My grootste vrees is, om nie wakker te word nie na die elfuur lange operasie. Die lengte van die operasie maak die risiko dat iets verkeerd kan loop net soveel groter, maar terseldertyd weet ek dat ek tyd gehad het om myself voor te berei en my familie te groet. Soveel keer het ek in my lewe gesien waar iemand net skielik weggeneem is deur 'n motorongeluk of een of ander frats ongeluk of moord. Dis baie hard vir hul geliefdes wat agterbly. Hul het geen afsluiting gehad nie, geen afskeid. Dit is wreed en baie hard om te verwerk.
Ek besef nou net hoe sterk die instink om te lewe is. Depressie vat daardie instink weg. Die feit dat ek so graag wil leef, sê vir my dat ek nie depressief is nie, net bang vir wat voorlê. Aan die eenkant wil ek dit verby hê, want die pyn in my mond maak my mal en ek kan nie eet nie. My mond is hipersensitief en kos gaan in die kankerseer in of in die wonde waar my tande uitgetrek is. Aan die anderkant wens ek die tyd om in die teater te gaan wil nooit kom nie of na die ekstreem, wens ek dit het nooit op my pad gekom nie. Ek weet egter die kanker is nou hier en ek moet veg om anderkant uit te kom.
Toe ek deur die depressie gegaan het, het die psigiater by die krisiskliniek (wie se ouers ook baie jare gelede van Suid-Afrika gekom het) vir my gesê, ek probeer te hard om uit die depressie te kom. Hy wou hê, ek moet luister na wat my liggaam sê, ek het myself uitgebrand en ek het rus nodig. Ek kon nie help om te veg nie, wat met my gebeur het, was nie iets wat ek voorheen in my lewe ervaar het nie. Dit het my lam gelaat en al die plesier uit ons lewens gevat, ek kon geen toekoms sien nie, nie vir my, my kinders of Aisling nie. Ek het geweet, ek moet die depressie afskud of doodgaan. 'n Mens kan nie leef sonder 'n toekomsvisie nie óf met angs wat alles oorheers nie.
Wat ek nou ervaar is nie angs nie, dit is 'n vrees vir dit wat vir my voorlê, want ek het geen verwysing van hoe ek dit gaan hanteer nie, gaan ek dieselfde wil hê om dit te veg soos ek die depressie geveg het of gaan ek die instink verloor om te wil leef? Pyn is vernietigend en ses weke se bestraling in my gesig gaan baie pyn veroorsaak. Dit gaan die plesier van eet en gesels van my wegneem. Lag is alreeds pynlik soos ek hier sit. Hoe lank gaan dit vat voor ek dit alles weer kan geniet sonder pyn? Vrae en nog vrae waarvoor ek nie antwoorde het nie, die dokters sê, ses maande tot 'n jaar. Kan ek solank uithou? Vir my klink dit soos 'n martelling!
Maar ek besef, ek is nie alleen nie. Ons buurman, Dave, is pas deur die behandeling vir prostaatkanker en beplan 'n vakansie in Australia. So daar is lewe na kanker! Allan wat hoër op in die straat woon, stap elke dag met sy hond, Stella, hier verby ons huis. Vandag het Hendrik hom vertel van my ellendes en hy het vir Hendrik gesê, dat sy vrou dieselde deurgemaak het, meer as vyftien jaar gelede. Haar neus moes weer opgebou word deur middel van plastiese chirurgie. Hy klink sommer baie positief en het my genooi om met haar te kom gesels as ek down in the dumps voel.
Ek is ook lid van 'n ondersteuningsgroep op Facebook. Almal in die groep het een of ander vorm van kanker van die kop of nek gehad of is besig om deur behandeling te gaan. Die groep beteken vir my baie en beantwoord baie van my vrae en kwellinge. Daar is ook baie inligting wat gedeel word. 'n Mens het hierdie soort ondersteuning nodig waar mense uit ondervinding praat en jou uit die as uit oplig.
Maar ek sien die positiewe raak. Daar is soveel mense wat nou na my uitreik en vir my bid. Die gevoel van verlatenheid was oorweldigend toe ek deur die depressie gegaan het, maar nou is ek omring met mense, van oral oor die wêreld, wat na my uitreik en vir my bid. Wat 'n voorreg!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking