Hendrik is besig met die waskamer wat hy opgradeer. Hy het die ou sinkwasbak uitgehaal en gaan dit nou buite gebruik. Daar kom dan 'n nuwe wasbak in 'n ander hoek van die waskamer en rakke om meer pakplek te maak. Hendrik gaan ook 'n plankvloer insit. Ons wil later die matte in die huis met dieselfde plankvloer vervang. Hendrik gaan dus hier begin oefen om te sien hoeveel arbeid dit verg.
Seëning nommer een: Ek weet Hendrik is sterk en hy is my pilaar. Ek weet dit is vir hom net so moeilik as vir my dat ons weer deur nog 'n episode van kanker moet gaan. 'n Mens kan nie help om te vra, hoekom hierdie goed met ons gebeur nie? Ons het nie antwoorde nie, maar ons weet dat ons die pad weer saam sal stap, maak nie saak hoe moeilik dit gaan wees nie.
Woensdag het Aisling vir ons kom kuier en die nag hier oorgeslaap. Dis soveel pret om haar hier te hê! Sy gaan slaap altyd in haar eie bed ('n opblaasmatras met Peppa pig beddegoed) in haar eie kamer, wat nog dieselfde is van die tyd toe sy en Rialeen vir ses maande hier by ons gewoon het. Ons mag niks in haar kamer verander nie, dit ontstel haar baie. Wanneer sy hier slaap, weet ek al, enige tyd na middernag hoor ek altyd 'n stemmetjie langs my bed: "Ouma... Ouma, I'm a little bit scared of the dark", dan klim sy by ons in die bed en slaap die drie van ons plus Kattes vir die res van die nag saam in een bed.
Ons twee vol haasstreke met my nuwe tablet
Seëning nommer twee: Aisling is so 'n soet kind. Dis net 'n plesier om haar hier te hê en sy is so geheg aan my en Hendrik. Sy kerm by haar ma om hier te kom oorslaap en ons bederf haar met sjokolade of roomys nadat sy haar aandete opgeëet het. Soms gaan ons hot cakes by McDonald's eet in die oggend, dan kry sy 'n boksie met 'n speelding in. Haar pa verpes Amerikaanse besighede en wil hul nie ondersteun nie, maar ons mag haar maar bederf. Dis waarvoor sy 'n ouma en oupa het.




















