'n Mens kan net dankbaar wees dat jy nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek het vandag die dokters ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling; 'n tandarts, twee plastiese chirurge, 'n onkoloog en die radioloog wat verantwoordelik sal wees vir die bestraling en moontlik chemo. Al die prosedures is met ons bespreek en hul steek nie weg dat dit 'n helse gebeure is wat ek sal moet deurmaak nie. Ek kan my indink as hul dit beskryf, maar dit is net in my verbeelding. Die realiteit daarvan gaan ek eers oor 'n maand aan my lyf voel.
Ja, 'n maand! Ek moet 'n maand wag voor ek teater toe gaan. Die gewag is angswekkend, maar ek vertrou dat ek in goeie hande sal wees. Intussen moet nog toetse gedoen word. Môre gaan ek vir 'n biopsie van die knoop of limfklier onder my kaak en Maandag is dit 'n MRI scan.
Vandag het ek die tandarts by Wellington Hospitaal gesien. Hy het x-strale van my kaak geneem en my tande ondersoek. Hul gaan 3 of 4 tande moet uittrek voor die chirurgie gedoen gaan word om die kanker te verwyder. Hy sê die bestraling kan die ander tande beïnvloed en ek moet dus vir die res van my lewe 'n spesiale soort tandepaste gebruik wat baie hoog is in floried. Ek gaan ook sukkel met 'n droë mond waarvoor ek ook spesiale produkte moet gebruik om speekselafskeiding aan te moedig.
Dis die begin van allerlei veranderinge wat sal moet plaasvind in my lewe. Het ek 'n keuse? Wel, miskien kan ek sê; nee, ek wil nie operasie ondergaan nie, dan wag ek dat die kanker my opeëet. Dit lyk dus nie of ek juis veel van 'n keuse het nie. Dis op my pad gebring en ek moet nou maar daardeur gaan.
Ek hoop net ek kom heel aan die anderkant uit, fisies en emosioneel intakt. Die groot ding is, dis in my gesig, ek kan dit nie onder klere wegsteek nie. Ek mag dalk nooit weer dieselfde lyk nie. Ek gaan elke oggend, in die spieël, in hierdie vreemde gesig vaskyk. Almal wat vir my lief is gaan in die vreemde gesig moet vaskyk. Gaan ek nog dieselfde mens wees? Hoe gaan hierdie ervaring my verander asook my persepsie van die lewe beïnvloed? Gaan die dieptes van depressie my weer oorval? Ek wil nie eens daaroor dink nie. Ek wil dit nie nou weet nie, die toekoms sal my leer.
Ek is baie kalm, miskien té kalm. Ek weet ek kan dit doen. Baie mense bid vir my en dit gee my die krag om staande te bly. Ek is dankbaar dat ek nie op my eie krag hoef staat te maak nie, want ek weet ek is te swak op my eie. Baie mense verloor hul geloof as hul of hul geliefdes deur pyn of lyding gaan, vir my het dit nog altyd net nader aan my God gebring. Daarvoor is ek baie dankbaar!
Hier is 'n paar gelukkige foto's van my, geneem oor die laaste agt en 'n half jaar. Miskien sien ek myself nooit weer só gelukkig nie of wil ek nie dat enige iemand 'n foto van my neem nie omdat ek my gesig wil wegsteek. Ek moet net vertrou dat die dokters weet wat hul doen en dat ek beeldskoon gaan wees teen die tyd wat ek herstel het.
Maar een ding staan uit bo alles, kanker is 'n bitch! Elkeen van ons vrees die dag wat ons haar moontlik gaan ontmoet.

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking