). Op my aandrang is sy die volgende dag na die universiteit se kliniek om die wond te laat skoonmaak deur die verpleegster daar. Al wat ons by die huis het, is 'n groot bottel Dettol en Savlonsalf van 'n vorige keer wat ek 'n splinter onder my nael gekry het toe ek te oorywerig in die tuin gewerk het.
Kort voor lank kry ek 'n 'text' (soos sms hier genoem word) dat sy moet 'n Tetanusinspuiting en steke kry. Sy moet wag vir 'n dokter, want hul dink sy het die spier afgesny. Ek was bang dat sy dalk 'n senuwee of iets kon beskadig het, want sy het gekla dat sy die duim nie so lekker kan beweeg nie. Die dokter verwys haar na die Hutt Hospitaal se 'Burn and Plastic Surgery Unit'. Die Hutt Hospitaal is 'n opleidingshospitaal en van ons huis af moet ons twee busse of treine kry om daar uit te kom, maar sy gaan sommer direk van die universiteit se kliniek na die hospitaal. 'n Handchirurg kyk na haar duim, dit moet definitief geopereer word om die spier te heg. Sy hoef haar nie te bekommer nie, alle kostes sal gedek word deur die Accident Compensation Corporation (ACC). Hul plaas haar naam op 'n waglys vir die teater.
Die middag teen 17h30 het daar nog niks gebeur nie en hul stuur haar huis toe. Hul sal haar die volgende oggend kontak om te se wanneer sy weer moet inkom. Min besef ons dit is die begin van 3 dae se wag sonder kos of water, want 'n vinger is nie prioriteit nie (wat ek kan verstaan). Elke keer is daar 'n belangriker noodgeval wat voorkeur kry.
Donderdagoggend het hul haar vroeg gebel en gese sy moet dadelik ontbyt eet en dan vir die res van die dag niks verder eet of drink nie. Elke kort-kort het 'n verpleegster gebel om te hoor of sy gereed sit om in te kom as daar 'n opening is. Toe ek van die werk af kom, het dit so op my senuwees gewerk dat ek voorstel dat ons tot in Petone ry. Dan is dit ten minste net een bus tot by die hospitaal (twee busse gaan ons meer as 'n uur neem om daar te kom, dan het hul klaar weer iemand anders ingepas).
Ons is toe Petone toe na die 'Suid-Afrikaanse winkel' (On Trays) om biltong te koop en nonsens te praat met die ander oud-Suid-Afrikaners wat daar werk en shop. Daarna is ons na die Hollandse winkel waar ons kaas, lewerpate en liquorice koop. Vyfuur bel hul Rialeen en se sy moet wag tot sewe-uur. Ons vat toe maar 'n bus na die Queensgate Mall wat so 2 kilometer van die hospitaal is. Rialeen is teen daardie tyd al bewend van die honger en nie juis lus om rond te loop nie. Ons sit maar by 'n cafe en ek drink 'n glaswyn, want ek wil nou ook nie voor haar sit en eet nie. Sewe-uur bel die hospitaal om te se hul gaan haar nie ingepas kry nie. Hul sal haar op die volgende dag se waglys plaas. Jubbelend eet ons iets by die mall en keer huiswaarts. Min wetend dat Vrydag nie die einde van die storie sal wees nie.
Om 'n vreeslike laaang storie, korter te maak, Vrydag het Rialeen ook sonder kos en water gegaan. Ons het mekaar die middag by die stasie ontmoet, want dan hoef ons ten minste ook nie weer oor te klim op 'n bus na die hospitaal nie. Na ses het hul laat weet dat hul haar nie ingepas gaan kry nie en dat sy Saterdag tienuur moet inkom om opgeneem te word as 'n 'inpatient'.
Saterdag sit ons weer af met twee busse na die hospitaal, gewapen met boeke, koeldrank en snoepgoed. En ons wag, en wag en wag ... Rialeen mag nie eet nie, ek gaan eet bacon en eiers en drink 'n chai latte by 'n cafe oorkant die hospitaal. Net toe ek teen kwart oor ses, besluit om maar huis toe te kom, want ek raak bekommerd oor die beskikbaarheid van openbare vervoer op 'n Saterdagaand, besluit hul sy moet teater toe gaan. Hul stel my gerus, ek kan maar wag tot sy uit die teater kom en as sy wil, kan sy die nag oorbly. Hul verstaan nie van openbare vervoer nie! Dis oorklim van een bus na 'n ander, Saterdag, minder busse, aand ... donker ... nog minder busse. Wel, ek het nou die hele dag daar gesit, nog 'n uur sal seker nie 'n verskil maak nie. Toe sy na 'n uur daar uitkom, lyk dit meer of sy haar hand afgesny het.
Saterdag sit ons weer af met twee busse na die hospitaal, gewapen met boeke, koeldrank en snoepgoed. En ons wag, en wag en wag ... Rialeen mag nie eet nie, ek gaan eet bacon en eiers en drink 'n chai latte by 'n cafe oorkant die hospitaal. Net toe ek teen kwart oor ses, besluit om maar huis toe te kom, want ek raak bekommerd oor die beskikbaarheid van openbare vervoer op 'n Saterdagaand, besluit hul sy moet teater toe gaan. Hul stel my gerus, ek kan maar wag tot sy uit die teater kom en as sy wil, kan sy die nag oorbly. Hul verstaan nie van openbare vervoer nie! Dis oorklim van een bus na 'n ander, Saterdag, minder busse, aand ... donker ... nog minder busse. Wel, ek het nou die hele dag daar gesit, nog 'n uur sal seker nie 'n verskil maak nie. Toe sy na 'n uur daar uitkom, lyk dit meer of sy haar hand afgesny het.
Ek sien nie kans om die reis huis toe alleen aan te pak nie en Rialeen besluit om saam met my huis toe te gaan, hoewel die personeel haar probeer oortuig om die nag te bly. Teen die tyd wat sy klaar geëet, aangetrek ('n reuse gesukkel), arm in sling, instruksies gekry het oor opvolgbesoeke, moets en moenies, medikasie ens., het ons die voorlaaste bus net gemis. Die volgende bus na die mall kom eers oor 'n uur, daar moet ons oorklim na 'n bus na die stasie en ons moet betyd wees vir die laaste trein wat elfuur van die stasie vertrek. Ons begin toe maar aanstap mall toe.
Dis 'n lieflike warm aand en ons geniet die stappie baie, maar ons besef hoe beperk ons tyd is om die laaste trein te vang. Weereens mis ons die bus net met 'n minuut of twee en die volgende bus kom eers oor 'n uur en dan gaan ons die laaste trein verpas. Ek is honger, die middag laas geëet, Rialeen is dors en alles in die omgewing is toe. Moedeloos besluit ons om om die mall te stap en te kyk of daar nie tog êrens iets oop is nie. Dis toe dat ons twee taxi's langs die pad sien staan en net daar besluit ons, vanaand is 'n noodgeval en ons sal maar die pad huis toe met 'n taxi aanpak, $44 (R265) later kom ons doodmoeg, dors en honger by die huis aan. Ons is net besig om water te kook en vleis te ontvries in die mikrogolf, toe John aan die deur klop om vir ons die goeie nuus te bring van die verkoop van ons popspeelhuisie.
Ten minste het die hele episode ons niks gekos nie, alle dokters- en hospitaalkostes is gedek deur die ACC. Dis net tyd en busgeld. Rialeen het klomp klasse gemis en wag vir 'n verslag van ACC af wat sy by die universiteit moet indien. Sy moet ook vir opvolg besoeke na die hospitaal gaan om die wond te versorg en terapie te ontvang. Ons is nou darem baie dankbaar dat ons maar deurgedruk het. Soos die dokter vir haar gesê het, 'n duim is belangrik veral in die rigting wat sy swot (Industrial Design). Sonder die gebruik van 'n duim kan 'n mens nie 'n goeie greep kry nie.
Sy is nou net soos 'n gestremde en ek moet vroeg uit die bed spring om haar te help aantrek. Sy kan ook met niks in die huis help nie en ek moet al die was, skrop en kook self doen. Sy kan ook nie haar werksopdrag voltooi waarmee sy besig was toe sy haarself tot in die hospitaal in beseer het nie. Dis 'n stryd met net een hand op 'n bus met jasse, mussies en handskoene in die sneeu (ja, Sondagmiddag het dit begin sneeu!). Hopelik is dit net vir 'n week. Die terapeute sal seker darem vir haar 'n beter kontrapsie kan uitdink as die stuk gips van die dokter!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking