Ek het so pas gehoor dat my aansoek om registrasie by die New Zealand Teachers Council goedgekeur is. Nou moet ek net my registrasienommer kry en dan kan ek amptelik as 'n geregistreerde New Zeelandse 'early childhood teacher' werk. Finansieel beteken dit vir my baie en ek kan nou aansoek doen vir 'n permanente pos as ek wil, maar daaroor sal ek nog besluit. Ek voel darem ek verstaan beter hoe 'early childhood education'(ECE) in New Zeeland werk as vyf maande gelede. Kindercare is die naaste aan wat ons geleer is en hoe ek weet kleuterskole in Suid-Afrika funksioneer.
Hier is elke kind tussen die ouderdom van drie en vyf jaar geregtig op twintig ure per week gratis kleuteronderwys. Die staat gee dus vir al hierdie ouderdom kinders 'n subsidie en daarom kry jy groot organisasies wat tientalle kleuterskole in New Zealand besit.
Sodra die kind dus vyf jaar oud word verloor die ouer die subsidie, meeste kinders gaan skool toe op die dag wat hul vyf word. Kinders begin dus nie soos in Suid-Afrika almal in Januarie skool gaan nie. Jou skoolloopbaan is ook dertien jaar lank en nie twaalf soos in Suid-Afrika nie. Meeste kinders voltooi skool voordat hul agtien word.
'Early childhood education' begin ook by geboorte en alle onderwyspersoneel by Kindercare is opgeleide en geregistreerde ECE onderwysers. Die subsidie wat die 'day care centre' kry van die minister van onderwys, word bepaal deur die aantal geregistreerde onderwysers. Hul wil dus nie onopgeleide personeel aanstel nie. Waar ek werk is daar vyf opgeleide onderwyseresse wat na twintig baba's van drie maande tot twee jaar kyk. Daar is nie iets soos 'n klashulp of assistent nie. Alles word deur die onderwyseresse gedoen van doeke omruil, bottels gee tot vloere was en matte suig.
In Suid-Afrika kan daar seker maklik tot 25 kinders per onderwyser wees. Hier is dit 3-4 baba's per onderwyser, 5-6 toddlers en 8-10 kinders ouer as 3 jaar. By Kindercare is daar dus 'n kamer vir baba's met 5 onderwysers, 3 onderwysers by toddlers en 2 onderwysers by pre-school 1 (2-3jaar), 2 by pre-school 2 (3- 4 jaar) en 2 by pre-school 3 (4-5 jaar). Elke kamer het ongeveer 20 kinders per dag daar. Meeste kinders kom nie elke dag nie, maar net sekere dae van die week.
Selfs in die kleuterskool beweeg die kinders die hele tyd op na 'n 'hoer' groep. As die kind oud genoeg is of hul dink hy kan aanpas by 'n ouergroep, word hy uit sy kamer gehaal en aangestuur na die volgende ouderdomsgroep. Hul wag nie vir die einde van die jaar nie. Die kind is dus nie sy hele kleuterskoolloopbaan saam met dieselfde kinders in 'n kamer nie.
Die program wat hul volg verskil nie baie van Suid-Afrika s'n nie, maar daar is amper geen gestruktureerde aktiwiteite nie. Die kind het altyd 'n keuse of hy wil deelneem of nie en daar word genoeg aktiwiteite uitgesit dat hy kan kies wat hy wil doen. Die kinders kry soveel persoonlike aandag met al die onderwysers in die klas, daar is altyd iemand om te help met 'n legkaart, 'n verfaktiwiteit, 'n drukkie te gee waar nodig, aanmoediging te gee, 'n gestry uit te sorteer ens. Meeste van die tyd kan hul ook of binne of buite speel. Daar is genoeg personeel dat party binne bly en ander buite is.
Kindercare is ook vegetaries en geen vleisgeregte mag aan die kinders bedien word nie. Hul mag wel melk en eiers in die voorbereiding van die kos gebruik. Hulle bedien ook 'morning tea' teen so halftien wat gewoonlik uit 'n southappie bestaan bv skons met marmite, 'crackers' en kaas. 'n Verskeidenheid vrugte in seisoen word elke dag bedien soos opgesnyde lemoen, waatlemoen, kiwi's, piesangs en gedroogde vrugte (rosyne, appelkose en cranberries). Soms kry hul net Yoghurt en varsvrugte vir 'morning tea'. In die middag so halfdrie kry die kinders 'afternoon tea' wat ook weer uit 'n verskeidenheid vrugte bestaan en 'n soetgebak soos piesangbrood of skons met arbeikonfyt. Dis natuurlik nou afgesien van die gewone middagete wat uit groente, stysel en proteien (eiers/melk) bestaan. Die kinders kry ook nooit iets anders om te drink as water nie.
Daar is 'n vrou (ou tannie soos ons in SA sou se), Pauline, wat die chef is. Sy alleen doen al die aankope van die skoonmaakmiddel en ander kruideniersware, voorbereiding van die kos, was die wasgoed (beddegoed, waslappe, borslappe, ens) en suig die matte in die voorportaal en personeelkamer, hou die personeeltoilette skoon en was al die skottelgoed. Ek en sy kom vreeslik goed oor die weg en sy het my genomineer as die kombuissielkundige want anders, soos sy sê, 'sal die plek haar mal maak'. Ek moet dus elke dag 'n draai maak om te hoor hoe gaan dit met haar en sy is baie vies as ek nie werk nie, want dan is daar niemand wat na haar gekla wil luister nie. Soms kom praat sy sommer daar waar ek met die kinders besig is met my. Sy voel vreeslik jammer vir my omdat ek my man en kind in Suid-Afrika gelos het om na New Zeeland te 'vlug' (soos sy dit verstaan). Sy is dus eintlik meer my sielkundige as ek hare. Sy het 'n uitstekende kennis van Suid-Afrika en ons geskiedenis en het baie goeie vriende wat van Rhodesia via Suid-Afrika na New Zeeland gekom het. Hulle het alles verloor nadat daar op hul plaas beslag gelê is. Sy is 'n regte karakter en 'n comic. Ek geniet haar baie.
Dan is daar natuurlik Justina wat die manager (of 'centre director') is en Cariena wat die 'administrator' is. Cariena kyk mooi na my en sorg dat ek genoeg werk dat ek kan oorleef. Sy is die ontvangsdame en doen al die administrasie. Hulle twee gaan aan die einde van September weg om 'n nuwe sentrum van Kindercare in Upper Hutt te open. Hul was dus net hier by Tawa om die sentrum aan die gang te kry. Hul albei woon in Lower Hutt en het voorheen daar by 'n sentrum van Kindercare gewerk.
Dan is daar natuurlik Justina wat die manager (of 'centre director') is en Cariena wat die 'administrator' is. Cariena kyk mooi na my en sorg dat ek genoeg werk dat ek kan oorleef. Sy is die ontvangsdame en doen al die administrasie. Hulle twee gaan aan die einde van September weg om 'n nuwe sentrum van Kindercare in Upper Hutt te open. Hul was dus net hier by Tawa om die sentrum aan die gang te kry. Hul albei woon in Lower Hutt en het voorheen daar by 'n sentrum van Kindercare gewerk.
Nou ja, nou weet jul so ietsie meer van 'early childhood education' in New Zealand, maar dit is nog net eintlik hoe Kindercare funksioneer. Daar is nog baie meer om te vertel, want hier word voorskoolse onderwys baie hoog geag deur die staat. Ek het ook vir ABC gewerk toe ek nog deur Randstad Education uitgestuur is na skole en vir 'n privaatskool om die draai van waar ons woon. Dit is 'n hele ander storie, maar ek sal op 'n ander geleentheid meer daarvan vertel.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking