Maandag 28 Oktober 2019

Ek tel my seëninge

Hendrik  is besig met die waskamer wat hy opgradeer. Hy het die ou sinkwasbak uitgehaal en gaan dit nou buite gebruik. Daar kom dan 'n nuwe wasbak in 'n ander hoek van die waskamer en rakke om meer pakplek te maak. Hendrik gaan ook 'n plankvloer insit. Ons wil later die matte in die huis met dieselfde  plankvloer vervang. Hendrik gaan dus hier begin oefen om te sien hoeveel arbeid dit verg.

Seëning nommer een: Ek weet Hendrik is sterk en hy is my pilaar. Ek weet dit is vir hom net so moeilik as vir my dat ons weer deur nog 'n episode van kanker moet gaan. 'n Mens kan nie help om te vra, hoekom hierdie goed met ons gebeur nie? Ons het nie antwoorde nie, maar ons weet dat ons die pad weer saam sal stap, maak nie saak hoe moeilik dit gaan wees nie.

Woensdag het Aisling vir ons kom kuier en die nag hier oorgeslaap. Dis soveel pret om haar hier te hê! Sy gaan slaap altyd in haar eie bed ('n opblaasmatras met Peppa pig beddegoed) in haar eie kamer, wat nog dieselfde is van die tyd toe sy en Rialeen vir ses maande hier by ons gewoon het. Ons mag niks in haar kamer verander nie, dit ontstel haar baie. Wanneer sy hier slaap, weet ek al, enige tyd na middernag hoor ek altyd 'n stemmetjie langs my bed: "Ouma... Ouma,  I'm a little bit scared of the dark", dan klim sy by ons in die bed en slaap die drie van ons plus Kattes vir die res van die nag saam in een bed.
Ons twee vol haasstreke met my nuwe tablet
Seëning nommer twee: Aisling is so 'n soet kind. Dis net 'n plesier om haar hier te hê en sy is so geheg aan my en Hendrik. Sy kerm by haar ma om hier te kom oorslaap en ons bederf haar met sjokolade of roomys nadat sy haar aandete opgeëet het. Soms gaan ons hot cakes by McDonald's eet in die oggend, dan kry sy 'n boksie met 'n speelding in. Haar pa verpes Amerikaanse besighede en wil hul nie ondersteun nie, maar ons mag haar maar bederf. Dis waarvoor sy  'n ouma en oupa het.

Aisling in haar kamer
Vanoggend is ons na die Riverbank Market soos meeste ander Saterdae. Dit was 'n pragtige sonskyndag. Ek het oor die laaste week of wat het ek probeer fokus op die positiewe wat my omring, eerder as om toe te gee aan selfbejammering. Lente is vir my 'n goeie tyd om deur hierdie ellende te gaan. Winters maak my morbied, maar op die oomblik is die veld vrolik met bloeisels en blomme, so ook in ons tuin.


Hendrik het my gesleep na die orgidië uitstalling die vorige Saterdag. Agterna was ons na die Avalon Park, nie ver van waar ons woon nie. Dit was 'n kouerige dag, maar die son het geskyn en ons het die uitstappie geniet. Hendrik probeer hard om my gedagtes besig  te hou en om die natuur te geniet. Ek het nie die energie om te stap soos ons in die verlede gedoen het nie, maar om buite te kom is goed vir my gemoed.
Avalon Park 
Seëning nommer 3: Daar is soveel geneesing in die natuur om ons. Gelukkig gaan my behandeling strek oor die lente en somer en ek weet dat dit vir my 'n goeie ding is. Toe ek deur daardie maande van depressie gegaan het, was dit warm en het ons mooi weer gehad. Dit het my gered van selfmoord. Ek kon elke dag kilometers op die strand gaan stap of net ure lank in my strandstoel sit en na die see staar, die mense dophou of 'n boek sit en lees. Ek sien ten minste uit daarna om dit weer te kan doen.

Die woord kanker dreineer die plesier uit mens se lewe en dit vat baie moed om op die postiewe te fokus. Ek is nog nie eens met die wreedheid van die behandeling gekonfronteer nie en dis reeds party dae baie moeilik om nie oorweldig te word deur selfbejammering nie.

Die gewag maak mens klaar, daar is net vier dae tussen my en die hospitaal.  Die pyn in my mond word al erger en dit word al moeiliker om te eet, veral nadat die vier tande uitgetrek is, maar ek weet dat daar nog baie seëninge is, baie om voor dankbaar te wees. Ek sal nooit weer dieselfde mens wees nie, maar ek weet dat ek kinders en familie het wat vir my sal lief wees, maak nie saak hoe ek lyk nie. Ek weet as ek uit die dieptes van depressie kon kom, kan ek staande bly tydens my kankerbehandeling.

Dit sal tyd vat, maar ek sal weer die lewe kan geniet. Ek glo dat ek gespaar sal word om saam met Hendrik oud te word, om Sulet en Rialeen in liefde- en respekvolle verhoudings te sien floreer,  om Aisling te sien groot word en miskien die voorreg te hê om nog 'n kleinkind in my arms vas te hou. Dis die dinge wat die lewe die moeite werd maak. Die gedagte daaraan maak my sterk om die kanker te veg sodat ek gesond anderkant uit kan kom.

Geen opmerkings nie: