Sondag 13 Oktober 2019

My geduld word beproef

Dit verg baie geduld om te wag! Ek het my tas al gepak die dag toe ons die spesialist gesien het en hy vir my die uitslae van die toetse gegee het😊. Hoe naïef was ek! Ek het gedink hul gaan my dadelik opneem in die hospitaal en opereer, maar nee... Gelukkig  het ek nou 'n datum, 31 Oktober 2019, moet ek sewe-uur die oggend by hospitaal wees. Twee weke voor dit sal ek die verpleegsuster en narkotiseer, wat verantwoordelik sal wees vir my in die teater, sien vir 'n 'surgical pre assessment'.

Intussen gaan die lewe aan soos altyd. Ek het besluit om nie meer te werk nie en het almal laat weet van my diagnose en dat ek hul moontlik weer sal sien wanneer ek gesond genoeg is en instaat sal wees om vir 'n paar ure op 'n dag te werk. Ek kry elke kort-kort spyt dat ek dit gedoen het, maar alledaagse uitstappies na die supermark of dokters maak my regtig moeg. Ek weet nie of ek meer die energie het om te kan werk nie, maar die ergste is wanneer daardie angs my oorval, 'n vrees vir die onbekende. Maak nie saak hoeveel ek lees oor my lot nie, ek weet nie hoe ek dit gaan ervaar nie. Gaan ek dapper genoeg wees? Dis nie die pyn of letsels wat my vrees is nie, dis die vrees om in 'n toestand van depressie te beland. Depressie is 'n doodsvonnis. Dis wat jou weerhou om te veg om anderkant uit te kom.

Ek wil nie hê  Hendrik  moet ophou met die restoreer werk hier by die huis nie. Die waskamer is halfpad klaar. Vandag  het ons vloerplanke gaan koop wat ons daar wil insit. Hendrik  moet homself besig hou anders gaan die stres hom onderkry. Hy's my rots, hy moet terwille van my sterk bly, soos ek vir hom sterk gebly het toe hy gediagnoseer was en deur sy behandeling vir kolonkanker gegaan het. Dit het my ongelukkig na 4 jaar ingehaal en depressie  het amper my dood veroorsaak.

Ons praat deesdae weer baie oor sy kanker, maar dis anders. Wat vir my voorlê is nie dieselfde as wat hy deurgemaak het nie. Daar is ander obstacles wat oorkom moet word, maar dat Hendrik gesond anderkant uitgekom het, gee my moed. Ek weet almal se gebede dra my deur hierdie moeilk tyd.

Ons huisdokter het van die begin af gesê, ek moet probeer  om nie gewig te verloor voor die operasie nie, want ek gaan vir lank nie kan eet nie tydens die behandeling. Ek volg 'n ondersteuningsgroep op facebook, Head and Neck Cancer Support Group. Volgens wat ek daar lees kan ek tot twintig kilogram verloor na die operasie. Hul moedig mense in my possie aan om alles te eet wat ek geniet, want ek mag dit moontlik nie gou weer eet nie. Na bestraling proe kos ook nie weer dieselfde  nie. Ek verkies om gesond te eet, want ek hou baie van groente en vrugte. Deesdae laat ek myself meer botter, volroom melk en yoghurt, kaas, neute, grondboontjiebotter en allerlei lekkernye toe. Ek voel nie skuldig om myself te bederf met sjokolade, liquorice, roomys of nougat nie. 

Vanaf die diagnose het ek nog nie gewig verloor nie en ek is dankbaar vir dit. Ek lyk dus nie siek nie. Behalwe vir die swelling onder my kakebeen, maar ek is moeg en my mond is seer en dit is alreeds moeilik om te kou en verkies ek om sagter kossoorte te eet. Nog agttien dae voor ek hospitaal toe gaan. Ek wil dit net so gou as moontlik  agter my plaas en met nuwe oë en groter wysheid na die toekoms kyk.

Geen opmerkings nie: