Dinsdag 29 Oktober 2019

Angs of vrees?

My grootste vrees is, om nie wakker te word nie na die elfuur lange operasie. Die lengte van die operasie maak die risiko dat iets verkeerd kan loop net soveel groter, maar terseldertyd weet ek dat ek tyd gehad het om myself voor te berei en my familie te groet. Soveel keer het ek in my lewe gesien waar iemand net skielik weggeneem is deur 'n motorongeluk of een of ander frats ongeluk of moord. Dis baie hard vir hul geliefdes wat agterbly. Hul het geen afsluiting gehad nie, geen afskeid. Dit is wreed en baie hard om te verwerk.

Ek besef nou net hoe sterk die instink om te lewe is. Depressie vat daardie instink weg. Die feit dat ek so graag wil leef, sê vir my dat ek nie depressief is nie, net bang vir wat voorlê. Aan die eenkant wil ek dit verby hê, want die pyn in my mond maak my mal en ek kan nie eet nie. My mond is hipersensitief en kos gaan in die kankerseer in of in die wonde waar my tande uitgetrek is. Aan die anderkant wens ek die tyd om in die teater te gaan wil nooit kom nie of na die ekstreem, wens ek dit het nooit op my pad gekom nie. Ek weet egter die kanker is nou hier en ek moet veg om anderkant uit te kom.

Toe ek deur die depressie gegaan het, het die psigiater by die krisiskliniek (wie se ouers ook baie jare gelede van Suid-Afrika gekom het) vir my gesê, ek probeer te hard om uit die depressie te kom. Hy wou hê, ek moet luister na wat my liggaam sê, ek het myself uitgebrand en ek het rus nodig. Ek kon nie help om te veg nie, wat met my gebeur het, was nie iets wat ek voorheen in my lewe ervaar het nie. Dit het my lam gelaat en al die plesier uit ons lewens gevat, ek kon geen toekoms sien nie, nie vir my, my kinders of Aisling nie. Ek het geweet, ek moet die depressie afskud of doodgaan. 'n Mens kan nie leef sonder 'n toekomsvisie nie óf met angs wat alles oorheers nie.

Wat ek nou ervaar is nie angs nie, dit is 'n vrees vir dit wat vir my voorlê, want ek het geen verwysing van hoe ek dit gaan hanteer nie, gaan ek dieselfde wil hê om dit te veg soos ek die depressie geveg het of gaan ek die instink verloor om te wil leef? Pyn is vernietigend en ses weke se bestraling in my gesig gaan baie pyn veroorsaak. Dit gaan die plesier van eet en gesels van my wegneem. Lag is alreeds pynlik soos ek hier sit. Hoe lank gaan dit vat voor ek dit alles weer kan geniet sonder pyn? Vrae en nog vrae waarvoor ek nie antwoorde het nie, die dokters sê, ses maande tot 'n jaar. Kan ek solank uithou? Vir my klink dit soos 'n martelling!

Maar ek besef, ek is nie alleen nie. Ons buurman, Dave, is pas deur die behandeling  vir prostaatkanker en beplan 'n vakansie in Australia. So daar is lewe na kanker! Allan wat hoër op in die straat woon, stap elke dag met sy hond, Stella, hier verby ons huis. Vandag het Hendrik hom vertel van my ellendes en hy het vir Hendrik gesê,  dat sy vrou dieselde deurgemaak het, meer as vyftien jaar gelede. Haar neus moes weer opgebou word deur middel van plastiese chirurgie. Hy klink sommer baie positief en het my genooi om met haar te kom gesels as ek down in the dumps voel. 

Ek is ook lid van 'n ondersteuningsgroep op Facebook. Almal in die groep het een of ander vorm van kanker van die kop of nek gehad of is besig om deur behandeling te gaan. Die groep beteken vir my baie en beantwoord baie van my vrae en kwellinge. Daar is ook baie inligting wat gedeel word. 'n Mens het hierdie soort ondersteuning nodig waar mense uit ondervinding praat en jou uit die as uit oplig.

Maar ek sien die positiewe raak. Daar is soveel mense wat nou na my uitreik en vir my bid. Die gevoel van verlatenheid was oorweldigend toe ek deur die depressie gegaan het, maar nou is ek omring met mense, van oral oor die wêreld, wat na my uitreik en vir my bid. Wat 'n voorreg!

Maandag 28 Oktober 2019

Ek tel my seëninge

Hendrik  is besig met die waskamer wat hy opgradeer. Hy het die ou sinkwasbak uitgehaal en gaan dit nou buite gebruik. Daar kom dan 'n nuwe wasbak in 'n ander hoek van die waskamer en rakke om meer pakplek te maak. Hendrik gaan ook 'n plankvloer insit. Ons wil later die matte in die huis met dieselfde  plankvloer vervang. Hendrik gaan dus hier begin oefen om te sien hoeveel arbeid dit verg.

Seëning nommer een: Ek weet Hendrik is sterk en hy is my pilaar. Ek weet dit is vir hom net so moeilik as vir my dat ons weer deur nog 'n episode van kanker moet gaan. 'n Mens kan nie help om te vra, hoekom hierdie goed met ons gebeur nie? Ons het nie antwoorde nie, maar ons weet dat ons die pad weer saam sal stap, maak nie saak hoe moeilik dit gaan wees nie.

Woensdag het Aisling vir ons kom kuier en die nag hier oorgeslaap. Dis soveel pret om haar hier te hê! Sy gaan slaap altyd in haar eie bed ('n opblaasmatras met Peppa pig beddegoed) in haar eie kamer, wat nog dieselfde is van die tyd toe sy en Rialeen vir ses maande hier by ons gewoon het. Ons mag niks in haar kamer verander nie, dit ontstel haar baie. Wanneer sy hier slaap, weet ek al, enige tyd na middernag hoor ek altyd 'n stemmetjie langs my bed: "Ouma... Ouma,  I'm a little bit scared of the dark", dan klim sy by ons in die bed en slaap die drie van ons plus Kattes vir die res van die nag saam in een bed.
Ons twee vol haasstreke met my nuwe tablet
Seëning nommer twee: Aisling is so 'n soet kind. Dis net 'n plesier om haar hier te hê en sy is so geheg aan my en Hendrik. Sy kerm by haar ma om hier te kom oorslaap en ons bederf haar met sjokolade of roomys nadat sy haar aandete opgeëet het. Soms gaan ons hot cakes by McDonald's eet in die oggend, dan kry sy 'n boksie met 'n speelding in. Haar pa verpes Amerikaanse besighede en wil hul nie ondersteun nie, maar ons mag haar maar bederf. Dis waarvoor sy  'n ouma en oupa het.

Woensdag 23 Oktober 2019

Een maand na diagnose

Vandag 'n maand gelede het ons ingegaan stad toe om ons Suid-Afrikaanse paspoorte te hernu. Na ons besoek aan die konselaat het ek 'n afspraak gehad met Dr. Barry Geldenhuys. Ek het toe al geweet die oopseer in my mond is kanker, maar dit moes bevestig word deur 'n biopsie en bloedtoetse. 'n Mens hoop maar altyd vir die beste, maar Barry het net een kyk gegee en bevestig wat my huisdokter  reeds gediagnoseer het.

Dit voel soos 'n leeftyd gelede. Daar het so baie in die maand gebeur; biopsie, bloedtoetse, CT scan, twee besoeke aan die Oor-, Neus- en Keelarts, dunnaald aspirasie van limfklier, MRI scan, die ontmoeting van die paneel dokters, tandarts besoeke, x-strale, ontmoeting en gesprekke met die 'Cancer Nurse Coordinator', psigiater gesien, gesprekke met die 'Mental Health  Nurse' en 'n datum gekry wanneer ek geopereer gaan word. Laas Vrydag het ek die nuus gekry dat hul Maandag vier van my tande gaan uittrek en nou ja, nou is dit Dinsdag en hier sit ek met 'n mond vol tande, minus vier.


Gelukkig het ek nie 'n groot bek nie 😁en is die opening nie te sigbaar nie. Hul kan dit hopelik later met 'n paar kunstande vervang, maar dit sal ek eers in agtien maande weet. Dit is seer en ek kan nie eet nie. Ek het so hard probeer om soveel as moontlik te eet sodat ek nie gewig verloor voor die operasie nie, maar die tande was 'n skerm tussen die kos en die seer. Nou gaan alles wat ek eet in die seer in of dit brand die hel uit my uit😫

Nog nege nagte voor ek sewe-uur die oggend in sal gaan hospitaal toe. Eintlik het die tyd baie vinnig verby gegaan. Ek het deur tye van apatie gegaan en dan weer vrees wat my in sweet laat uitslaan. Ek was vreeslik bang vir die dag wat die tande uitgetrek moes word, maar almal se gebede het my sterk gemaak. Barry het gekerm en gekla terwyl hy my tande uitgetrek het en gesê  dis die laaste keer wat hy iemand se tande uittrek, maar hy is 'n warm mens wat my gemaklik laat voel. Hoewel die derde tand afgebreek het en dit 'n gesukkel was om dit uit te kry, het ek baie kalm deur die hele episode gegaan. Dit het my moed gegee vir wat voorlê. Daar is 'n rustigheid oor my en ek weet nie of dit 'n goeie ding is nie of is dit die stilte voor die storm.

Sondag 20 Oktober 2019

Die wreedheid van kanker

My woorde het skielik verdwyn. Daar is 'n stilte wat oor my gekom het soos 'n dier wat na die slagpale gelei word. Ek het nie antwoorde vir al die vrae wat deur my gedagtes gaan nie, maar as ek voor die slimmense sit en hulle vra my of ek vrae het, kom niks oor my lippe nie. Al die antwoorde in die wêreld kan nie hierdie beker van my wegvat of my voorberei vir wat ek sal moet deurgaan nie. My mental health nurse het gesê, ek moet nou ophou lees oor kanker en begin fokus op ander aktiwiteite wat my sal help om te ontspan en die oomblik te geniet. Ek moet leer om vir die oomblik te leef, want ek weet nie regtig wat die toekoms gaan inhou nie.

As mens so met die dood gekonfronteer word, begin jy outomaties reflekteer op die verlede. Jou hoop is op die toekoms, maar jy wonder wat jy anders kon gedoen het met dit wat op jou lewenspad gebring is. Het jy hard genoeg probeer?  Het jy die regte besluite geneem? Het jy 'n impak gemaak op die lewens van jou geliefdes of die mense waarmee jy in kontak gekom het deur die jare?

As jy krities soos ek is, is daar baie dinge wat jy weet jy kon anders gedoen het, maar dis nou verby en ek kan dit nie verander nie, maar as die Here my spaar, sal ek harder probeer in die toekoms en probeer om dit beter te doen. Ek is nou 'n nuwe persoon wat onder die skadu van kanker gaan lewe vir die res van my tyd hier op aarde.

Een ding waaroor ek nie spyt is nie, is dat ek die stap geneem het om na New Zealand te kom. Ek het soveel dinge geleer hier wat my lewe so verryk het. Om elke dag in hierdie asemrowende natuurskoon te leef, is 'n geweldige voorreg. Hierdie rustige lewe sonder vrees vir mens se veiligheid, is onbeskryflik. Die stadiger pas van die lewe hier in Wellington pas my goed. 

Ek is nog steeds dieselfde mens, maar my lewe is soveel ryker. Die lewe hier het my so verander dat ek nooit weer in Suid-Afrika kan leef nie. 'n Mens raak gewoond aan die ordelikheid van almal om jou, waar meeste mense reëls en wette gehoorsaam. Waar jy weet jy gaan elektrisiteit hê om aandete te kook en jouself warm te hou in die winter. Waar daar altyd water in die kraan is en dis skoon en suiwer genoeg om te drink. Waar jou lewe nog waarde het en die gedagte dat iemand 'n mes deur jou hart kan steek omdat jou selfoon vir hom 'n ete kan koop, nooit in jou gedagte opkom nie.

Môre is die groot dag wanneer vier tande uitgetrek gaan word, agter in my onderste kaak waar die kanker is. Dit gaan deur die mondchirurg gedoen word wat die biopsie op die mondseer gedoen het, Dr. Barry Geldenhuys. Dis definitief nie iets waarna ek uitsien nie. Ek het gehoop dat dit onder narkose sou gebeur op die dag van die operasie, maar die operasie gaan elf ure of langer duur. Dit is dus beter om dit voor die tyd te doen.

Die biopsie wat Dr. Geldenhuys  laat doen het, het aangetoon dat die oopseer in my mond positief toets vir squamous cell carcinoma. Dit is bevestig deur 'n CT en MRI scan wat gevolg het. Daar is ook limfkliere gevind, een vlak 1B, een vlak 1A en 'n vlak 2A (vir die met mediese kennis). Daar is ook 'n limfklier met 'n deursnit van 6mm wat net onder die vel is. Dis die een wat sigbaar is waar my gesig geswel is. 'n Dunnaald aspirasie (biopsie) is op die limfklier gedoen en die resultate toon dat dit kanker is. Wat impliseer dat die kanker in die seer in my mond, besig is om te versprei.

Vrydag het ek die tandarts ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir die nasorg van my tande. Bestraling doen baie skade aan 'n mens se tande en goeie nasorg is dus baie belangrik. 'n Dieetkundige en spraakterapeut maak ook deel uit van die span wat verantwoordelik sal wees vir my rehabilitasisie, aangesien ek nie sal kan eet vir 'n langtyd nie. Ek gaan dus hulp nodig hê van die spraakterapeut om my te help om weer te kan sluk en 'n dieetkundige om toe te sien dat ek die nodige voedingstowwe inkry deur middel van smoothies, sop en ander brousels en drankies. Ek mag ook spraakterapie kry om my te help om weer verstaanbaar te praat.

Dis nou my lot kortliks opgesom. Ek is dankbaar ons is hier in New Zealand.  Al hierdie doktersbesoeke, toetse, chirurgie en nasorg, gaan ons nie 'n sent kos nie. Ek weet dat my lot in die hande is van dié beste dokters in die wêreld en dit help my om in die nag te kan slaap terwyl ek hierdie donkertyd in my lewe inwag.

Sondag 13 Oktober 2019

My geduld word beproef

Dit verg baie geduld om te wag! Ek het my tas al gepak die dag toe ons die spesialist gesien het en hy vir my die uitslae van die toetse gegee het😊. Hoe naïef was ek! Ek het gedink hul gaan my dadelik opneem in die hospitaal en opereer, maar nee... Gelukkig  het ek nou 'n datum, 31 Oktober 2019, moet ek sewe-uur die oggend by hospitaal wees. Twee weke voor dit sal ek die verpleegsuster en narkotiseer, wat verantwoordelik sal wees vir my in die teater, sien vir 'n 'surgical pre assessment'.

Intussen gaan die lewe aan soos altyd. Ek het besluit om nie meer te werk nie en het almal laat weet van my diagnose en dat ek hul moontlik weer sal sien wanneer ek gesond genoeg is en instaat sal wees om vir 'n paar ure op 'n dag te werk. Ek kry elke kort-kort spyt dat ek dit gedoen het, maar alledaagse uitstappies na die supermark of dokters maak my regtig moeg. Ek weet nie of ek meer die energie het om te kan werk nie, maar die ergste is wanneer daardie angs my oorval, 'n vrees vir die onbekende. Maak nie saak hoeveel ek lees oor my lot nie, ek weet nie hoe ek dit gaan ervaar nie. Gaan ek dapper genoeg wees? Dis nie die pyn of letsels wat my vrees is nie, dis die vrees om in 'n toestand van depressie te beland. Depressie is 'n doodsvonnis. Dis wat jou weerhou om te veg om anderkant uit te kom.

Ek wil nie hê  Hendrik  moet ophou met die restoreer werk hier by die huis nie. Die waskamer is halfpad klaar. Vandag  het ons vloerplanke gaan koop wat ons daar wil insit. Hendrik  moet homself besig hou anders gaan die stres hom onderkry. Hy's my rots, hy moet terwille van my sterk bly, soos ek vir hom sterk gebly het toe hy gediagnoseer was en deur sy behandeling vir kolonkanker gegaan het. Dit het my ongelukkig na 4 jaar ingehaal en depressie  het amper my dood veroorsaak.

Ons praat deesdae weer baie oor sy kanker, maar dis anders. Wat vir my voorlê is nie dieselfde as wat hy deurgemaak het nie. Daar is ander obstacles wat oorkom moet word, maar dat Hendrik gesond anderkant uitgekom het, gee my moed. Ek weet almal se gebede dra my deur hierdie moeilk tyd.

Ons huisdokter het van die begin af gesê, ek moet probeer  om nie gewig te verloor voor die operasie nie, want ek gaan vir lank nie kan eet nie tydens die behandeling. Ek volg 'n ondersteuningsgroep op facebook, Head and Neck Cancer Support Group. Volgens wat ek daar lees kan ek tot twintig kilogram verloor na die operasie. Hul moedig mense in my possie aan om alles te eet wat ek geniet, want ek mag dit moontlik nie gou weer eet nie. Na bestraling proe kos ook nie weer dieselfde  nie. Ek verkies om gesond te eet, want ek hou baie van groente en vrugte. Deesdae laat ek myself meer botter, volroom melk en yoghurt, kaas, neute, grondboontjiebotter en allerlei lekkernye toe. Ek voel nie skuldig om myself te bederf met sjokolade, liquorice, roomys of nougat nie. 

Vanaf die diagnose het ek nog nie gewig verloor nie en ek is dankbaar vir dit. Ek lyk dus nie siek nie. Behalwe vir die swelling onder my kakebeen, maar ek is moeg en my mond is seer en dit is alreeds moeilik om te kou en verkies ek om sagter kossoorte te eet. Nog agttien dae voor ek hospitaal toe gaan. Ek wil dit net so gou as moontlik  agter my plaas en met nuwe oë en groter wysheid na die toekoms kyk.

Sondag 06 Oktober 2019

My lot in bekwame hande

Daar gaan soveel gedagtes deur my kop en ek wil skryf solank ek kan. As ek hospitaal toe gaan, mag daar 'n lang tyd verloop wat ek fisies nie instaat mag wees om te skryf nie of emosioneel so oorweldig mag wees dat ek nie wil skryf nie. My gedagtes dwaal en ek voltooi nie gedagte lynne wat ek begin het nie. Ek wou meer vertel van my besoek Donderdag aan Wellington Hospitaal waar ek die dokters ontmoet het wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling, maar ek het nooit daarby uitgekom nie.

Die goeie nuus is, dat hul my gaan opereer hier by die Hutt Hospitaal, om die draai van waar ons woon. Dit beteken Hendrik en Rialeen hoef nie in te sukkel stad toe om my te besoek nie. Verkeer en parkering is altyd 'n probleem en natuurlik die tyd wat hul op die pad sou moes spandeer word verminder. Ek gaan sewe tot tien dae in die hospitaal wees. Die slegte nuus is natuurlik dat die operasie eers oor 'n maand gaan gebeur en ek is nie goed met wag nie.

Elke dokter het aan my verduidelik wat sy aandeel in my behandeling sal wees. Al die dokters lyk baie bekwaam en empaties, maar praat prontuit dat dit 'n moeilike pad is vir my en my gesin wat voorlê. Daar is in detail beskryf wat in die teater met my sal gebeur om die kanker te verwyder en weer my gesig te probeer herstel tot wat dit was voor die kanker. Dan is daar ses weke se bestraling van Maandag tot Vrydag. Ek sal plusminus 25 minute elke dag by die hospitaal spandeer, naweke sal ek rus. Hul voorspel 'n herstel tyd van ses maande tot 'n jaar en ek sal moontlik nie  kan werk gedurende daardie tyd nie.

Hopelik sal my drie, moontlik vier tande getrek word terwyl ek onder narkose is en nie voor die tyd nie. Hul sal 'n tracheostomy maak om deur asem te haal, want my mond mag in so 'n mate swel dat ek nie kan asemhaal deur die normale kanale nie. Dan is daar twee plastiese chirurge wat 'n maraton operasie gaan doen, wat tot elfure lank kan duur, om die kanker uit my wang en moontlik kakebeen te sny. 'n Snit sal deur my onderlip gemaak word om hul instaat te stel om by die geaffekteerde dele uit te kom. Die limfklier onder my kaak sal verwyder word deur 'n snit in my nek.

Daarna sal spierweefsel uit my linker voorarm gevat word om die plekke waar weefsel verwyder is, weer op te vul en my gesig te herstel (hopelik mooier en jeugdiger😉) soos dit was voor dié slagting. Jippie! Iets om na uit te sien, dalk die einde van my dubbelken😜Grapies op 'n stokkie, ek gaan vir 'n lang tyd nie kan eet nie  (miskien is ek gelukkig om my doelgewig uiteindelik te bereik🤔). Smoothies en sop is wat my aan die lewe gaan hou. As ek ydel genoeg is, kan daar implantate gedoen word om die tande te vervang wat uitgetrek gaan word, maar dit sal eers gebeur sodra ek ten volle herstel het.Soos jul op die foto's kan sien, sit die aangetasde limfklier soos 'n albaster onder my kakebeen aan die linkerkant.


Die onderste foto is 'n selfie wat ek in die spieël geneem het. Dit lyk dus of die swelling aan my regterkant is.

Vrydag was ek weer by die radioloë en daar was weereens 'n Engelsprekende Suid-Afrikaanse dokter wat 'n biopsie geneem het van die limfklier. Ek het my voorgestel, hy gaan 'n naald insteek en vog daar uittrek, maar nee, dit was 'n uurlange prosedure. Soos hy verduidelik het is die inhoud van die limfklier solied en hy moet probeer om genoeg selle uit te trek sodat die toets suksesvol gedoen kan word. 

Eers moes hy 'n ultraklank doen om die presiese posisie van die klier te kry, dan verdoof met twee inspuitings en daarna is die selle versigtig verwyder met die hulp van 'n dun naald en die ultraklank byderhand om te sien waar die naald gaan. Hy moes vierkeer met die naald ingaan om genoeg selle te kry. Vandag sit ek natuurlik nie net met 'n albaster onder my kaak nie, maar ook 'n yslike bloukol☹.

Maandagoggend is dit weer 'n MRI skandering. Dis ook 'n nuwe ervaring. My liggaam is nou in die hande van professionele mense en ek volg net die instruksies, praat nie teë nie en bid om anderkant gesond uit te kom.

Saterdag 05 Oktober 2019

Kanker is 'n bitch!

'n Mens kan net dankbaar wees dat jy nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek het vandag die dokters ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling; 'n tandarts, twee plastiese chirurge, 'n onkoloog en die radioloog wat verantwoordelik sal wees vir die bestraling en moontlik chemo. Al die prosedures is met ons bespreek en hul steek nie weg dat dit 'n helse gebeure is wat ek sal moet deurmaak nie. Ek kan my indink as hul dit beskryf, maar dit is net in my verbeelding. Die realiteit daarvan gaan ek eers oor 'n maand aan my lyf voel.

Ja, 'n maand! Ek moet 'n maand wag voor ek teater toe gaan. Die gewag is angswekkend, maar ek vertrou dat ek in goeie hande sal wees. Intussen moet nog toetse gedoen word. Môre gaan ek vir 'n biopsie van die knoop of limfklier onder my kaak en Maandag is dit 'n MRI scan.

Vandag het ek die tandarts by Wellington Hospitaal gesien. Hy het x-strale van my kaak geneem en my tande ondersoek. Hul gaan 3 of 4 tande moet uittrek voor die chirurgie gedoen gaan word om die kanker te verwyder. Hy sê die bestraling kan die ander tande beïnvloed en ek moet dus vir die res van my lewe 'n spesiale soort tandepaste gebruik wat baie hoog is in floried. Ek gaan ook sukkel met 'n droë mond waarvoor ek ook spesiale produkte moet gebruik om speekselafskeiding aan te moedig.

Dis die begin van allerlei veranderinge wat sal moet plaasvind in my lewe. Het ek 'n keuse? Wel, miskien kan ek sê; nee, ek wil nie operasie ondergaan nie, dan wag ek dat  die kanker my opeëet. Dit lyk dus nie of ek juis veel van 'n keuse het nie. Dis op my pad gebring en ek moet nou maar daardeur gaan. 

Ek hoop net ek kom heel aan die anderkant uit, fisies en emosioneel intakt. Die groot ding is, dis in my gesig, ek kan dit nie onder klere wegsteek nie. Ek mag dalk nooit weer dieselfde lyk nie. Ek gaan elke oggend, in die spieël, in hierdie vreemde gesig vaskyk. Almal wat vir my lief is gaan in die vreemde gesig moet vaskyk. Gaan ek nog dieselfde mens wees? Hoe gaan hierdie ervaring my verander asook my persepsie van die lewe beïnvloed? Gaan die dieptes van depressie my weer oorval? Ek wil nie eens daaroor dink nie. Ek wil dit nie nou weet nie, die toekoms sal my leer.

Ek is baie kalm, miskien té kalm. Ek weet ek kan dit doen. Baie mense bid vir my en dit gee my die krag om staande te bly. Ek is dankbaar dat ek nie op my eie krag hoef staat te maak nie, want ek weet ek is te swak op my eie. Baie mense verloor hul geloof as hul of hul geliefdes deur pyn of lyding gaan, vir my het dit nog altyd net nader aan my God gebring. Daarvoor is ek baie dankbaar!

Hier is 'n paar gelukkige foto's van my, geneem oor die laaste agt en 'n half jaar. Miskien sien ek myself nooit weer só gelukkig nie of wil ek nie dat enige iemand 'n foto van my neem nie omdat ek my gesig wil wegsteek. Ek moet net vertrou dat die dokters weet wat hul doen en dat ek beeldskoon gaan wees teen die tyd wat ek herstel het.

Maar een ding staan uit bo alles, kanker is 'n bitch! Elkeen van ons vrees die dag wat ons haar moontlik gaan ontmoet.







New Zealand vs Suid-Afrika

Dis nou al meer as agt en 'n half jaar wat ons hier in Wellington woon. As mens so lank in 'n ander land woon, het jy nie meer 'n verwysing van hoe jou lewe sou afgespeel in jou geboorte land nie. Dit kon dalk baie beter gewees het om omring te wees deur ons geliefdes en sonder die verlange na hulle. Dit sou vir ons moontlik gewees het om dié wat siek geword het of dié wat geliefdes verloor het, te ondersteun met ons teenwoordigheid. Hoe sal ons weet? Dit kon 'n tyd gewees het waarin elkeen van ons maar net aangegaan met ons eie lewe en ons geliefdes in elkgeval maar net hul eie lewens gelei het. Ons kon misdaad en geweld aan ons lyf gevoel het. Ons moes dalk ons eiendom verkoop om Hendrik se kankerbehandeling te kon bekostig. 

Hendrik sou daar ook sonder werk gewees het, want daar was verwag van die witmans bo 55 jaar ouderdom, om op vroeë pensioen te gaan of 'n pakket te vat en dis wat Hendrik gedoen het. Die kans om weer 'n werk te kon kry in Pretoria omgewing, was maar dieselfde as om hier 'n werk te kry. Die verskil is net, ons sou nie in Suid-Afrika op my inkomste alleen kon lewe nie.

Aangesien ons dit nie weet hoe ons lewens sou wees in Suid-Afrika nie, kan ek net praat oor die realiteite van hoe ons lewens verloop het hier in New Zealand. Baie dinge het verkeerd verloop, maar niks van dit het ons ooit laat besluit om terug te gaan Suid-Afrika toe nie, want dit was die soort goed wat daar ook oor ons pad kon kom. Die enigste tyd wat ek getwyfel het oor ons besluit om hierheen te kom, was toe ek in die dieptes van depressie ingetrek was, maar die oomblik wat ek daaruit gekom het, het ek weer die seëninge getel wat ons in New Zealand beleef.

Toe ons Suid-Afrika verlaat het was Sulet getroud. Sy het 'n buitengewone verhouding met haar skoonma gehad en goed met die res van die familie oor die weggekom. Ons het geweet sy sou dit kon bekostig om gereeld te kom kuier. Die huwelik het ongelukkig nie lank gehou nie. Dit was een van die eerste terugslae wat op ons pad gekom het. Dis 'n intense verlies om deur te maak. In die sewe jaar wat Sulet en Philip saam was, het Hendrik vir Philip lief geword soos sy eie seun.

Daarna is Hendrik deur die kankerepisode, Sulet het deur 'n intense rou periode gegaan na die egskeiding wat gepaard gegaan het met die outo-immuunsiekte, Ulcerative Colitis, wat haar by die dood laat omdraai het. Gedurende die tyd het ons huisdokter my op 'n hoë dosis Escitalopram (antidepressant) gesit om my te help om daagliks by die werk op te daag en my deel te doen. My inkomste was ons enigste inkomste. Dit het baie stres op my geplaas.

In Augusus 2016 breek ek die vyfde metatarsal beentjie in my linkervoet na kerk by die Michael Fowler Sentrum in Wellingtonstad. Ek het 'n klein trappie misgetrap, maar dit lei tot nog 'n stresvolle episode van lang periodes weg van die werk. ACC betaal tagtig persent van my inkomste terwyl ek nie werk nie, maar ons het pas in ons eie huis ingetrek en het my volle inkomste nodig om te oorleef.

Dit is nie die einde van al die ellendes nie. Vier van Aisling se voortande moet onder narkose getrek word nadat sy geval het, haar mond gestamp het en van die tande gebreek het. Die tandarts was van mening dat daar reeds tandverroting in die tande was. Hoekom sal ons nie weet nie. Sy was net twee jaar oud, Rialeen het haar nog geborsvoed en  Aisling is nie toegelaat om soetgoed te eet nie. Die hele episode het soveel spanning op Rialeen en Tim se verhouding gebring dat sy en Aisling vir ses maande hier by ons kom intrek het. (Sy in Tim is weer versoen en is gelukkig saam vir die laaste twee jaar.)

Die gebruik van Escitalopram het my op 'n pad gesit wat geen mens kon voorspel nie. Ek weet nie of dit anders sou afgespeel het as ek nooit die medikasie begin gebruik het nie. Miskien sou ek net gouer in die donkergat beland het as gevolg van alles wat besig was om te gebeur in ons lewens. Ons het geen kontrole oor dit gehad nie. Dit was uit ons hande, maar ons was gelukkig hier in New Zealand. Dit was nou ons tuiste.


Aisling is goed voorberei vir die teater. Hier speel sy met die masker sodat sy nie skrik as dit op haar gesig geplaas word nie.

Dinsdag 01 Oktober 2019

'n Terugblik

Hendrik is 'n elektroniese ingeneur. In Suid-Afrika het hy as projekbestuurder gewerk op groot projekte wat hom die wêreld vol gestuur het en ons in staatgestel het om 'n bogemiddelde lewensstandaard te handhaaf. Ons het in 'n groot huis gewoon in 'n goeie area in Pretoria, met 'n swembad en al die ander luukshede wat Suid-Afrikaners aan gewoond is; 'n huishulp, tuinwerker, goeie karre ens. Ons het dit alles prys gegee om hier in Wellington te vestig. Dis nie hoe ons dit beplan het nie, maar dis hoe ons storie verloop het.

Hendrik is jonger as ek en hoewel ons albei se beroepe in aanvraag is hier in New Zealand, was hy die hoofaansoeker. Ons was albei reeds in ons vyftiger jare, as jy ouer as 55 jaar is, gaan hul jou nie sommer hier toelaat nie. Ouderdom was dus 'n faktor in ons aansoek.

Ons het 'n neseier in Suid-Afrika van pensioengeld, polisse en ander beleggings wat ons nog nie oorgebring het na New Zealand toe nie. Ons het dus nie finansieël geïmmigreer nie hoewel ons reeds burgerskap hier het. Ons het ons huis  n Pretoria verkoop en die geld gebruik om hier 'n huis te koop.

Die geld in Suid-Afrika stel ons instaat om vir Sulet se besoeke aan ons te betaal of vir ons om daar te gaan kuier. Die doel met die geld is om ons te help oorleef as ons nie meer kan werk nie. Ons het beplan om hier te oorleef op die geld wat ons hier verdien tot ons besluit om af te tree.

Vir ons het niks uitgewerk soos ons beplan het nie. Hendrik het aktief gesoek vir werk toe hy hier aangekom het, maar kon niks kry gedurende die eerste twee jaar nie. Hy het twee of drie onderhoude gekry in die elektroniese rigting, maar hy is 'n Afrikanerseun wat wiskunde kan doen. Tale is nie sy ding nie en soos hy self sê, hy kan nie eens Afrikaans behoorlik praat nie, wat nog van Engels. Sy Engels het darem al baie verbeter, maar daar in die begin was dit maar met stampe en stote. Hy het later maar opgegee om enige iets in sy beroepsveld te kry. Sy ervaring was in die petrolbedryf en  wapenvervaardiging.

Hy het by 'n opp shop volunteerwerk gedoen, terwyl hy uitgekyk het vir enige ander werk. Hier het hy geleer van die Kiwi-kultuur en sy Engels het baie verbeter. Hy het ook baie goeie vriende gemaak. Ons het 'n eenvoudige lewe gelei op my inkomste, maar ons was gelukkig. 

Ons het die beste gemaak van ons omstandighede en probeer om soveel as moontlik van New Zealand te sien. Naweke het ons in ons direkte omgewing rondgery en besienswaardighede besoek in die groter Wellington area of staproetes gestap. Langnaweke het ons verder gery. Ons het 'n keer of wat by Tim se ma oorgebly en die omgewing daar in Hawke's Bay leer ken, gevlieg na Christchurch en Dunedin toe en telkens opgery Auckland toe om vir Frederik en Hannetjie te gaan besoek. Elke keer het ons 'n ander roete gevolg en op nuwe plekke oorgeslaap.

Hierdie idilliese lewe het vir amper twee jaar voortgeduur. In September 2014 het Hendrik baie siek geword en is met kolonkanker gediagnoseer. Van daar af het ons lewens totaal verander.

Gelukkig het ons nie met 'n huis vol meubels, troeteldiere en ander goed hier aangekom nie. Ons het nie nodig gehad om om 'n duur plek te huur wat ons goed en troeteldiere kon akkomadeer nie. Ons het nederig begin en stadige stappies gegee wat ons in staatgestel het om hier in die vreemde te oorleef, want ek het geweet, ek wil nie teruggaan om weer agter tralies en alarms te leef nie en te wag vir wanneer ons die volgende slagoffer van misdaad of moord word  nie.

Terwyl Hendrik nog deur chemoterapie gegaan het, het die agent wat ons huis uitverhuur het in Suid-Afrika, ons uit die bloute gekontak om te sê dat daar iemand is wat belangstel om ons huis te koop. Die geld het ons instaat gestel om 'n huis hier in Wellington te koop.

Na Hendrik se tweede operasie om sy stoma terug te keer, is hy Suid-Afrika toe vir 'n besoek aan familie en vriende. Hy het ook daar gereël dat die geld oorbetaal word New Zealand toe. In Mei 2016 het ons in ons eie huis ingetrek.

Ons huis is beskeie, maar in 'n gevestigde middelklas omgewing. Dis 'n ou 3 slaapkamer huis waarvan die badkamer en kombuis opgeknap moet word. Ons het besluit dat Hendrik nie verder sal soek na werk nie. Na die kankerepisode was dit belangrik dat hy fisies en emosioneel moes herstel. Hy het dus begin om self die werk aan ons huis te doen, terwyl ek voltyds gewerk het.


Aisling en oupa besig om die tuintjie te beplan🤩
Hul bewonder oupa se handewerk

Die eerste ding wat Hendrik gedoen het, was om die wilgerboom, met die hulp van sy vriend John, uit te haal. Nou is ons al meer as 3 jaar hier. Hendrik het baie gewerk aan die huis gedoen, binne uitgeverf, 'n dek gebou waar die afdak voor die huis is, ingeboude kaste uitgebreek en nuwes ingebou en nou is hy besig om die waskamer op te gradeer. 

Die eindproduk van Hendrik se harde werk. DIe dek gee ons 'n plekkie om te braai reg by die skuifdeur
Die lewe by die huis het te eensaam geword vir Hendrik. Toe ons in Petone gewoon het, was ons om die draai van Rialeen, sy het gereeld ingeloer en ontbyt of middagete vir hul gemaak. Nou was dit nie meer moontlik nie en haar besoeke het al minder geword. Omdat Hendrik nie meer by die opp shop gewerk het nie, het hy minder kontak gehad met sy vriende daar. Ian se vrou was baie siek en John was vir lang tye in Australia. Hendrik gebruik amper geen alkohol meer na die kanker nie en sy matroosvriend het moed opgegee om hom te nooi vir 'n bier by die klub.

Sonder dat ek geweet het het Hendrik begin werk soek. In die middel van 2018 het hy by die Te Papa Museum se sekuriteisafdeling begin werk op kontrak basis en in Desember is hy voltyds aangestel. Die tweede inkomste kon 'n groot verskil aan ons lewens maak, maar ongelukkig was niks in my lewe nog ooit so straightforward nie. Die tweede inkomste was van korteduur, want eers word ek platgeslaan deur depressie en nou is ek gediagnoseer met kanker. Hendrik se inkomste is dus dié keer ons enigste inkomste, maar ons weet, ons sal anderkant uitkom🙏

Saterdag 28 September 2019

Don't worry, you'll get there

Hoeveel keer het ek die woorde gehoor daar in die begin toe ek pas begin werk het. Ek het gesukkel om vingerafdrukke gemaak te kry sodat ek my polisieklaring uit Suid-Afrika kon kry. Ek wou my registrasie by die onderwysersraad so vinng moontlik deur kry. Die gesukkel het my moedeloos gemaak en dis wat die Kiwi's die hele tyd vir my gesê het. Dit het my nie baie gehelp nie, ek wou die registrasie deur kry sodat ek meer geld kon verdien en kon uitkyk vir 'n permanente pos. My geduld was op proef gestel.

Nou sit ek weer in dieselfde posisie. 'n Biopsie is gedoen asook bloedtoetse en 'n CT scan. Maandag het ek die Oor, Neus en Keelarts gesien. Hy het 'n kamera, deur my neus, in my keel ingedruk, alles daar gesond verklaar en daana bevestig wat ons reeds geweet het. Dit is kanker, dis versprei na die een limfklier of knoop onder die kaak, maar my longe is skoon. Hy het gereël dat ek Donderdag, 3 Oktober, die spandokters ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling; chirurg, radioloog, onkoloog, plastiese chirurg, narkotiseer ens.

Ek is ook verwys vir 'n biopsie van die limfklier en 'n MRI scan van die sagte weefsel waar die seer in my mond is. Dit sal eers Maandag, 7 Oktober, en Dinsdag, 8 Oktober, gedoen word. Intussen moet ek maar wag en geduldig wees.

Vandag was ek weer by Magda Erasmus en sy sê, sy kan sien hoe die mondseer groei en my gesig is effens geswel waar die limfklier is. My geduld hardloop uit, ek weet, 'I'll get there eventually', maar vir my voel dit soos lewe of dood. Die angs val my aan oor die gedagte aan pyn, tande en been in my gesig wat moontlik verwyder moet word, die herkonstruksie van my gesig, 'radiation therapy', hare wat gaan uitval... dis soos 'n nagmerrie. Hoe gouer als gebeur, hoe kleiner is die kans dat dit versprei. 

Ek kyk na klein Aisling en ek weet dat ek graag nog 'n paar jaar saam met haar sal wil spandeer sodat sy my kan onthou. 'n Mens weet nie wat die toekoms inhou nie en mens leef asof jy vir ewig gaan lewe. Die ironie is, agt maande gelede was ek so depressief en wou ek nie meer lewe nie. Nou het ek weer lus vir die lewe, maar die toekoms is duister. Ons is mos nooit tevrede nie.


Ouma se melkbekkie

Vrydag 27 September 2019

Kanker word gediagnoseer

In die middel van Junie begin ek 'n uitslag ontwikkel op my bors en nek. Oor die naweer begin ek soek na 'n na-ure kliniek. Ek sien dat daar 'n nuwe praktyk gaan open nie ver van ons nie met onder andere 'n dokter met die naam, Magda Erasmus. Dis hoe die gedagte ontstaan om van dokter te verander. Intussen sien ek ons vorige huisdokter, van meer as vyf jaar en sy diagnoseer my met gordelroos, op 'n snaakse plek aan die linkerkant van my nek agter en onder my hare in. My gestel moet af wees na die traumatiese tyd wat ek deurgemaak het met depressie. Ek het ook baie gewig verloor in die laaste maande.



Maar om terug te kom na die storie van die seer in my mond. Ek het my mond getrou met soutwater gespoel asook mondspoelmiddel, maar die seer word, wat my betref, net groter. Tien dae nadat ek die tandarts gesien het, besluit ek om Magda Erasmus te gaan sien, aangesien ons nou by die nuwe praktyk geregistreer is.

Die rede hoekom ek nie terug is na die tandarts toe nie, is eerstens die fooi wat ek moet betaal en tweedens het sy nie gedink dis nodig om antibiotika te gebruik om geneesing aan te help nie. Spoel met soutwater was haar voorskrif. Ek wou 'n tweede opinie hê. Ek het ook 'n ander opvallende knop in my nek ontwikkel wat my begin pla het sedert die gordelroos episode.

Vol versekering dat 'n dosis antibiotika die antwoord sal wees, is ek na Magda Erasmus, my eerste besoek aan haar. Sy het net een kyk na die seer gegee, haar kamera gekry en 'n foto geneem en dadelik gesê dat sy dink dit is meer as 'n net 'n plek waar ek my raakgebyt het. Sy gee my egter antibiotika op my aandrang en sê, as daar nie verbetering is teen die tyd wat die antibiotika klaar is nie, moet ek dadelik terugkom na haar. Die knop in my nek pla haar nie.

Na 'n week is ek terug by haar, bekommered dat die seer nie gesond word nie, maar haar woorde oor kanker het nie juis ingesink nie. Sy verseker my dat sy my reeds na 'n Mond, Kaak en Gesigarts verwys het en dat hul my sal kontak vir 'n afspraak. Sy gaan vir twee weke op vakansie, as ek niks van die spesialis hoor nie, moet ek haar dadelik laat weet sodra sy terug is.

Ek dring daarop aan dat sy vir my 'n verwysing moet gee om 'n sonar te laat doen van die knop in my nek en ek laat dit doen gedurende die tyd wat sy weg is. Nog voor ek Magda kan laat weet dat ek niks van die spesialis gehoor het in die twee weke wat sy weg was nie, kry ek 'n oproep van die verpleegster by hul praktyk dat ek 'n afspraak moet maak om Magda te gaan sien. Die woord kanker kom by my op en ek onthou haar bekommernis voor sy weg is op vakansie.

Die sonar het gewys dat knop waaroor ek bekommerd is, is niks om oor bekommerd te wees nie, maar daar is 'n ander knop of knoop (node) onder my kaak, aan die kant waar die mondseer is, waaroor die radioloog bekommerd is. Hul het aanbeveel dat ek na 'n Oor, Neus en Keelarts gaan vir 'n biopsie.

Ons kan nie kla nie, alle spesialisdieste is gratis. Hendrik se twee operasies, chemo, vyf jaar se bloedtoetse, jaarlikse scan en kolonoskopie het ons nie 'n sent gekos nie, maar hier is geen haas nie, eilandtyd... Ek weet nou dat die mondseer ernstig is, maar moet weer twee weke wag om die ONK arts te sien. Dit is 'n lang wag en die realiteit van kanker sak in.

Dinsdagmiddag kry ek 'n boodskap dat ek die Mond, Kaak en Gesigarts Woensdag twee-uur kan sien. Ons het reeds die dag afgevat om stad toe te gaan na die konsulaat vir ons paspoorte. Ek het uitgesien na 'n sorglose dag in die stad saam met Hendrik.

Dis 'n pragtige sonskyndag wat bederf is met die diagnose van kanker.

Woensdag 25 September 2019

Depressie vs Kanker

Aan die begin van die jaar het ek deur 'n episode van 'major depression' gegaan (dis weer 'n storie vir 'n ander dag). Ek was platgeslaan met angs en depressie en kon vir drie maande glad nie funksioneer of werk nie. Dit was 'n skrikwekkende ervaring wat ek nie weer wil beleef nie. Ek het baie dae gewens ek het liewer kanker gekry, want niemand is skaam om oor kanker te praat nie, maar as jy mental health issues het, word daar agter die hand daaroor gefluister.

Nou ja, nou het ek kanker en ek kan jul verseker, ek het baie vinniger hulp gekry toe ek gaan aanklop het met depressie by die vier-en-twintig uur krisis kliniek van die Hutt Valley Hospitaal. Van die oomblik wat ek die noodnommer geskakel het, tot ek 'n psigiater gesien het, het daar seker nie meer as twee tot drie ure verloop nie.

In Januarie hierdie jaar, terwyl ons by Hannetjie en Frederick gekuier het in Auckland, het ek bewus geword van 'n plekkie op een van my kiestande. Met my tong het dit gevoel soos 'n klein gaatjie. Aan die begin van April het ek uiteindelik by die tandarts uitgekom. Hy sê, dis net 'n tjip, maar hy sal dit opvul. Na 'n paar weke word ek bewus dat ek die binnekant my wang gedurig raakbyt met die tand waaraan gewerk is.

Ek moan en groan by Hendrik dat ek wil teruggaan na die tandarts om sy brouwerk reg te maak, maar ek doen dit nooit nie. Ek is in 'n stryd met depressie en is net gefokus daarop om uit die donkergat te kom. Tandartse is nie op my lysie nie.

In Julie is ek weer amper my ouself en werk ek weer toe ek 'n briefie van die tandarts in die pos kry; dis tyd vir my twee jaarlikse roetine ondersoek. Teen daardie tyd is die seer in my wang seker so een sentimeter in deursnee.

Die tandarts bekyk die seer en wys dit vir my met haar spieëltjie. Dis die eerste keer dat ek dit behoorlik kan sien onder die helder ligte en ek besef dit is baie erger as wat ek gedink het. Sy vyl die onderste en boonste kiestande aan die wang se kant af om te voorkom dat ek myself opeet☺ Sy sê, ek moet net aanhou om my mond met soutwater te spoel, wat ek reeds gedoen het. Die seer behoort vinnig te herstel, maar as dit nie in twee weke beter is nie moet ek terugkom. Sy kan nie x-strale neem vir die roetine ondersoek nie voor die seer genees het nie. Die tien minute by haar kos my $160.

In New Zealand is mediese versorging gratis, maar dit sluit ongelukkig nie tande en brille in nie behalwe as jy mediese versekering het. Ons betaal maar vir ons brille en tandartsbesoeke. Dit kos nog steeds minder as om versekering uit te neem. Gelukkig het ons albei gesonde tande.

Behalwe vir die baie geld wat ek moes betaal, is ek gelukkig en seker my mondwond gaan nou gesond word... min wetende wat die toekoms vir my gaan inhou. Hoe gelukkig is ons dat ons nie in die toekoms kan sien nie

Nou ja, dis die begin van my storie oor my kanker. Oor die depressie sal ek op 'n anderkeer praat, want dit is so, om oor depressie te praat is baie moeiliker, komplekser en emosioneel, maar dit is net so dodelik soos kanker.

Maandag 23 September 2019

Kanker tref ons weer

Op die 18de September 2014 is Hendrik uit die hospitaal ontslaan nadat hy met kolonkanker gediagnoseer is, 'n groot deel van sy kolon verwyder is en hy twee weke in die hospitaal spandeer het om te herstel.
Hendrik net voor hy die hospitaal verlaat het, opgedress en reg om huis toe te gaan

Die lewe is vol ironie en so het die ironie ons ook weer getref. Op 18 September 2019, vyf jaar nadat Hendrik die hospitaal verlaat het, word ek gediagnoseer met kanker.

Na my en Hendrik se besoek aan die Suid-Afrikaanse konselaat Woensdag, het ek 'n afspraak by 'n Mond, Kaak en Gesigspesialis gehad om 'n biopsie te doen van 'n seer in my mond wat nie wil gesond word nie. Ek het reeds geweet wat die diagnose sal wees, want ons huisdokter het dit nie van my weggesteek nie. Nou ja, die spesialis, wat toevallig ook Afrikaans is, het 'n biopsie gedoen, my gestuur vir bloedtoetse en verwys vir 'n CT scan om te bepaal of die kanker versprei het.

Vrydagoggend nege-uur moes Hendrik by die radiologie afdeling van die Hutt Hospitaal wees om sy laaste CT scan te kry. Hy is nou vyf jaar skoon van kanker en kan dit agter hom plaas. 

Twee-uur op dieselfde dag moes ek by dieselfde plek wees om my eerste CT scan te laat doen om my pad met kanker te begin. Dit was 'n Vrydagmiddag en ek het geweet dat ek eers in die volgende week die uitslae sou kry. Dis 'n lang, uitmergelende naweek!

Nou wag ons vir die uitslae van al die toetse en Maandag vroeg het ek 'n afspraak by 'n Oor-, Neus- en Keelarts om 'n biopsie te neem van 'n knoop (node) wat onder my kakebeen ontwikkel het. Dis 'n angswekkende gewag!

Hoe gouer hul opereer hoe beter, maar hier is daar geen haas nie. Ons huisdokter, Magda Erasmus, het 'n maand lank gesukkel om my by spesialiste in te kry dat die diagnose gemaak kan word en ek na 'n onkoloog en chirurg verwys kan word. Die gewag maak my klaar, want ek kan voel en sien hoe die seer in my mond groei. Daar is ook 'n knoop onder my kakebeen wat elke dag groter en seerder word, maar ek weet ons sal daar uitkom... geduld! 

In Afrika is dit afrikatyd, op 'n eiland is dit eilandtyd. Ek behoort gewoond te wees daaraan, maar as dit by mens se gesondheid kom, wil jy nie wag nie. My geduld word beproef! 'But eventually we'll get there', soos die Kiwi's sê. Intussen sal ek maar bolletjies rol en bid vir die beste.

Sondag 22 September 2019

Dubbelburgerskap

Dit het ons lank gevat om aansoek te doen vir New Zealandse burgerskap, maar op 14 Februarie 2019 het ons dit uiteindelik ontvang tydens 'n seremonie in die stadsaal in Lower Hutt. Baie water het in die see geloop sedert ons op 9 Februarie 2011 twaalfuur in die nag, voet aan wal gesit het op Wellington se lughawe. Ons het deur 'n wonderlike tyd van euforie gegaan tot die donkerste tye waar ek gevoel het ek staan teen 'n muur, 'n tweestryd tussen jou geboorte land en die land wat jy aangeneem het. Immigrasie is definitief nie vir sissies nie. Ek het myself nog nooit as dapper beskou nie, maar om hier in die vreemde te kom vestig, is sekerlik die dapperste ding wat ek nog ooit gedoen het. 


Ek en Hendrik het besluit om ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou en aangesien ons paspoorte verval, moes ons ingaan na die Suid-Afrikaanse konselaat om dit daar te laat hernu. Op die 18de September is ons in na Wellingtonstad om dit te gaan doen. Dit was 'n pragtige sonskyndag, ideaal om langs die Queens Wharf te stap soos ons baie gedoen het toe ons nog nuut was in Wellington. Ek besluit toe ons moet gaan koffie drink by die café waar ons die heel eerste oggend na ons aankoms koffie gedrink het. Hendrik het vanuit Suid-Afrika op die internet vir ons 'n bankrekening geopen en geld daarop inbetaal, maar ons moes die bankrekening aktiveer sodra ons hier aangekom het ten einde toegang tot die geld te kry. Ek, Hendrik en Rialeen het daardie eerste oggend in 2011 in die stegie oppad na die bank, koffie gedrink terwyl ons gewag het vir die bank om oop temaak.

Deur die venster van die konselaatskantore in Wellingtonse middestad 

n Skoenlapper in my koffie #baristaart

Ons was vroeg by die konselaat en is vinnig en vriendelik gehelp, vingerafdrukke gedoen en daarna het ons deur die stad na Cubastraat gestap en Courtney Place. Daar het ons iets geëet vir middagete, maar ons het geweet ons kan nie te lank vertoef nie, want ek het 'n afspraak met 'n Mond, Kaak en Gesigspesialis by die Hutt Hospitaal se 'Dental Clinic' gehad vir twee-uur.

Dit was so lekker om al die ou herinneringe terug te bring van daardie eerste agtien maande toe ek en Rialeen alleenig hier in Wellington gewoon het, sorgloos soos 'n lang vakansie. Ons het alles in die stad kom doen, want daar is niks in Johnsonville nie, net die basiese winkels, geen flieks of teaters nie. Ons het selfs na 'n internasionale kerk in die middestad gegaan en 'n huisdokter daar gehad. Die goeie ou dae!

Sondag 17 Julie 2016

Twee Jaar Later

Kanker is 'n skrikwekkende woord en dis wat op Hendrik en my pad gekom het en daartoe gelei het dat ek nie die krag gehad het om my blog vol te hou nie. Daar is tye wat mens ook nie als wat in jou lewe aangaan met almal wil deel nie. Tyd bring heeling en dan kan mens meer objektief terugkyk na gebeure. Vir my is praat en skryf heeling, om met ander my emosies en gedagtes te deel, is terapie. 

Daar het so baie in twee jaar gebeur. Ek het gedink dit is al baie langer sedert ek die laaste inskrywing gemaak het en was verstom om te sien dit was net twee jaar. Maar as ek terugkyk weet ek dit was stresvol, maar twee goeie jare. Wonderlike dinge het met ons gedurende die tyd gebeur. Ons was oorval met gebede nadat kanker by Hendrik gediagnoseer is wat hom die krag gegee het om kanker te oorwin. Rialeen het aangekondig dat sy swanger is en ons het 'n kleindogter, Aisling Yew Morris, ryker geword. Ons het ook ons eerste huisie in Wellington gekoop. Ek en Rialeen is ook nou al langer as vyf jaar hier en kan aansoek doen vir burgerskap. Hendrik se broerskind Carel, sy vrou Cheney en klein Carter, het by ons aangesluit in Wellington. Nou het ons darem ook familie net om die draai van ons.  Ek is gevestig in 'n permanente pos en het 'n wonderlike kollega, Doug Tristran, met wie ek agt ure elke dag van die week by die werk deel. Waarvoor meer kan ek vra?

Hierdie is vir my 'n lekker manier om met almal te gesels wat in ons lewens belangstel. Hier kan elkeen sien wat gebeur met ons, die laagte punte en die hoogte punte. Ek kan ons foto's deel en terselfdertyd skep ek vir ons 'n dagboek en foto-album. Dis 'n verwysing vir ons kinders of kleinkinders in die toekoms as hul begin wonder oor gebeure in ons lewens. Vir my is dit 'n lekker  manier om deel te bly van die lewens van die mense wat nou ver van my af woon in ander lande en met wie ek graag nog lang persoonlike gesprekke sou wou voer. Dit is ook 'n beskikbaar vir ander wat dit mag oorweeg om Suid-Afrika te verlaat as 'n bewys dat mens aanpasbaar is en 'n nuwe lewe êrens anders kan begin. Dis nie 'n maklike besluit nie, maar die uitkoms is vir ons goed en ons sal nooit terugkyk nie.

Ek het oorweeg om in Engels te skryf aangesien ek nou gemaklik is in Engels en baie van my vriende net Engels verstaan, maar ek besef dat ek vir die na aan my skryf en hul is Afrikaners. Dit sal net te onnatuurlik wees om oor my persoonlike lewe in Engels te praat. Gelukkig kan die Engelssprekendes, wat belangstel om dit te lees, die 'translater' gebruik.

My laaste inskrywing was in Junie 2014. Op daardie stadium het Hendrik alreeds baie gewig verloor, maar ons het aangeneem dit is as gevolg van die meer aktiewe lewe wat ons hier lei. Teen einde Augustus het hy begin siek word en na verskeie besoeke aan die huisdokter en die noodeenheid by die Hutt Hospitaal, is kolonkanker gediagnoseer. Hy is dadelik in die hospitaal opgeneem en die volgende dag is hy teater toe om 'n groot deel van die kolon te verwyder waar die fase vier kanker gediagnoseer is. Teen die tyd wat hy die hospitaal verlaat het, het hy net ses-en-vyftig kilogram geweeg.


Die laaste foto van Hendrik in Junie tydens ons besoek in Dunedin
Die dag wat Hendrik die hospitaal verlaat het

Dit was die begin van 'n agtien maande stryd om kanker te oorwin en terug te keer na 'n normale lewe. Dis 'n opdraende pad, maar ons albei was positief en het die stryd gestry, vasgebyt en heel anderkant uitgekom. Ons het soveel liefde en ondersteuning van almal gekry en van oral oor is daar vir Hendrik gebid.

Vir meer as 'n jaar moes Hendrik 'n stomasak dra en chemoterapie kry, maar genadiglik het die dokter besluit om die stoma om te keer in Oktober en van daar af kon ons lewens terugkeer na normaal. Hendrik moes nog herstel en sy krag herwin, maar in Desember het hy die krag gehad om Suid-Afrika te besoek. Hy het 'n intense behoefte gehad om sy familie en vriende weer te sien. Ons huis in Moreletapark is ook verkoop en hy het die geleentheid gebruik om ons finansies daar te gaan uitsorteer en geld oor te plaas om ons instaat te stel om ons eerste huis hier in Wellington te koop.

Vandag is Hendrik skoon van kanker en ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons sien uit na die toekoms hier in Wellington, New Zealand waar ons nou ingeburger is.