Woensdag 23 Oktober 2019

Een maand na diagnose

Vandag 'n maand gelede het ons ingegaan stad toe om ons Suid-Afrikaanse paspoorte te hernu. Na ons besoek aan die konselaat het ek 'n afspraak gehad met Dr. Barry Geldenhuys. Ek het toe al geweet die oopseer in my mond is kanker, maar dit moes bevestig word deur 'n biopsie en bloedtoetse. 'n Mens hoop maar altyd vir die beste, maar Barry het net een kyk gegee en bevestig wat my huisdokter  reeds gediagnoseer het.

Dit voel soos 'n leeftyd gelede. Daar het so baie in die maand gebeur; biopsie, bloedtoetse, CT scan, twee besoeke aan die Oor-, Neus- en Keelarts, dunnaald aspirasie van limfklier, MRI scan, die ontmoeting van die paneel dokters, tandarts besoeke, x-strale, ontmoeting en gesprekke met die 'Cancer Nurse Coordinator', psigiater gesien, gesprekke met die 'Mental Health  Nurse' en 'n datum gekry wanneer ek geopereer gaan word. Laas Vrydag het ek die nuus gekry dat hul Maandag vier van my tande gaan uittrek en nou ja, nou is dit Dinsdag en hier sit ek met 'n mond vol tande, minus vier.


Gelukkig het ek nie 'n groot bek nie 😁en is die opening nie te sigbaar nie. Hul kan dit hopelik later met 'n paar kunstande vervang, maar dit sal ek eers in agtien maande weet. Dit is seer en ek kan nie eet nie. Ek het so hard probeer om soveel as moontlik te eet sodat ek nie gewig verloor voor die operasie nie, maar die tande was 'n skerm tussen die kos en die seer. Nou gaan alles wat ek eet in die seer in of dit brand die hel uit my uit😫

Nog nege nagte voor ek sewe-uur die oggend in sal gaan hospitaal toe. Eintlik het die tyd baie vinnig verby gegaan. Ek het deur tye van apatie gegaan en dan weer vrees wat my in sweet laat uitslaan. Ek was vreeslik bang vir die dag wat die tande uitgetrek moes word, maar almal se gebede het my sterk gemaak. Barry het gekerm en gekla terwyl hy my tande uitgetrek het en gesê  dis die laaste keer wat hy iemand se tande uittrek, maar hy is 'n warm mens wat my gemaklik laat voel. Hoewel die derde tand afgebreek het en dit 'n gesukkel was om dit uit te kry, het ek baie kalm deur die hele episode gegaan. Dit het my moed gegee vir wat voorlê. Daar is 'n rustigheid oor my en ek weet nie of dit 'n goeie ding is nie of is dit die stilte voor die storm.

Geen opmerkings nie: