Daar gaan soveel gedagtes deur my kop en ek wil skryf solank ek kan. As ek hospitaal toe gaan, mag daar 'n lang tyd verloop wat ek fisies nie instaat mag wees om te skryf nie of emosioneel so oorweldig mag wees dat ek nie wil skryf nie. My gedagtes dwaal en ek voltooi nie gedagte lynne wat ek begin het nie. Ek wou meer vertel van my besoek Donderdag aan Wellington Hospitaal waar ek die dokters ontmoet het wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling, maar ek het nooit daarby uitgekom nie.
Die goeie nuus is, dat hul my gaan opereer hier by die Hutt Hospitaal, om die draai van waar ons woon. Dit beteken Hendrik en Rialeen hoef nie in te sukkel stad toe om my te besoek nie. Verkeer en parkering is altyd 'n probleem en natuurlik die tyd wat hul op die pad sou moes spandeer word verminder. Ek gaan sewe tot tien dae in die hospitaal wees. Die slegte nuus is natuurlik dat die operasie eers oor 'n maand gaan gebeur en ek is nie goed met wag nie.
Elke dokter het aan my verduidelik wat sy aandeel in my behandeling sal wees. Al die dokters lyk baie bekwaam en empaties, maar praat prontuit dat dit 'n moeilike pad is vir my en my gesin wat voorlê. Daar is in detail beskryf wat in die teater met my sal gebeur om die kanker te verwyder en weer my gesig te probeer herstel tot wat dit was voor die kanker. Dan is daar ses weke se bestraling van Maandag tot Vrydag. Ek sal plusminus 25 minute elke dag by die hospitaal spandeer, naweke sal ek rus. Hul voorspel 'n herstel tyd van ses maande tot 'n jaar en ek sal moontlik nie kan werk gedurende daardie tyd nie.
Hopelik sal my drie, moontlik vier tande getrek word terwyl ek onder narkose is en nie voor die tyd nie. Hul sal 'n tracheostomy maak om deur asem te haal, want my mond mag in so 'n mate swel dat ek nie kan asemhaal deur die normale kanale nie. Dan is daar twee plastiese chirurge wat 'n maraton operasie gaan doen, wat tot elfure lank kan duur, om die kanker uit my wang en moontlik kakebeen te sny. 'n Snit sal deur my onderlip gemaak word om hul instaat te stel om by die geaffekteerde dele uit te kom. Die limfklier onder my kaak sal verwyder word deur 'n snit in my nek.
Daarna sal spierweefsel uit my linker voorarm gevat word om die plekke waar weefsel verwyder is, weer op te vul en my gesig te herstel (hopelik mooier en jeugdiger😉) soos dit was voor dié slagting. Jippie! Iets om na uit te sien, dalk die einde van my dubbelken😜Grapies op 'n stokkie, ek gaan vir 'n lang tyd nie kan eet nie (miskien is ek gelukkig om my doelgewig uiteindelik te bereik🤔). Smoothies en sop is wat my aan die lewe gaan hou. As ek ydel genoeg is, kan daar implantate gedoen word om die tande te vervang wat uitgetrek gaan word, maar dit sal eers gebeur sodra ek ten volle herstel het.Soos jul op die foto's kan sien, sit die aangetasde limfklier soos 'n albaster onder my kakebeen aan die linkerkant.
Die onderste foto is 'n selfie wat ek in die spieël geneem het. Dit lyk dus of die swelling aan my regterkant is.
Vrydag was ek weer by die radioloë en daar was weereens 'n Engelsprekende Suid-Afrikaanse dokter wat 'n biopsie geneem het van die limfklier. Ek het my voorgestel, hy gaan 'n naald insteek en vog daar uittrek, maar nee, dit was 'n uurlange prosedure. Soos hy verduidelik het is die inhoud van die limfklier solied en hy moet probeer om genoeg selle uit te trek sodat die toets suksesvol gedoen kan word.
Eers moes hy 'n ultraklank doen om die presiese posisie van die klier te kry, dan verdoof met twee inspuitings en daarna is die selle versigtig verwyder met die hulp van 'n dun naald en die ultraklank byderhand om te sien waar die naald gaan. Hy moes vierkeer met die naald ingaan om genoeg selle te kry. Vandag sit ek natuurlik nie net met 'n albaster onder my kaak nie, maar ook 'n yslike bloukol☹.
Maandagoggend is dit weer 'n MRI skandering. Dis ook 'n nuwe ervaring. My liggaam is nou in die hande van professionele mense en ek volg net die instruksies, praat nie teë nie en bid om anderkant gesond uit te kom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking