Sondag 24 November 2019

Voorbereiding vir bestraling

Maandagoggend het ek 'n afspraak by Wellington Hospitaal gehad met die spraakterapeut,  dieetkundige en radioloog wat verantwoordelik gaan wees vir my tydens die bestraling. Dit was my eerste uitstappie vandat ek uit die hospitaal ontslaan is. Hendrik het my gehelp om my hare oor die bad te was en ek het dit mooi droog geblaas, grimering aangesit en my serp om my nek gesit om my wonde te bedek, gereed om die wêreld in die oë te kyk.


Dit was 'n goeie geleentheid om vir die eerste keer in die openbaar iets te eet en koffie te drink, want die hospitaal het 'n goeie cafe. Daar sit altyd ander pasiënte rond wat afkom van hul kamers, saam met familie of vriende, om koffie te drink en iets anders as hospitaalkos te eet. Ek het dus geweet niemand gaan in my belangstel of na my staar nie. Daar is ook 'n verskeidenheid van sagte kos en smoothies om te geniet. Hendrik het 'n geurige hoenderkerrie geëet en ek 'n amandel en klappermelk nagereg. Niemand het hul aan my gesteur nie en die uitstappie het my goed gedoen. In my kop was die doel van die besoek net om almal te ontmoet, maar ek was verkeerd en ons het 'n groot deel van die oggend daar spandeer. 

Vir die wat dink 'n spraakterapeut is net verantwoordelik vir spraakterapie,  wag daar 'n verrassing. Ek het gelukkig baie kennis in dié verband omdat ek 'n gekwalifiseerde spraakterapeut is. Ek het net gekies om met kinders te werk en die opset in 'n hospitaal is onbekend aan my. Ek het darem jare gelede op Universiteit hiervan geleer en het dus akademiese kennis. Ek het 'n nagraadse diploma in kleuteronderwys en het gekies om in New Zealand te kom werk as 'n kleuteronderwyser.

Die spraakterapeut is verantwoordelik om toe te sien dat ek behoorlik kan kou en sluk en dat ek nie trismus in my kaak ontwikkel nie (jawlock), want dit kan probleme met voeding veroorsaak asook mondhigiëne, tandarts besoeke en ander sktiwiteite waar dit nodig is om my mond oop te maak. Die spraakterapeut het dus vanoggend allerlei waarnemings en metings gemaak om te sien waartoe ek instaat is, sodat sy dit kan dophou tydens bestraling. Sodoende kan probleme in die verband voorkom word. Sy het ook vir my 'n klomp oefeninge gegee om elke dag te doen. So nou het ek iets om my mee besig te hou as ek verveeld raak😊

Die dieetkundige het weer bevestig hoe belangrik 'n gebalanseerde dieët is aangesien eet tydens bestraling baie moeilik word. Meeste mense ontwikkel mondsere, probleme om te sluk en net 'n algemene afname in die behoefte om te eet. Dit lei daartoe dat hul baie gewig verloor, vyftien tot twintig kilogram, in ses weke. Hul word dus baie moeg en sukkel om te herstel  na die bestraling. Die dieetkundige was baie tevrede met wat ek eet op die stadium. Ek probeer dit gebalanseerd hou deur groente smoothies en vrugte smoothies met yoghurt, advokado peer of grondboontjiebotter (vir proteïen inname) met piesangs, dadels en bessies. Dit help vir die soettand ook. Ek eet ook saggekookte groente met roomkaas, maelvleis of vis en saggekookte eiers met advokado. Ek drink melk en eet gerasperde kaas gesprinkel oor kos.

Die radioloog het weer met die slegte nuus gekom oor die newe-effekte van bestraling en alles wat ek reeds weet. Ek het ook nuwe inligting gekry. Ek moet volgende week Woensdag by Wellington Hospitaal wees vir die maak van die masker wat ek tydens die bestraling moet dra. Daar gaan ook weer 'n CT scan gedoen word. Ek moet dus voor die tyd vas en dan word 'n kontrasmiddel binne-aars toegedien. Dit sal die are en organe meer sigbaar maak. Om die CT scan te kan doen, moet my wonde genees wees, my hoes opgeklaar het en sooibrand onder beheer wees. Ek het dus gister ons huisdokter besoek en sy het na my wonde gekyk en na my longe geluister en sy is seker dat ek teen volgende week, Woensdag, gereed sal wees vir al die prosedures.

Vanoggend het een van die radioloë my gebel en 'n afspraak met my gereël om die onkoloog volgende week Dinsdag te sien Hy sal al die opsies van my behandeling met ons bespreek. Hoewel die chirurg gesê het, sy dink, ek sal nie chemo ook kry nie, is die onkoloog van opinie dat ek wel chemo sal moet kry tydens die ses weke wat ek bestraling kry. Die rede hiervoor is, dat die kanker na die limfkliere versprei het. Dis deur die limfsisteem wat kanker na ander organe versprei. Deur chemo te gee, word die moontlike verspreiding gestop, anders pop die kanker een of ander tyd weer êrens anders uit. Bestraling is lokaal gefokus op die dele in my gesig en nek waar die kankerselle verwyder is.

So my dae word gevul met doktersbesoeke en verpleegsters wat my wonde behandel. Vaoggend het ek die psigiater en my mental health  nurse gesien. Dit is baie naby aan ons kerk en ek en Hendrik het iets gaan eet en koffie gedrink by die cafe by ons kerk. Hul bedien Ripe Coffee en Rialeen werk vir die eienaars van die Ripe Coffee Roasters.  Ek ondersteun hul dus graag en het 'n voorliefde vir hul koffie ontwikkel. Ek begin stadigaan meer selfvertroue ontwikkel om met my geskende gesig uit te gaan en om die openbaar te eet en drink.
Dis hoe ek vanoggend  gelyk het nadat ek my mooi gemaak het vir die besoek aan die psigiater
Na dit is ek na die kerkkantoor om almal te groet en met een van die pastore te praat, sy het vir my gebid en nou kan ek die naweek met nuwe moed aanpak. Vandag is Vrydag en dit was 'n besige week, maar volgende week gaan nog besiger wees en hoë eise gaan gestel word aan my gees. 

Gelukkig kan ek rapporteer dat my pyn baie minder is en dat ek 'n afspraak gekry het met 'n fisio by die Hutt Hospitaal vir volgende week. Ek is gevul met dankbaarheid dat die staat so mooi na my omsien. Al hierdie ingrype en behandeling kos ons nie 'n sent nie en ek hoef niks self te reël nie. Alles gebeur op die agtergrond. Die datums van al my verskillende afsprake is op die rekenaarstelsel sigbaar vir almal wat by my behandeling betrokke is. So kan hul al die afsprake koördineer dat dit nie bots nie en ek word net gebel om ingelig te word wie ek wanneer en waar sien. Ek is dus net baie dankbaar vir die New Zealanders wat ons aangeneem het as landsburgers van die wonderlike land.

Dinsdag 19 November 2019

Baie stadig, maar seker vorentoe

Ek wens ek kon sê dat ek elke dag beter voel, maar dit sal nie die waarheid wees nie. Terwyl ek in die hospitaal was,  kon ek elke dag vordering sien, maar vandat ek by die huis is, is dit 'n ander storie. Die pyn in my arm en skouer maak my mal. Dit veroorsaak dat ek sleg slaap en ek is verplig om elke ses ure pynmedikasie te neem. Dis nie iets wat ek nog ooit in my lewe nodig gehad het om te doen nie.

Ek het nie pyn in my gesig nie, die medikasie wat ek vir die senuwee pyne neem, is baie effektief. As ek dit nie neem nie, kry ek skietpyne vanaf my nek in die dele wat gevoeloos is, aan die linkerkant van my kop en deur my oor. Die pyn is dus onder beheer in my gesig, maar ek het nog steeds daai stuk rouvleis, wat uit my arm gesny is en in my mond ingeplant is, in my kies. Dit gaan nog vir lank daar wees voordat dit deel gaan word van my mond. Dit is ten minste nie seer nie, net weird.


Vandag het die verpleegster, wat my wonde kom versorg het, foto's geneem terwyl al die pleisters en verbande af is. Die pieperiges moet maar nie kyk nie.




Die letsels waar hul my lip oopgesny het om by die kankerseer in my mond by te kom


Die opening waar die tracheabuis ingeplaas was vir my om deur asem te haal

Die snit wat gemaak is om die kankeragtige limfkliere te verwyder

Die wond op my arm waar hul 'n stuk spierweefsel  met 'n aar uitgesny het. Dit is oorgeplant in my mond om die opening in my mond te vul, nadat die kanker uitgesny is.

Op my bo-been is hierdie stuk vel uitgesny om oor die gat in my arm te werk.


Dit was omtrent 'n slagting. Nou kan jul verstaan hoekom die operasie so lank geduur het. Die chirurg het telkens vir my gesê dat ek baie siek is en moet rus vir die vyf weke voor die bestraling begin, maar dit is asof dit nie ingesink het nie. Ek besef dit nou elke dag as ek soos 'n baie oumens probeer om alledaagse take te verrig en ure lank lê en slaap. 

Soos ek reeds gesê het, het ek gelukkig 'n goeie eetlus. Hendrik was vandag mark toe en het klomp vars groente en vrugte gekoop asook vis. Ek is dus gereed vir die week wat voorlê en sien uit om nuwe smoothie resepte uit te probeer. Ek kan darem nou blokkies sagte brood ook eet. Vanaand het ek van die vars vis gaargemaak en ek kon dit kou. So daar is vordering wat dit betref en snaaks genoeg mis ek nog nie 'n bord gewone kos nie. Die etes wat ek vir myself voorberei is geurig en hou my versadig. Tussen etes drink ek smoothies met groente en vrugte in wat ek met die Nutribullet maak. As ek wil, kan ek 'n blokkie donker sjokolade in my mond smelt en ek kan roomys eet en poedings met 'n vlabasis. Ek ly dus verseker nie honger nie😊 


Ek moet bly gesond eet om te verseker dat ek vinnig genoeg herstel, want fase twee van my behandeling lê om die draai. Ses weke se bestraling gaan sy tol vat aan my lyf en gees. Dit is verseker nie iets waarna ek uitsien nie, maar ek het nie 'n keuse nie, ek moet daardeur gaan🙏

Sondag 17 November 2019

Pyn, pyn en nog pyn

Ek het nou die twee weke merk na die operasie verby gesteek en ek besef net meer en meer, hoe my geduld beproef gaan word. Hierdie is nie iets wat oornag gaan gesond word nie. Behalwe dat ek te swak is om uit te gaan, het ek verseker nie lus dat mense my aanstaar nie. Ek kan die wonde op my arm en been onder klere wegsteek, maar 'n geswelde gesig vol steke en pleisters is daar vir almal om na te staar. Die linkerkant van my gesig is gevoeloos en ek het, soos 'n kind, 'n borslap nodig as ek eet. Ek word beter met die etery, maar dit bly 'n morsige besigheid. Ek eet net sagte kos en voer myself met 'n eetlepel of teelepel aan die gesonde kant van my mond. Elke keer nadat ek geëet het, moet ek my mond uitwas om te keer dat  stukkies kos in die wond vassit en septies word.

My lewe draai dus rondom rus of slaap, voorbereiding van kos, eet en higiëne, want om my lyf skoon te hou is net so 'n missie. Sover het ek nog nie gestort nie, Hendrik het my hare oor die bad gewas en ek spons myself af. Stort beteken dat ek 'n plastiese sak moet sit oor die wond op my been, arm en nek. Dit is net teveel moeite! Môre kom 'n verpleegster om my wonde te versorg en ek beplan om te stort voor sy arriveer, want ek weet dan word al die pleisters vervang. 
Elf dae se vordering in die hospitaal 
Ek het geen vrees vir 'n hospitaal nie, want ek weet solank mens daar is, weet jy nie van pyn nie. Die verpleegsters staan gereed met allerlei maniere en middels om pyn te verdoof, stiptelik volgens 'n skedule. Hul maak jou wakker wanneer jy geen pyn het nie, sodat hul jou pynmedikasie kan gee. Hier by die huis is dit 'n ander storie. Ek moet self onthou om die pyn te verdoof en dit gebeur gewoonlik eers wanneer ek bewus word van die pyn. Dan het die medikasie tyd nodig om in te skop. 

Ek het geen pyn in my gesig of mond nie, maar die linkerarm waar die spierweefsel uitgesny is om in my mond in te plant, pyn aanhoudend. My linkerskouer is ook baie seer. Die dokter sê dis as gevolg van die werk wat hul daar gedoen het. As die medikasie uitgwerk is, is die pyn intens. Hoewel my gesig dood voel, kry ek senuwee pyne wat daar deur skiet. 

So dis nie grappies nie! Ek is siek en voel siek, maar omdat ek nie genoeg beweeg nie, het ek weer lae rugpyn. Dit maak dit moeiliker om te beweeg en die een ding lei na die ander. Ek word dus net elke dag meer bewus dat ek na myself moet kyk, fisies en emosioneel om deur hierdie herstel periode te kom. Oor vier weke begin bestraling en dis weer 'n perd van 'n ander kleur.

Gelukkig het ek 'n gesonde eetlus en ek kan 'n verskeidenheid kossoorte eet. Ek 'n voorliefde vir groente en vrugte. Avokado's is in seisoen en ek eet elke dag een of maak 'n smoothie daarmee. Al die eet vat nie die moeg weg nie. Ek slaap baie, maar probeer ligte take in die huis doen en stap in ons klein tuintjie rond. Ons het weer 'n paar sonskyndae gehad. Dit is dus lekker  om buite te kom, maar vir nou is die bank of bed die plek waar ek meeste van my tyd spandeer.

'n Oudkollega, Victoria, wat van Zimbabwe is, het een oggend  kom kuier met haar ses maande oue babatjie. My foon lui aan mekaar, 'n paar keer 'n vriendin of familie wat wil hoor hoe dit gaan, maar meestal om opvolg besoeke te reël vir wondversorging, voorbereiding vir bestraling of om seker te maak dat ek okay is hier by die huis. Ek het absolute bewondering vir die New Zealandse mediese versorging. Ons is daarmee gekonfronteer tydens Hendrik se kolonkanker en nasorg, my episode van depressie en nou weer met my orale kanker. Ons sou ver moes soek om beter versorging te kry. Natuurlik is daar tekortkominge wat deur die media gerapporteer word, maar ons is nog nie met dit gekonfronteer nie.

Donderdag 14 November 2019

Terug by die huis😊💜

Ek het nou al twee nagte in my eie bed geslaap. Hoewel ek baie angstig was om huis toe te kom, is dit lekker om hier by my eie huis te wees. Ek eet ook gesonder as in die hospitaal waar hul fokus op hoë kalorie kos. Ek kan net sagte kos eet en gaar groente werk die beste. Die rou groente en vrugte smoothies brand nog my mond, maar ek kan gemaelde vleis eet, sag gekookte eiers en roomkaas. Hoendersop werk ook lekker,  want die vleis kook sag en ek kan allerlei groente daarin sit en dit dan blend. Ek het 'n reuse eetlus en is baie dankbaar daarvoor,  want ek is moeg en sonder energie. Ek slaap nog baie deur die dag, maar nou ja, die dokters het gesê, al wat ek die volgende vyf weke moet doen, is rus en krag bymekaar maak vir die ses weke bestraling wat in die middel van Desember sal begin.
My laaste foto in die hospitaal,  gereed om huis toe te gaan💛
Die nasorg en spanwerk is ongelooflik hier in New Zealand. Ek is Maandag uit die hospitaal ontslaan, Dinsdag vroeg het 'n verpleër van die distriksraad 'n besoek afgelê om al die papierwerk te doen sodat hul kan begin om my wonde tuis te versorg. Donderdag en Saterdag sal 'n verpleegster kom om al my wonde skoon te maak. Ek het 'n lang snit in my nek waar die limfkliere verwyder is, die steke het bietjie septies geraak en moet versorg word asook die die trachea snit, die wond op my arm waar die spierweefsel en aar uitgesny is en die wond op my been waar vel verwyder is om oor die gat in my arm te werk. Ek het gekies om van volgende week af na die hospitaal te gaan vir my wondeversorging, elke tweede dag. Hendrik is op verlof tot die einde van die maand en sal my rondry. Dis goed vir my om redes te hê om uit die huis te kom.

My Cancer Nurse Coordinator het vandag gebel en 'n lang gesprek gehad asook my Mental Health Nurse, Riz. Sy het toevallig in die Plastic Surgery Ward gewek voordat sy begin spesialiseer het in geestesgesondgesondheid. Sy en die psigiater, Dr. Duncan, sal my volgende week Dinsdag by die huis kom besoek vir 'n terapiesessie en om 'n oog te hou oor my gemoedstoestand.


Verder het iemand van die Kankervereeniging my gekontak en aangebied om ons finansieël te help met koepons vir petrol asook kruideniersware. Ek het ook 'n afspraak  vir volgende Maandag om die dieetkundige en spraakterapeut te ontmoet by Wellington Hospitaal. Hul sal verantwoordelik vir my wees terwyl ek bestraling daar kry. Die 27ste November ontmoet ek die radioloë wat die bestraling gaan doen. Hul gaan die afmetings neem vir my doelgemaakte masker wat ek tydens elke bestralingsessie sal gebruik.


So jul kan sien, never a dull moment vir my nie. Tussen al hierdie aktiwiteite moet ek probeer rus en aansterk sodat ek fase twee van my behandeling kan deurmaak.

Saterdag 09 November 2019

Die ouderdom haal ons in

Nadat die staat al die baie geld gespandeer het om my te opgradeer na 'n gesonder model, voel ek onder verpligting om nog 20 tot 30 jaar op my speedometer te sit. Ek is nie juis iemand wat dink dis cool om stokhoringoud te word nie. Ek sal maar liewer wil gaan terwyl my kop nog intakt is. My ma se ma en my ma het albei Parkinsonse siekte gehad en dit was baie stresvol vir die familie om hul te sien degeneree tot waar hul fisies oorgelewer was in die hande van hul versorgers.

Ek is ook nou soos hulle oorgelewer aan die totale fisiese versorging van die verpleegpersoneel. Ek het skielik herinneringe van hoe ek gesien het as kind, waar my geliefde ouma op dieselfde wyse versorg was. Later was dit my ma se beurt en sy was vreeslik pieperig en het vir alles 'n gil gegee. Dis nie lekker herinneringe nie en ek besef maar net daar is geen waardigheid in die situasie nie. Die beste is om nie teë te sit nie en deur elke oomblik so vinnig moontlik te kom.

Vir sestig jaar het ek myself afgevee nadat ek die toilet gebruik het, maar nou is my onafhanklikheid ingekort deur buise, pype, pompe, monitors, suurstofpype en drips. Iemand anders moet hierdie take vir my doen. Wonder bo wonder doen hul dit op 'n liefdevolle wyse wat my nie verkleineer en inkompotent laat voel nie. Die laaste drie dae het ek 'n manlike verpleër gehad. Hy was so professioneel, geduldig en teer in sy versorging van my, ek kon hom ten volle vertrou met elke taak, hoe groot of klein. Hy het verstaan wanneer om 'n vroulike verpleegstershulp in te roep en wanneer om 'n taak self af te handel.

Ek is baie dankbaar teenoor die New Zealanders wat ons aangeneem het as burgers van hul land en al hierdie voordele tot ons lewens toegevoeg het. Twee kankers in vyf jaar in Suid-Afrika kon ons verplig het, om al die geld wat ons vir ons oudag eenkant gesit het, te gebruik. Daar is soveel ekstras wat die mediese fonds nie dek nie.

Wat my die meeste beïndruk van die gesondheidsdienste hier, is spanwerk en nasorg. Ek onthou toe Hendrik ontslaan is uit die hospitaal,  het 'n verpleegster hom elke dag besoek tot sy seker was, hy was sterk genoeg om na homself te kyk. Vir vyf jaar het hy 'n brief in die pos gekry om te sê vir watse opvolgtoetse hy moet gaan en om sy afsprake by dokters en die verpleegster te reël.  Nou is hy vry van daardie las en staan ek volgende in die ry.

Donderdag 07 November 2019

Operasie 😷👍✔

Vandag 'n week gelede, hierdie tyd, het ek in die teater gelê. Dit voel soos 'n ewigheid gelede. Soveel goed het gebeur in een week, maar die belangrikste is dat ek wakker geword het in die intensiewe eenheid en nie die hemel nie. Nie dat ek sou omgee as ek in die hemel was nie, maar ek wil liewer nog meer tyd by my geliefdes spandeer en dit is wat ek die Here gevra het


 Net na die operasie in die intensiewe eenheid
 Twee dae na die operasie 
Aisling se eerste besoek op die derde dag na die operasie en ek moet haar wen met skaapspeletjies.

Om aan buise gekoppel te wees deur elke gaatjie en ledemaat, is verseker nie 'n lekker ondervinding nie, maar ek is net te dankbaar dat ek die teater oorleef het. Alles is net so goed georganiseerd en al die dienste is gratis. Die Hutt Valley Hospitaal is 'n opleidingshospitaal en 'n span chirurge in opleiding besoek my elke dag asook 'n dieetkundige,  fisio- en spraakterapeut.  'n Maatskaplike werker kom elke tweede dag. Die dag wat hul die tracheabuis uitgehaal het, waardeur ek asemgehaal het, was daar 'n kamer vol mense wat kom observeer het hoe dit gedoen word.

Ek vorder bo verwagting goed. Al die buise is uitgehaal,  behalwe vir die buis wat deur my neus na my maag gaan, maar ek kan vry rondbeweeg sonder drade en pype. Van gisteraand mag ek slukkies water gedrink het en vanaand het ek my eerste 'kos' gekry wat bestaan het uit helder hoendersop, jellie, suurlemoen ysblok en vrugtesap. Intussen kry ek nog ontbyt, middag- en aandete en my laataand versnappering deur die buis. Dit bestaan uit botteltjies nagamaakte smoothies wat al die nodige voedingswaardes bevat om my aan die lewe te hou.

Nou weet jul almal hoe dit met my gaan en dat ek stap een, die chirurgie, kan afmerk van my lys af. Daar is vyf weke se hersteltyd en dan begin ek met fase twee naamlik ses weke, vyf dae 'n week se bestraling. Die dokters wag nog vir die uitslae van toetse wat op die kanker gedoen moet word, wat sal bepaal of ek chemoterapie ook sal kry. Dit is gelukkig 'n ander dag se prbleem. Vir nou moet ek net aan die eet kom en my kragte opbou vir fase twee.

Woensdag 30 Oktober 2019

Die begin van die einde is insig👌

Nog net een nag en wanneer ek opstaan, moet ek 'n stort, ek mag nie room aan my lyf smeer of grimering aansit nie en niks eet of drink nie. Sewe-uur moet ek by die hospitaal wees, gereed vir die groot slagting. Snaaks genoeg, ek kan nie wag nie! Ek wil die kanker uit my lyf hê en die behandeling verby kry. Nadat hul die kanker uitgesny het, sal dit getoets word en kan daar 'n prognose gemaak word.

Die meeste mond en keelkankers word veroorsaak deur die Human Papilloma Virus HPV. Dit is dieselfde virus wat baarmoeder kanker veroorsaak. Dit word deur seksuele omgang oorgedra en dit kom algemeen voor in ons almal se liggame. Meeste mense kan die virus veg deur hul immuunstelsel, maar by die ongelukkiges soos ek, veroorsaak dit kanker. Die prognose vir dié kanker is baie goed omdat dit goed reageer op bestraling en chemo, maar of dit die oorsaak van my kanker is, weet ek nog nie. Dis die kanker wat die bekende Amerikaanse akteur, Michael Douglas in sy keel gehad het. Hier in New Zealand kan alle seuns en dogters, vanaf die ouderdom van twaalfjaar, teen dit ingeênt word. Australia reken dat dit die een kanker is wat hul teen die einde van die dekade uitgeroei sal hê as gevolg van hul immuniseringsprogram daar teen.

Maar eers moet ek deur die chirurgie gaan môre. Gedurende die elf ure wat ek in die teater gaan wees, sal hul die kanker uit my wang sny. Dit behels dat die tandvleis en 'n deel van die kakebeen uitgesny gaan word om te verseker dat niks van die kanker agterbly nie. Om daar te kan bykom moet hul my onderlip split en moontlik die kakebeen ook. Dan word daar 'n snit in my nek gemaak, om die limfklier, wat volgens my skatting nou al vier sentimeter in deursnit is, te verwyder asook alle ander limfkliere wat aangetas is. Die opening wat dan in my mond is, sal opgevul word met spierweefsel en 'n aar wat hul uit my linkerarm sal haal.

Die gevolg van die gewerkskaf in my mond en nek is, dat dit baie geswel gaan wees en ek moontlik nie deur die normale kanale sal kan asemhaal nie. 'n Tracheostomy sal gedoen word en 'n buis sal ingesit word waardeur ek kan asemhaal. Jul kan dus verstaan dat ek vir 'n paar dae, in die intensiewe eenheid gaan lê, waar ek in die bekwame hande van my eie verpleegsuster gaan wees tot ek in so 'n mate herstel het, dat ek oorgeplaas kan word na 'n algemene saal.

Om deur al hierdie ellendes te kan kom, het ek almal se gebede nodig. As jy nie 'n gelowige mens is nie, kan jy jou positiewe gedagtes na my uitstuur of selfs my God vra om my en my familie te beskerm in hierdie moeilike tyd🙏🙏

Dinsdag 29 Oktober 2019

Angs of vrees?

My grootste vrees is, om nie wakker te word nie na die elfuur lange operasie. Die lengte van die operasie maak die risiko dat iets verkeerd kan loop net soveel groter, maar terseldertyd weet ek dat ek tyd gehad het om myself voor te berei en my familie te groet. Soveel keer het ek in my lewe gesien waar iemand net skielik weggeneem is deur 'n motorongeluk of een of ander frats ongeluk of moord. Dis baie hard vir hul geliefdes wat agterbly. Hul het geen afsluiting gehad nie, geen afskeid. Dit is wreed en baie hard om te verwerk.

Ek besef nou net hoe sterk die instink om te lewe is. Depressie vat daardie instink weg. Die feit dat ek so graag wil leef, sê vir my dat ek nie depressief is nie, net bang vir wat voorlê. Aan die eenkant wil ek dit verby hê, want die pyn in my mond maak my mal en ek kan nie eet nie. My mond is hipersensitief en kos gaan in die kankerseer in of in die wonde waar my tande uitgetrek is. Aan die anderkant wens ek die tyd om in die teater te gaan wil nooit kom nie of na die ekstreem, wens ek dit het nooit op my pad gekom nie. Ek weet egter die kanker is nou hier en ek moet veg om anderkant uit te kom.

Toe ek deur die depressie gegaan het, het die psigiater by die krisiskliniek (wie se ouers ook baie jare gelede van Suid-Afrika gekom het) vir my gesê, ek probeer te hard om uit die depressie te kom. Hy wou hê, ek moet luister na wat my liggaam sê, ek het myself uitgebrand en ek het rus nodig. Ek kon nie help om te veg nie, wat met my gebeur het, was nie iets wat ek voorheen in my lewe ervaar het nie. Dit het my lam gelaat en al die plesier uit ons lewens gevat, ek kon geen toekoms sien nie, nie vir my, my kinders of Aisling nie. Ek het geweet, ek moet die depressie afskud of doodgaan. 'n Mens kan nie leef sonder 'n toekomsvisie nie óf met angs wat alles oorheers nie.

Wat ek nou ervaar is nie angs nie, dit is 'n vrees vir dit wat vir my voorlê, want ek het geen verwysing van hoe ek dit gaan hanteer nie, gaan ek dieselfde wil hê om dit te veg soos ek die depressie geveg het of gaan ek die instink verloor om te wil leef? Pyn is vernietigend en ses weke se bestraling in my gesig gaan baie pyn veroorsaak. Dit gaan die plesier van eet en gesels van my wegneem. Lag is alreeds pynlik soos ek hier sit. Hoe lank gaan dit vat voor ek dit alles weer kan geniet sonder pyn? Vrae en nog vrae waarvoor ek nie antwoorde het nie, die dokters sê, ses maande tot 'n jaar. Kan ek solank uithou? Vir my klink dit soos 'n martelling!

Maar ek besef, ek is nie alleen nie. Ons buurman, Dave, is pas deur die behandeling  vir prostaatkanker en beplan 'n vakansie in Australia. So daar is lewe na kanker! Allan wat hoër op in die straat woon, stap elke dag met sy hond, Stella, hier verby ons huis. Vandag het Hendrik hom vertel van my ellendes en hy het vir Hendrik gesê,  dat sy vrou dieselde deurgemaak het, meer as vyftien jaar gelede. Haar neus moes weer opgebou word deur middel van plastiese chirurgie. Hy klink sommer baie positief en het my genooi om met haar te kom gesels as ek down in the dumps voel. 

Ek is ook lid van 'n ondersteuningsgroep op Facebook. Almal in die groep het een of ander vorm van kanker van die kop of nek gehad of is besig om deur behandeling te gaan. Die groep beteken vir my baie en beantwoord baie van my vrae en kwellinge. Daar is ook baie inligting wat gedeel word. 'n Mens het hierdie soort ondersteuning nodig waar mense uit ondervinding praat en jou uit die as uit oplig.

Maar ek sien die positiewe raak. Daar is soveel mense wat nou na my uitreik en vir my bid. Die gevoel van verlatenheid was oorweldigend toe ek deur die depressie gegaan het, maar nou is ek omring met mense, van oral oor die wêreld, wat na my uitreik en vir my bid. Wat 'n voorreg!

Maandag 28 Oktober 2019

Ek tel my seëninge

Hendrik  is besig met die waskamer wat hy opgradeer. Hy het die ou sinkwasbak uitgehaal en gaan dit nou buite gebruik. Daar kom dan 'n nuwe wasbak in 'n ander hoek van die waskamer en rakke om meer pakplek te maak. Hendrik gaan ook 'n plankvloer insit. Ons wil later die matte in die huis met dieselfde  plankvloer vervang. Hendrik gaan dus hier begin oefen om te sien hoeveel arbeid dit verg.

Seëning nommer een: Ek weet Hendrik is sterk en hy is my pilaar. Ek weet dit is vir hom net so moeilik as vir my dat ons weer deur nog 'n episode van kanker moet gaan. 'n Mens kan nie help om te vra, hoekom hierdie goed met ons gebeur nie? Ons het nie antwoorde nie, maar ons weet dat ons die pad weer saam sal stap, maak nie saak hoe moeilik dit gaan wees nie.

Woensdag het Aisling vir ons kom kuier en die nag hier oorgeslaap. Dis soveel pret om haar hier te hê! Sy gaan slaap altyd in haar eie bed ('n opblaasmatras met Peppa pig beddegoed) in haar eie kamer, wat nog dieselfde is van die tyd toe sy en Rialeen vir ses maande hier by ons gewoon het. Ons mag niks in haar kamer verander nie, dit ontstel haar baie. Wanneer sy hier slaap, weet ek al, enige tyd na middernag hoor ek altyd 'n stemmetjie langs my bed: "Ouma... Ouma,  I'm a little bit scared of the dark", dan klim sy by ons in die bed en slaap die drie van ons plus Kattes vir die res van die nag saam in een bed.
Ons twee vol haasstreke met my nuwe tablet
Seëning nommer twee: Aisling is so 'n soet kind. Dis net 'n plesier om haar hier te hê en sy is so geheg aan my en Hendrik. Sy kerm by haar ma om hier te kom oorslaap en ons bederf haar met sjokolade of roomys nadat sy haar aandete opgeëet het. Soms gaan ons hot cakes by McDonald's eet in die oggend, dan kry sy 'n boksie met 'n speelding in. Haar pa verpes Amerikaanse besighede en wil hul nie ondersteun nie, maar ons mag haar maar bederf. Dis waarvoor sy  'n ouma en oupa het.

Woensdag 23 Oktober 2019

Een maand na diagnose

Vandag 'n maand gelede het ons ingegaan stad toe om ons Suid-Afrikaanse paspoorte te hernu. Na ons besoek aan die konselaat het ek 'n afspraak gehad met Dr. Barry Geldenhuys. Ek het toe al geweet die oopseer in my mond is kanker, maar dit moes bevestig word deur 'n biopsie en bloedtoetse. 'n Mens hoop maar altyd vir die beste, maar Barry het net een kyk gegee en bevestig wat my huisdokter  reeds gediagnoseer het.

Dit voel soos 'n leeftyd gelede. Daar het so baie in die maand gebeur; biopsie, bloedtoetse, CT scan, twee besoeke aan die Oor-, Neus- en Keelarts, dunnaald aspirasie van limfklier, MRI scan, die ontmoeting van die paneel dokters, tandarts besoeke, x-strale, ontmoeting en gesprekke met die 'Cancer Nurse Coordinator', psigiater gesien, gesprekke met die 'Mental Health  Nurse' en 'n datum gekry wanneer ek geopereer gaan word. Laas Vrydag het ek die nuus gekry dat hul Maandag vier van my tande gaan uittrek en nou ja, nou is dit Dinsdag en hier sit ek met 'n mond vol tande, minus vier.


Gelukkig het ek nie 'n groot bek nie 😁en is die opening nie te sigbaar nie. Hul kan dit hopelik later met 'n paar kunstande vervang, maar dit sal ek eers in agtien maande weet. Dit is seer en ek kan nie eet nie. Ek het so hard probeer om soveel as moontlik te eet sodat ek nie gewig verloor voor die operasie nie, maar die tande was 'n skerm tussen die kos en die seer. Nou gaan alles wat ek eet in die seer in of dit brand die hel uit my uit😫

Nog nege nagte voor ek sewe-uur die oggend in sal gaan hospitaal toe. Eintlik het die tyd baie vinnig verby gegaan. Ek het deur tye van apatie gegaan en dan weer vrees wat my in sweet laat uitslaan. Ek was vreeslik bang vir die dag wat die tande uitgetrek moes word, maar almal se gebede het my sterk gemaak. Barry het gekerm en gekla terwyl hy my tande uitgetrek het en gesê  dis die laaste keer wat hy iemand se tande uittrek, maar hy is 'n warm mens wat my gemaklik laat voel. Hoewel die derde tand afgebreek het en dit 'n gesukkel was om dit uit te kry, het ek baie kalm deur die hele episode gegaan. Dit het my moed gegee vir wat voorlê. Daar is 'n rustigheid oor my en ek weet nie of dit 'n goeie ding is nie of is dit die stilte voor die storm.

Sondag 20 Oktober 2019

Die wreedheid van kanker

My woorde het skielik verdwyn. Daar is 'n stilte wat oor my gekom het soos 'n dier wat na die slagpale gelei word. Ek het nie antwoorde vir al die vrae wat deur my gedagtes gaan nie, maar as ek voor die slimmense sit en hulle vra my of ek vrae het, kom niks oor my lippe nie. Al die antwoorde in die wêreld kan nie hierdie beker van my wegvat of my voorberei vir wat ek sal moet deurgaan nie. My mental health nurse het gesê, ek moet nou ophou lees oor kanker en begin fokus op ander aktiwiteite wat my sal help om te ontspan en die oomblik te geniet. Ek moet leer om vir die oomblik te leef, want ek weet nie regtig wat die toekoms gaan inhou nie.

As mens so met die dood gekonfronteer word, begin jy outomaties reflekteer op die verlede. Jou hoop is op die toekoms, maar jy wonder wat jy anders kon gedoen het met dit wat op jou lewenspad gebring is. Het jy hard genoeg probeer?  Het jy die regte besluite geneem? Het jy 'n impak gemaak op die lewens van jou geliefdes of die mense waarmee jy in kontak gekom het deur die jare?

As jy krities soos ek is, is daar baie dinge wat jy weet jy kon anders gedoen het, maar dis nou verby en ek kan dit nie verander nie, maar as die Here my spaar, sal ek harder probeer in die toekoms en probeer om dit beter te doen. Ek is nou 'n nuwe persoon wat onder die skadu van kanker gaan lewe vir die res van my tyd hier op aarde.

Een ding waaroor ek nie spyt is nie, is dat ek die stap geneem het om na New Zealand te kom. Ek het soveel dinge geleer hier wat my lewe so verryk het. Om elke dag in hierdie asemrowende natuurskoon te leef, is 'n geweldige voorreg. Hierdie rustige lewe sonder vrees vir mens se veiligheid, is onbeskryflik. Die stadiger pas van die lewe hier in Wellington pas my goed. 

Ek is nog steeds dieselfde mens, maar my lewe is soveel ryker. Die lewe hier het my so verander dat ek nooit weer in Suid-Afrika kan leef nie. 'n Mens raak gewoond aan die ordelikheid van almal om jou, waar meeste mense reëls en wette gehoorsaam. Waar jy weet jy gaan elektrisiteit hê om aandete te kook en jouself warm te hou in die winter. Waar daar altyd water in die kraan is en dis skoon en suiwer genoeg om te drink. Waar jou lewe nog waarde het en die gedagte dat iemand 'n mes deur jou hart kan steek omdat jou selfoon vir hom 'n ete kan koop, nooit in jou gedagte opkom nie.

Môre is die groot dag wanneer vier tande uitgetrek gaan word, agter in my onderste kaak waar die kanker is. Dit gaan deur die mondchirurg gedoen word wat die biopsie op die mondseer gedoen het, Dr. Barry Geldenhuys. Dis definitief nie iets waarna ek uitsien nie. Ek het gehoop dat dit onder narkose sou gebeur op die dag van die operasie, maar die operasie gaan elf ure of langer duur. Dit is dus beter om dit voor die tyd te doen.

Die biopsie wat Dr. Geldenhuys  laat doen het, het aangetoon dat die oopseer in my mond positief toets vir squamous cell carcinoma. Dit is bevestig deur 'n CT en MRI scan wat gevolg het. Daar is ook limfkliere gevind, een vlak 1B, een vlak 1A en 'n vlak 2A (vir die met mediese kennis). Daar is ook 'n limfklier met 'n deursnit van 6mm wat net onder die vel is. Dis die een wat sigbaar is waar my gesig geswel is. 'n Dunnaald aspirasie (biopsie) is op die limfklier gedoen en die resultate toon dat dit kanker is. Wat impliseer dat die kanker in die seer in my mond, besig is om te versprei.

Vrydag het ek die tandarts ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir die nasorg van my tande. Bestraling doen baie skade aan 'n mens se tande en goeie nasorg is dus baie belangrik. 'n Dieetkundige en spraakterapeut maak ook deel uit van die span wat verantwoordelik sal wees vir my rehabilitasisie, aangesien ek nie sal kan eet vir 'n langtyd nie. Ek gaan dus hulp nodig hê van die spraakterapeut om my te help om weer te kan sluk en 'n dieetkundige om toe te sien dat ek die nodige voedingstowwe inkry deur middel van smoothies, sop en ander brousels en drankies. Ek mag ook spraakterapie kry om my te help om weer verstaanbaar te praat.

Dis nou my lot kortliks opgesom. Ek is dankbaar ons is hier in New Zealand.  Al hierdie doktersbesoeke, toetse, chirurgie en nasorg, gaan ons nie 'n sent kos nie. Ek weet dat my lot in die hande is van dié beste dokters in die wêreld en dit help my om in die nag te kan slaap terwyl ek hierdie donkertyd in my lewe inwag.

Sondag 13 Oktober 2019

My geduld word beproef

Dit verg baie geduld om te wag! Ek het my tas al gepak die dag toe ons die spesialist gesien het en hy vir my die uitslae van die toetse gegee het😊. Hoe naïef was ek! Ek het gedink hul gaan my dadelik opneem in die hospitaal en opereer, maar nee... Gelukkig  het ek nou 'n datum, 31 Oktober 2019, moet ek sewe-uur die oggend by hospitaal wees. Twee weke voor dit sal ek die verpleegsuster en narkotiseer, wat verantwoordelik sal wees vir my in die teater, sien vir 'n 'surgical pre assessment'.

Intussen gaan die lewe aan soos altyd. Ek het besluit om nie meer te werk nie en het almal laat weet van my diagnose en dat ek hul moontlik weer sal sien wanneer ek gesond genoeg is en instaat sal wees om vir 'n paar ure op 'n dag te werk. Ek kry elke kort-kort spyt dat ek dit gedoen het, maar alledaagse uitstappies na die supermark of dokters maak my regtig moeg. Ek weet nie of ek meer die energie het om te kan werk nie, maar die ergste is wanneer daardie angs my oorval, 'n vrees vir die onbekende. Maak nie saak hoeveel ek lees oor my lot nie, ek weet nie hoe ek dit gaan ervaar nie. Gaan ek dapper genoeg wees? Dis nie die pyn of letsels wat my vrees is nie, dis die vrees om in 'n toestand van depressie te beland. Depressie is 'n doodsvonnis. Dis wat jou weerhou om te veg om anderkant uit te kom.

Ek wil nie hê  Hendrik  moet ophou met die restoreer werk hier by die huis nie. Die waskamer is halfpad klaar. Vandag  het ons vloerplanke gaan koop wat ons daar wil insit. Hendrik  moet homself besig hou anders gaan die stres hom onderkry. Hy's my rots, hy moet terwille van my sterk bly, soos ek vir hom sterk gebly het toe hy gediagnoseer was en deur sy behandeling vir kolonkanker gegaan het. Dit het my ongelukkig na 4 jaar ingehaal en depressie  het amper my dood veroorsaak.

Ons praat deesdae weer baie oor sy kanker, maar dis anders. Wat vir my voorlê is nie dieselfde as wat hy deurgemaak het nie. Daar is ander obstacles wat oorkom moet word, maar dat Hendrik gesond anderkant uitgekom het, gee my moed. Ek weet almal se gebede dra my deur hierdie moeilk tyd.

Ons huisdokter het van die begin af gesê, ek moet probeer  om nie gewig te verloor voor die operasie nie, want ek gaan vir lank nie kan eet nie tydens die behandeling. Ek volg 'n ondersteuningsgroep op facebook, Head and Neck Cancer Support Group. Volgens wat ek daar lees kan ek tot twintig kilogram verloor na die operasie. Hul moedig mense in my possie aan om alles te eet wat ek geniet, want ek mag dit moontlik nie gou weer eet nie. Na bestraling proe kos ook nie weer dieselfde  nie. Ek verkies om gesond te eet, want ek hou baie van groente en vrugte. Deesdae laat ek myself meer botter, volroom melk en yoghurt, kaas, neute, grondboontjiebotter en allerlei lekkernye toe. Ek voel nie skuldig om myself te bederf met sjokolade, liquorice, roomys of nougat nie. 

Vanaf die diagnose het ek nog nie gewig verloor nie en ek is dankbaar vir dit. Ek lyk dus nie siek nie. Behalwe vir die swelling onder my kakebeen, maar ek is moeg en my mond is seer en dit is alreeds moeilik om te kou en verkies ek om sagter kossoorte te eet. Nog agttien dae voor ek hospitaal toe gaan. Ek wil dit net so gou as moontlik  agter my plaas en met nuwe oë en groter wysheid na die toekoms kyk.

Sondag 06 Oktober 2019

My lot in bekwame hande

Daar gaan soveel gedagtes deur my kop en ek wil skryf solank ek kan. As ek hospitaal toe gaan, mag daar 'n lang tyd verloop wat ek fisies nie instaat mag wees om te skryf nie of emosioneel so oorweldig mag wees dat ek nie wil skryf nie. My gedagtes dwaal en ek voltooi nie gedagte lynne wat ek begin het nie. Ek wou meer vertel van my besoek Donderdag aan Wellington Hospitaal waar ek die dokters ontmoet het wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling, maar ek het nooit daarby uitgekom nie.

Die goeie nuus is, dat hul my gaan opereer hier by die Hutt Hospitaal, om die draai van waar ons woon. Dit beteken Hendrik en Rialeen hoef nie in te sukkel stad toe om my te besoek nie. Verkeer en parkering is altyd 'n probleem en natuurlik die tyd wat hul op die pad sou moes spandeer word verminder. Ek gaan sewe tot tien dae in die hospitaal wees. Die slegte nuus is natuurlik dat die operasie eers oor 'n maand gaan gebeur en ek is nie goed met wag nie.

Elke dokter het aan my verduidelik wat sy aandeel in my behandeling sal wees. Al die dokters lyk baie bekwaam en empaties, maar praat prontuit dat dit 'n moeilike pad is vir my en my gesin wat voorlê. Daar is in detail beskryf wat in die teater met my sal gebeur om die kanker te verwyder en weer my gesig te probeer herstel tot wat dit was voor die kanker. Dan is daar ses weke se bestraling van Maandag tot Vrydag. Ek sal plusminus 25 minute elke dag by die hospitaal spandeer, naweke sal ek rus. Hul voorspel 'n herstel tyd van ses maande tot 'n jaar en ek sal moontlik nie  kan werk gedurende daardie tyd nie.

Hopelik sal my drie, moontlik vier tande getrek word terwyl ek onder narkose is en nie voor die tyd nie. Hul sal 'n tracheostomy maak om deur asem te haal, want my mond mag in so 'n mate swel dat ek nie kan asemhaal deur die normale kanale nie. Dan is daar twee plastiese chirurge wat 'n maraton operasie gaan doen, wat tot elfure lank kan duur, om die kanker uit my wang en moontlik kakebeen te sny. 'n Snit sal deur my onderlip gemaak word om hul instaat te stel om by die geaffekteerde dele uit te kom. Die limfklier onder my kaak sal verwyder word deur 'n snit in my nek.

Daarna sal spierweefsel uit my linker voorarm gevat word om die plekke waar weefsel verwyder is, weer op te vul en my gesig te herstel (hopelik mooier en jeugdiger😉) soos dit was voor dié slagting. Jippie! Iets om na uit te sien, dalk die einde van my dubbelken😜Grapies op 'n stokkie, ek gaan vir 'n lang tyd nie kan eet nie  (miskien is ek gelukkig om my doelgewig uiteindelik te bereik🤔). Smoothies en sop is wat my aan die lewe gaan hou. As ek ydel genoeg is, kan daar implantate gedoen word om die tande te vervang wat uitgetrek gaan word, maar dit sal eers gebeur sodra ek ten volle herstel het.Soos jul op die foto's kan sien, sit die aangetasde limfklier soos 'n albaster onder my kakebeen aan die linkerkant.


Die onderste foto is 'n selfie wat ek in die spieël geneem het. Dit lyk dus of die swelling aan my regterkant is.

Vrydag was ek weer by die radioloë en daar was weereens 'n Engelsprekende Suid-Afrikaanse dokter wat 'n biopsie geneem het van die limfklier. Ek het my voorgestel, hy gaan 'n naald insteek en vog daar uittrek, maar nee, dit was 'n uurlange prosedure. Soos hy verduidelik het is die inhoud van die limfklier solied en hy moet probeer om genoeg selle uit te trek sodat die toets suksesvol gedoen kan word. 

Eers moes hy 'n ultraklank doen om die presiese posisie van die klier te kry, dan verdoof met twee inspuitings en daarna is die selle versigtig verwyder met die hulp van 'n dun naald en die ultraklank byderhand om te sien waar die naald gaan. Hy moes vierkeer met die naald ingaan om genoeg selle te kry. Vandag sit ek natuurlik nie net met 'n albaster onder my kaak nie, maar ook 'n yslike bloukol☹.

Maandagoggend is dit weer 'n MRI skandering. Dis ook 'n nuwe ervaring. My liggaam is nou in die hande van professionele mense en ek volg net die instruksies, praat nie teë nie en bid om anderkant gesond uit te kom.

Saterdag 05 Oktober 2019

Kanker is 'n bitch!

'n Mens kan net dankbaar wees dat jy nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek het vandag die dokters ontmoet wat verantwoordelik sal wees vir my behandeling; 'n tandarts, twee plastiese chirurge, 'n onkoloog en die radioloog wat verantwoordelik sal wees vir die bestraling en moontlik chemo. Al die prosedures is met ons bespreek en hul steek nie weg dat dit 'n helse gebeure is wat ek sal moet deurmaak nie. Ek kan my indink as hul dit beskryf, maar dit is net in my verbeelding. Die realiteit daarvan gaan ek eers oor 'n maand aan my lyf voel.

Ja, 'n maand! Ek moet 'n maand wag voor ek teater toe gaan. Die gewag is angswekkend, maar ek vertrou dat ek in goeie hande sal wees. Intussen moet nog toetse gedoen word. Môre gaan ek vir 'n biopsie van die knoop of limfklier onder my kaak en Maandag is dit 'n MRI scan.

Vandag het ek die tandarts by Wellington Hospitaal gesien. Hy het x-strale van my kaak geneem en my tande ondersoek. Hul gaan 3 of 4 tande moet uittrek voor die chirurgie gedoen gaan word om die kanker te verwyder. Hy sê die bestraling kan die ander tande beïnvloed en ek moet dus vir die res van my lewe 'n spesiale soort tandepaste gebruik wat baie hoog is in floried. Ek gaan ook sukkel met 'n droë mond waarvoor ek ook spesiale produkte moet gebruik om speekselafskeiding aan te moedig.

Dis die begin van allerlei veranderinge wat sal moet plaasvind in my lewe. Het ek 'n keuse? Wel, miskien kan ek sê; nee, ek wil nie operasie ondergaan nie, dan wag ek dat  die kanker my opeëet. Dit lyk dus nie of ek juis veel van 'n keuse het nie. Dis op my pad gebring en ek moet nou maar daardeur gaan. 

Ek hoop net ek kom heel aan die anderkant uit, fisies en emosioneel intakt. Die groot ding is, dis in my gesig, ek kan dit nie onder klere wegsteek nie. Ek mag dalk nooit weer dieselfde lyk nie. Ek gaan elke oggend, in die spieël, in hierdie vreemde gesig vaskyk. Almal wat vir my lief is gaan in die vreemde gesig moet vaskyk. Gaan ek nog dieselfde mens wees? Hoe gaan hierdie ervaring my verander asook my persepsie van die lewe beïnvloed? Gaan die dieptes van depressie my weer oorval? Ek wil nie eens daaroor dink nie. Ek wil dit nie nou weet nie, die toekoms sal my leer.

Ek is baie kalm, miskien té kalm. Ek weet ek kan dit doen. Baie mense bid vir my en dit gee my die krag om staande te bly. Ek is dankbaar dat ek nie op my eie krag hoef staat te maak nie, want ek weet ek is te swak op my eie. Baie mense verloor hul geloof as hul of hul geliefdes deur pyn of lyding gaan, vir my het dit nog altyd net nader aan my God gebring. Daarvoor is ek baie dankbaar!

Hier is 'n paar gelukkige foto's van my, geneem oor die laaste agt en 'n half jaar. Miskien sien ek myself nooit weer só gelukkig nie of wil ek nie dat enige iemand 'n foto van my neem nie omdat ek my gesig wil wegsteek. Ek moet net vertrou dat die dokters weet wat hul doen en dat ek beeldskoon gaan wees teen die tyd wat ek herstel het.

Maar een ding staan uit bo alles, kanker is 'n bitch! Elkeen van ons vrees die dag wat ons haar moontlik gaan ontmoet.







New Zealand vs Suid-Afrika

Dis nou al meer as agt en 'n half jaar wat ons hier in Wellington woon. As mens so lank in 'n ander land woon, het jy nie meer 'n verwysing van hoe jou lewe sou afgespeel in jou geboorte land nie. Dit kon dalk baie beter gewees het om omring te wees deur ons geliefdes en sonder die verlange na hulle. Dit sou vir ons moontlik gewees het om dié wat siek geword het of dié wat geliefdes verloor het, te ondersteun met ons teenwoordigheid. Hoe sal ons weet? Dit kon 'n tyd gewees het waarin elkeen van ons maar net aangegaan met ons eie lewe en ons geliefdes in elkgeval maar net hul eie lewens gelei het. Ons kon misdaad en geweld aan ons lyf gevoel het. Ons moes dalk ons eiendom verkoop om Hendrik se kankerbehandeling te kon bekostig. 

Hendrik sou daar ook sonder werk gewees het, want daar was verwag van die witmans bo 55 jaar ouderdom, om op vroeë pensioen te gaan of 'n pakket te vat en dis wat Hendrik gedoen het. Die kans om weer 'n werk te kon kry in Pretoria omgewing, was maar dieselfde as om hier 'n werk te kry. Die verskil is net, ons sou nie in Suid-Afrika op my inkomste alleen kon lewe nie.

Aangesien ons dit nie weet hoe ons lewens sou wees in Suid-Afrika nie, kan ek net praat oor die realiteite van hoe ons lewens verloop het hier in New Zealand. Baie dinge het verkeerd verloop, maar niks van dit het ons ooit laat besluit om terug te gaan Suid-Afrika toe nie, want dit was die soort goed wat daar ook oor ons pad kon kom. Die enigste tyd wat ek getwyfel het oor ons besluit om hierheen te kom, was toe ek in die dieptes van depressie ingetrek was, maar die oomblik wat ek daaruit gekom het, het ek weer die seëninge getel wat ons in New Zealand beleef.

Toe ons Suid-Afrika verlaat het was Sulet getroud. Sy het 'n buitengewone verhouding met haar skoonma gehad en goed met die res van die familie oor die weggekom. Ons het geweet sy sou dit kon bekostig om gereeld te kom kuier. Die huwelik het ongelukkig nie lank gehou nie. Dit was een van die eerste terugslae wat op ons pad gekom het. Dis 'n intense verlies om deur te maak. In die sewe jaar wat Sulet en Philip saam was, het Hendrik vir Philip lief geword soos sy eie seun.

Daarna is Hendrik deur die kankerepisode, Sulet het deur 'n intense rou periode gegaan na die egskeiding wat gepaard gegaan het met die outo-immuunsiekte, Ulcerative Colitis, wat haar by die dood laat omdraai het. Gedurende die tyd het ons huisdokter my op 'n hoë dosis Escitalopram (antidepressant) gesit om my te help om daagliks by die werk op te daag en my deel te doen. My inkomste was ons enigste inkomste. Dit het baie stres op my geplaas.

In Augusus 2016 breek ek die vyfde metatarsal beentjie in my linkervoet na kerk by die Michael Fowler Sentrum in Wellingtonstad. Ek het 'n klein trappie misgetrap, maar dit lei tot nog 'n stresvolle episode van lang periodes weg van die werk. ACC betaal tagtig persent van my inkomste terwyl ek nie werk nie, maar ons het pas in ons eie huis ingetrek en het my volle inkomste nodig om te oorleef.

Dit is nie die einde van al die ellendes nie. Vier van Aisling se voortande moet onder narkose getrek word nadat sy geval het, haar mond gestamp het en van die tande gebreek het. Die tandarts was van mening dat daar reeds tandverroting in die tande was. Hoekom sal ons nie weet nie. Sy was net twee jaar oud, Rialeen het haar nog geborsvoed en  Aisling is nie toegelaat om soetgoed te eet nie. Die hele episode het soveel spanning op Rialeen en Tim se verhouding gebring dat sy en Aisling vir ses maande hier by ons kom intrek het. (Sy in Tim is weer versoen en is gelukkig saam vir die laaste twee jaar.)

Die gebruik van Escitalopram het my op 'n pad gesit wat geen mens kon voorspel nie. Ek weet nie of dit anders sou afgespeel het as ek nooit die medikasie begin gebruik het nie. Miskien sou ek net gouer in die donkergat beland het as gevolg van alles wat besig was om te gebeur in ons lewens. Ons het geen kontrole oor dit gehad nie. Dit was uit ons hande, maar ons was gelukkig hier in New Zealand. Dit was nou ons tuiste.


Aisling is goed voorberei vir die teater. Hier speel sy met die masker sodat sy nie skrik as dit op haar gesig geplaas word nie.