Saterdag 05 Oktober 2019

New Zealand vs Suid-Afrika

Dis nou al meer as agt en 'n half jaar wat ons hier in Wellington woon. As mens so lank in 'n ander land woon, het jy nie meer 'n verwysing van hoe jou lewe sou afgespeel in jou geboorte land nie. Dit kon dalk baie beter gewees het om omring te wees deur ons geliefdes en sonder die verlange na hulle. Dit sou vir ons moontlik gewees het om dié wat siek geword het of dié wat geliefdes verloor het, te ondersteun met ons teenwoordigheid. Hoe sal ons weet? Dit kon 'n tyd gewees het waarin elkeen van ons maar net aangegaan met ons eie lewe en ons geliefdes in elkgeval maar net hul eie lewens gelei het. Ons kon misdaad en geweld aan ons lyf gevoel het. Ons moes dalk ons eiendom verkoop om Hendrik se kankerbehandeling te kon bekostig. 

Hendrik sou daar ook sonder werk gewees het, want daar was verwag van die witmans bo 55 jaar ouderdom, om op vroeë pensioen te gaan of 'n pakket te vat en dis wat Hendrik gedoen het. Die kans om weer 'n werk te kon kry in Pretoria omgewing, was maar dieselfde as om hier 'n werk te kry. Die verskil is net, ons sou nie in Suid-Afrika op my inkomste alleen kon lewe nie.

Aangesien ons dit nie weet hoe ons lewens sou wees in Suid-Afrika nie, kan ek net praat oor die realiteite van hoe ons lewens verloop het hier in New Zealand. Baie dinge het verkeerd verloop, maar niks van dit het ons ooit laat besluit om terug te gaan Suid-Afrika toe nie, want dit was die soort goed wat daar ook oor ons pad kon kom. Die enigste tyd wat ek getwyfel het oor ons besluit om hierheen te kom, was toe ek in die dieptes van depressie ingetrek was, maar die oomblik wat ek daaruit gekom het, het ek weer die seëninge getel wat ons in New Zealand beleef.

Toe ons Suid-Afrika verlaat het was Sulet getroud. Sy het 'n buitengewone verhouding met haar skoonma gehad en goed met die res van die familie oor die weggekom. Ons het geweet sy sou dit kon bekostig om gereeld te kom kuier. Die huwelik het ongelukkig nie lank gehou nie. Dit was een van die eerste terugslae wat op ons pad gekom het. Dis 'n intense verlies om deur te maak. In die sewe jaar wat Sulet en Philip saam was, het Hendrik vir Philip lief geword soos sy eie seun.

Daarna is Hendrik deur die kankerepisode, Sulet het deur 'n intense rou periode gegaan na die egskeiding wat gepaard gegaan het met die outo-immuunsiekte, Ulcerative Colitis, wat haar by die dood laat omdraai het. Gedurende die tyd het ons huisdokter my op 'n hoë dosis Escitalopram (antidepressant) gesit om my te help om daagliks by die werk op te daag en my deel te doen. My inkomste was ons enigste inkomste. Dit het baie stres op my geplaas.

In Augusus 2016 breek ek die vyfde metatarsal beentjie in my linkervoet na kerk by die Michael Fowler Sentrum in Wellingtonstad. Ek het 'n klein trappie misgetrap, maar dit lei tot nog 'n stresvolle episode van lang periodes weg van die werk. ACC betaal tagtig persent van my inkomste terwyl ek nie werk nie, maar ons het pas in ons eie huis ingetrek en het my volle inkomste nodig om te oorleef.

Dit is nie die einde van al die ellendes nie. Vier van Aisling se voortande moet onder narkose getrek word nadat sy geval het, haar mond gestamp het en van die tande gebreek het. Die tandarts was van mening dat daar reeds tandverroting in die tande was. Hoekom sal ons nie weet nie. Sy was net twee jaar oud, Rialeen het haar nog geborsvoed en  Aisling is nie toegelaat om soetgoed te eet nie. Die hele episode het soveel spanning op Rialeen en Tim se verhouding gebring dat sy en Aisling vir ses maande hier by ons kom intrek het. (Sy in Tim is weer versoen en is gelukkig saam vir die laaste twee jaar.)

Die gebruik van Escitalopram het my op 'n pad gesit wat geen mens kon voorspel nie. Ek weet nie of dit anders sou afgespeel het as ek nooit die medikasie begin gebruik het nie. Miskien sou ek net gouer in die donkergat beland het as gevolg van alles wat besig was om te gebeur in ons lewens. Ons het geen kontrole oor dit gehad nie. Dit was uit ons hande, maar ons was gelukkig hier in New Zealand. Dit was nou ons tuiste.


Aisling is goed voorberei vir die teater. Hier speel sy met die masker sodat sy nie skrik as dit op haar gesig geplaas word nie.

Geen opmerkings nie: